Pretoria-oos teater vier 15 jaar glansryk
Charl du Plessis het spesiaal vir die teater se 15de bestaansjaarviering die My Favourite Things-vertoning opgevoer. Die bestuur het teruggekyk op die teater se ontstaan, groei, uitdagings tydens Covid-19 en ambisieuse planne vir die toekoms van Suid-Afrikaanse uitvoerende kunste.
Die Fairtree Atterbury Teater in Pretoria-oos het sy 15de bestaansjaar op 18 Mei met styl gevier toe die bekende pianis Charl du Plessis gehore vermaak het met sy My Favourite Things-vertoning.
Die vertoning was ’n persoonlike reis deur klassieke musiek en jazz wat die teater se liefde vir uitnemende musiek en kunstenaarskap perfek weerspieël het.
Du Plessis se virtuositeit is weer eens bewys toe hy spontaan musiekstukke gespeel het wat die gehoor aan die hand gedoen het as hul gunstelinge en wat hy op geheue gespeel het.

Dit was ’n heerlike musikale verjaarsdaggeskenk om te deel vir gesoute teatergangers en klaviermusiekliefhebbers.
Wat in 2011 begin het as ’n droom om ’n wêreldklasruimte vir Suid-Afrikaanse kunstenaars te skep, het oor anderhalf dekade ontwikkel tot een van die land se belangrikste onafhanklike teaters. Die teater spog met meer as 4 100 produksies, funksies en geleenthede wat reeds aangebied is en meer as 1.2 miljoen besoekers wat deur die deure gestap het.
Die aand was nie net ’n viering van die teater se geskiedenis nie, maar ook van die mense en vennote wat dit moontlik gemaak het.

Matthys Maree, direkteur van die Fairtree Atterbury Teater, het tydens die viering teruggedink aan die vroeë dae van die projek toe die teater nog ’n bouperseel was.
“Ek onthou hoe ek en Coenie de Villiers nog deur die bourommel gestap het voor die eerste vertoning. Ons het tussen sement, stof en staal probeer voorstel hoe hierdie plek eendag gaan lyk wanneer dit vol mense en musiek is,” het Maree gesê.
Hy het vertel dat die teater aanvanklik met ’n Yamaha-klavier begin het, maar dat die aankoop van ’n splinternuwe Steinway & Sons Model C-vleuelklavier in 2019 ’n groot mylpaal vir die teaterbestuur was.
“Ons het klein begin, maar altyd groot gedroom. Vandag staan hier ’n ikoniese klavier op die verhoog en kunstenaars van wêreldgehalte tree daarop op. Dit wys wat moontlik is as mens in kuns en kultuur belê.”
Die teater het op 18 Mei 2011 sy deure geopen met die musiekblyspel Stuur groete aan Mannetjies Roux, geskep deur Laurika Rauch en Johan Badenhorst.

Die produksie het vir 24 uitverkoopte vertonings gespeel en onmiddellik gewys dat daar ’n groot behoefte aan kwaliteit Afrikaanse en Suid-Afrikaanse teater bestaan.
Volgens Maree was die idee vir die teater van die begin af deel van die groter visie vir die Lynnwood Bridge-ontwikkeling van die eiendomsgroep, Atterbury.
Atterburygroep-medestigter Louis van der Watt het sterk gevoel dat kunstenaars meer ruimte nodig het om hul werk aan gehore bekend te stel.
Rauch het destyds die gebrek aan beskikbare teaterruimte vir Afrikaanse kunstenaars onder sy aandag gebring.
Daar was talent en daar was gehore, maar nie altyd platforms waar kunstenaars gereeld kon optree nie. Dit het deel geword van die dryfkrag agter die ontwikkeling van die teater.
Die projekspan het selfs Londen se bekende West End besoek om inspirasie te kry vir die ontwerp en funksionaliteit van die nuwe teater.
Die argiteksfirma Studio 3 Architects International het uiteindelik ’n moderne ruimte ontwerp wat later selfs bekroon is vir die innoverende plafonontwerp.
Maree het gesê die afgelope 15 jaar het talle lesse gebring, maar dat die belangrikste een was om verbeeldingryk te droom.
“Om iets sinvol te vermag, moet jy verder as die voor die hand liggende kan sien. Ons vennote, die beleggingsmaatskappy van die Wes-Kaap, Fairtree, verstaan dit ook. Hulle verstaan dat ’n teater nie net ’n gebou is nie, maar ’n plek waar gemeenskappe, kultuur en mense bymekaar kom.”
Die teater het in 2024 amptelik hande gevat met Fairtree en staan sedertdien bekend as die Fairtree Atterbury Teater. Volgens Maree het dié vennootskap nuwe moontlikhede geskep vir groei en uitbreiding.
Hy het ook verwys na die verskeie sustersmaatskappye wat oor die jare uit die teater ontstaan het, insluitend die kaartjiebesprekingsplatform Seat Me, wat volgens hom groot planne vir die toekoms het.
“Ons wil in die volgende 15 jaar die grootste kaartjiesbesprekingsplatform in Suid-Afrika wees. Seat Me het vanuit die behoeftes van die teater ontstaan, maar ons glo dit kan baie groter word en die bedryf verander.”
Een van die grootste uitdagings in die teater se geskiedenis was die Covid-19-pandemie toe teaters regoor die land hul deure moes sluit. Maar eerder as om stil te staan, het die bestuur nuwe maniere gevind om gehore te bereik.

Nege-en-dertig stroomkonserte is tydens die grendeltyd aangebied en het nie net kunstenaars aan die werk gehou nie, maar ook nuwe digitale moontlikhede vir die teater oopgemaak.
“Toe mense nie meer na die teater kon kom nie, moes ons na hulle toe gaan,” het Maree gesê.
Hy het gesê die sukses van die stroomkonserte het gewys hoe aanpasbaar die kunste kan wees wanneer mense bereid is om kreatief te dink.
Tydens die viering is ook hulde gebring aan sleutelpersone wat oor die jare ’n groot rol gespeel het in die sukses van die teater.
Paulette Reyneke, wat vir ’n dekade deel van die bestuurspan was, is spesiaal geloof vir haar bydrae om die teater in ’n suksesverhaal te help omskep.

Die teater beskik oor ’n moderne opnamestudio en was reeds betrokke by talle plaaslike en internasionale projekte.
Vir Maree bly die grootste prestasie egter die rol wat die teater speel in die bevordering van Suid-Afrikaanse talent.
“Ons land het ongelooflike kunstenaars. As ons hulle die regte platforms gee, sal hulle altyd gehore vind. Hierdie teater gaan oor mense en hul stories.”
LEES HIER: Hercules-inwoners bevraagteken metro-kragoptrede
– Kliek hier om na Charl du Plessis te luister:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel
