Montana-inwoners warm onder die kraag oor verval by poskantoor
Samesprekings met die Suid-Afrikaanse Poskantoor, die eienaars van ’n winkelsentrum in Babiana-straat en ’n petrolmaatskappy, is een van die oplossings vir ’n brandpunt in Montana.
Samesprekings met die Suid-Afrikaanse Poskantoor, die eienaars van ’n winkelsentrum in Babiana-straat en ’n petrolmaatskappy, is een van die oplossings vir ’n brandpunt in Montana.
Die oplossing is aan die hand gedoen tydens ’n oorsigbesoek van die burgemeester, Cilliers Brink, aan die einste poskantoor.
Inwoners van wyk 5 het op 20 Julie by die poskantoorterrein bymekaar gekom om probleme rondom die terrein aan die burgemeester uit te lig.
Inwoners van Babiana-, Watsonia- en Serissastrate is warm onder die kraag oor beweerde dwelmhandelbedrywighede en die algehele verval rondom die poskantoorterrein sowel as onhigiëniese toestande.
Laasgenoemde het glo tot ’n rotteplaag gelei.
Inwoner Elandro Viljoen het geen hoop of vertroue dat sulke samesprekings sal slaag nie.
“Geskiedenis het dit al oor en oor bewys. Elke keer is daar ’n groot geraas hierrondom. Dan loop alles dood soos altyd.”
Hy woon reg oorkant die terrein en het vele videos sowel as foto-bewyse van brande en dronkmanspartytjies op die terrein.
Viljoen het die burgemeester se besoek op prys gestel.
“Ek is baie bly dat die burgemeester uiteindelik by ons uitgekom het. Ons sukkel al vier jaar onder hierdie omstandighede. My respek vir hom het beslis vermeerder,” sê Viljoen.
’n Eiendomsagent van die omgewing, Marisa da Sousa, sê bemarking van eiendomme in die omgewing word bemoeilik deur die vervalle voorkoms van die omgewing rondom die poskantoor.
By die vulstasie langsaan die poskantoor word daar ook tans verbouings aangebring.
Die terrein is afgekamp, maar word deur bosslapers gebruik.
“Die veiligheid van ons kinders is op die spel. Ons kan nie meer toelaat dat hulle hier verbyry op fietse skool toe nie,” sê Da Sousa.
Brink het daarop gewys dat die stadsraad geen seggenskap oor die poskantoorterrein besit nie.
As sulks is die stadsraad se uitvoerende gesag daarrondom beperk.
Hy het wel onderneem om samesprekings tussen rolspelers te fasiliteer indien nodig.
Hy het ook aangebied om sy invloed as stadsleier te gebruik om tydens onderhandelings ’n beter bedeling vir inwoners te bewerkstellig.
“Ons moet net bewus wees die poskantoor se swak finansiële posisie speel ook ’n rol,” sê Brink.
’n Inwoner van Babianastraat, Johan Grové, werk al vir vier jaar onverpoosd om die omgewing misdaadvry te hou.
“Aanmelding by wets- en welsynsagentskappe in Montana help nie. Ons is moeg van leë beloftes wat daarop volg.”
Billy Theunissen, ’n inwoner wat reeds 43 jaar in die omgewing woon, het die burgemeester aangedaan vir sy besoek bedank.
“Ek kan nie meer veilig kerk toe stap nie. Maar u besoek hier vandag, gee my weer hoop.”
Die Suid-Afrikaanse Poskantoor is om kommentaar genader maar by die ter perse gaan is geen ontvang nie.
ALSO READ: Suspects arrested in Garsfontein for human trafficking
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
