Juanita du Plessis se eerste enkelsnit in drie jaar is hier
TikTokker-beïnvloeders het energiek gedans op Juanita du Plessis se pas vrygestelde enkelsnit, 'Liewe Jinne' by 'n Bosveldluisterpartytjie. En die geliefde ster kon hulle 'n ding of twee wys wanneer dit by tik-tik en tok-tok op die dansvloer kom.
Afrikaanse musiek- en dansliefhebbers kan maar solank hul dansstewels begin blink vryf. En die TikTokkers kan hul selfone op die video en statusopdaterings instel.
Juanita du Plessis se eerste enkelsnit in drie jaar “Liewe Jinne” plaas die gewilde en geliefde sanger van Pretoria-Oos vierkantig in die TikTok-generasie.
Die enkelsnit is op 23 Augustus op ’n luisterpartytjie in die bos by Simbali-reservaat gevier.
TikTokkers van ver en naby het saam met haar die geleentheid kom vier om inhoud te skep vir hul TikTok-rekeninge.
ENKELSNIT VIR DIE TIKTOK-GENERASIE
Die TikToktroppie het gedans dat die Bosveldbiesies bewe.
Die lenig geboude sanger in haar denim en sneakers het glad nie agteruit gestaan vir die goed gegrimeerde dansers in hul spykerhakke nie.
Inteendeel, as dit by dans kom, kan die TikTokkers in hul oopskouerrokke by Du Plessis leer hoe om hul heupe te swaai!
“Ek het vir drie jaar geen nuwe musiek na die mark gebring nie. Ek het besluit om wel my terugkeer met oemf te maak,” sê Du Plessis.
Die enkelsnit word vergesel deur ’n video waarin die eg Suid-Afrikaanse kleremaatskappy, Boerboel, se bekende karakters elkeen vir Juanita teëkom.
Uit verbasing skree hulle dan: “Liewe Jinne!”.
Van die skreensnaakse karakter Tant Kotie tot Matie se dogter is skoon uit hul kassie om te besef ’n glanspersoonlikheid is in hul midde.

ALBUM DALK VOLGENDE JAAR UIT
Du Plessis sê sy moet nou ook daaraan gewoond raak aan die nuwe mode: om eers enkelsnitte vir veral die speellyste van musiekstroomdienste vry te stel.
“Maar ek bly glo aan ’n album en werk daaraan om volgende jaar ’n album met agt of nege liedjies vry te stel,” vertel sy met ’n vonkel in haar oog oor dié vooruitsig.
Die ligte en vrolike aanslag van die liedjie “Liewe Jinne” het sy vooraf op besluit.
“Met die skryf van die liedjie het ek besef almal van ons was deur die een of ander krisis die afgelope drie jaar. Ek wou ’n liedjie skryf wat mense weer wil laat glimlag. Ek sal later weer by die ernstiger liedjies kom,” verduidelik Du Plessis.
Haar man, Doepie, het ook in sy bedankings aan die produksiespan vertel van die besluit dat “Juanita iets anders moes doen”.
Hy verwag die enkelsnit en video sal “loop soos stroop”.
LIED IS FAMILIE SPANPOGING
Die liedjie en video was soos dikwels met die Du Plessis-familie ’n spanpoging. Haar seun, Roan Ash, en dogter, Franja, is deur hul ma bedank vir hul opbouende kritiek en studiowerk.
Haar samewerking met Boerboel het ook nuwe byt in haar video gesit. Du Plessis is ’n heel geloofwaardige akteur in die video se storielyn.
Van die groter-as-die-lewe karakters in die kleremaatskappy se pittige en spitsvondige advertensies het ook die luisterpartytjie bygewoon.
Die fris karakters van die knapie-saamsingtrio het saam met Du Plessis en die TikTokkers hul beste dansvoete in die kenmerkende Boerboel-knypkortbroeke voor gesit.
KYK DIE MUSIEKVIDEO
Stephan Hugo, eienaar en bemarkingsbestuurder van die Boerboel-klerehandelsmerk, sê Du Plessis se vertolking en haar spel as akteur in die video het die byspelers energie gegee.
Die tema draai rondom Du Plessis wat in ’n motor uit die sestigerjare vasval op ’n pad in die platteland en hulp soek om by ’n sokkie uit te kom.
“Ek wens ek het die liedjie geskryf,” sê Hugo. “Dit dui net weer op haar veelsydigheid as kunstenaar. Van die liedjie ‘Vlieg hoog’ tot hierdie op-en-wakker prettige liedjie. Dis asof sy nie weet dat die kameras het gerol nie!”


Kliek hier om die video van “Liewe Jinne” te sien:
*Neem asseblief kennis dat die artikel gewysig is
LEES OOK: Meer as 37 000 teken petisie om Dinokeng-leeus te red
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
