TV-reeks se diagnose verander kinderteaterregisseur se lewe
Toe sy aan ’n TV-reeks rondom gesondheid en gewigsverlies begin deelneem het, kon Lizahn Bester nie voorsien hoe die deelname haar lewe op duisend en een maniere sou verander nie.
In ’n splinternuwe leefstyl- en realiteitsprogram op kykNET gaan ’n deelnemer van Lynnwood kyk of sy ’n totale verandering aan haar lewe kan maak.
Lizahn Bester (35) is een van ses deelnemers in Fiks of Niks. Die vennoot in ’n kinderproduksie-maatskappy, Redhead Productions, is al agt jaar getroud, maar sukkel om swanger te raak.
’n Afspraak by ’n fertiliteitspesialis het gewys sy moet eers gewig verloor voor sy ’n operasie kan ondergaan en daarom het sy besluit om deel van die program te word.
Bester sê kykers kan inskakel om haar reis om gewig vir die operasie te verloor sowel as die prosedure self te volg.
Daar was ook tydens die program ’n verrassende diagnose vir Bester.
“Ek het nooit geweet ek het endometriose nie. Daar is wel ’n paar jaar gelede vasgestel dat ek polistiese ovariumsindroom het. Dit is basies wanneer ’n vrou nie ovuleer nie.”
Bester het medikasie daarvoor ontvang. Eers na verdere toetse en ondersoeke het dr. Johan Markram, konsultant op die Fiks of Niks-program, dadelik ook endometriose gediagnoseer.
“Hy kon ook sien dat die endometriose al siste begin vorm het. Dit was ’n groot teleurstelling om hierdie nuus te ontvang. Maar dinge het skielik meer sin gemaak en die oorsaak van maandelikse onverdraagbare pyn is vasgestel,” sê Bester.

Hierdie diagnose het haar nuwe hoop gegee.
Markram het aanbeveel die sist moet so gou as moontlik deur ’n laparoskopie verwyder word.
Met dié prosedure word ’n ondersoek-instrument deur ’n klein insnyding onder die buikknop onder narkose ingevoeg om die bekkenorgane te ondersoek.
Sy hou vas aan ’n belofte van God wat sy tydens ’n kerkdiens ontvang het.
“In daardie stadium het niemand geweet van ons sukkel om swanger te word of oor die groot begeerte wat ons het om ons eie kindjie te kan vashou nie. Terwyl ons besig was met gebed, het die pastoor ons vorentoe geroep en genoem dat hy ervaar ons graag wil swanger word. Hy het toe saam ons gebid en so het ons profesie ontvang dat ons geseën sal word met ’n swangerskap.”
Sy sê dis dan ook die rede hoekom sy die besluit rondom ’n moontlike operasie geneem het.
Die grootste uitdaging rondom gewigsverlies vir Bester was om die kopskuif te maak en gesonde gewoontes aan te leer en toe te pas.
“As ’n tiener het ek ’n obsessie met my gewig ontwikkel. Dit het gelei na ’n eetversteuring wat op sy beurt weer ander gesondheidsuitdagings opgelewer het.”
Nou draai gesonde keuses vir haar rondom ondersteuning, behandeling, oefening en ’n eetplan.
“Die ondersteuning van die groep mense wat betrokke is by Fiks of Niks het bygedra tot die sukses wat ek tot dusver behaal het. My man Benjamin speel ook ’n groot rol.”

Daar is talle ander ondersteuners vir wie sy verder dankbaar is.
“My ma, Sonja van Zyl is een van my grootste helpers in hierdie proses, nie net met die gewigsverlies nie, maar ook met ons swangerskapreis.”
Bester kom oorspronklik van Tzaneen af. In 2008 het sy die groot stad aangedurf waar sy drama op die Tshwane Universiteit van Tegnologie gestudeer het.
“Pretoria het vir my baie spesiaal geword. Oor die jare het ek die beste vriende hier gemaak, die mees fantastiese vennote gekry en die geleentheid om te doen waaarvoor ek lief is.
“My gunstelingtyd van die jaar is wanneer die jakarandas begin blom. Dit is ook dan my verjaarsdagmaand. Ons verlowingsfoto’s is selfs onder die Jakaranda-bloeisels geneem!”
– Kykers kan inskakel op Fiks of Niks op Sondag, 8 Oktober om 17:30 om meer te sien oor die besluite wat Lizahn Bester moes neem.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
