Huldeblykvertoning aan legendariese Rodriguez vol onvergeetlike oomblikke
Is hierdie huldevertoning aan legendariese musikant Sixto Rodriguez waarlik ’n eerbetoning of net ’n speellys van persoonlike weergawes van sy bekendste liedjies?
Die bittersoet misterie rondom die kultusfiguur en musiekster, Sixto Rodriguez, wat vier dekades na sy eerste album eers in sy geboortestad, Detroit, vir sy bydrae tot folkmusiek vereer is, is grootliks te danke deur die bekendheid wat hy verwerf het nadat ’n Suid-Afrikaanse film oor hom ’n Oscar-toekenning gekry het.
Die film, Searching for Sugarman, deur Sweedse filmmaker Malik Benjelloul was ’n treffer by Suid-Afrikaanse en internasionale gehore.
Rodriguez is op 10 Julie 1942 gebore en is op 8 Augustus vanjaar oorlede. Hy was ’n werkersklas sanger van Meksikaanse immigrantouers en sy musiek het op ’n persoonlike manier op sosiale ongeregtighede maar ook verhoudings gefokus.
Na die film, het Rodriguez groter internasionale bekendheid verwerf en is as sangprofeet uiteindelik in sy eie land vereer met ’n volgepakte konsert in die Detroit Garden Theatre.
So wat vertel mens vir Suid-Afrikaanse bewonderaars van Rodriguez in ’n huldigingskonsert wat nuut is?
Of is dit die soort aand wat sentimentele Rodriguez-aanhangers net bloot wil saamsing en langs ’n pad van herinneringe wil stap?
Tydens die onlangse nasionale première van Maverix Musiek en vennote se huldevertoning Remembering Sugar Man: the Story of Rodriguez kry mens gou die antwoord hierop.
Die gehoor het beslis nie net uit diegene bestaan wat in die sewentigerajre en tagtigerjare Rodriguez se protesmusiek die klankbaan van hul lewe gemaak het nadat ’n weergawe van die album Cold Fact in kringe in Kaapstad begin sirkuleer het en kultusstatus gekry het nie.
Daar was by die vertoning in die Menlyn Barnyard-teater ’n stewige aantal van nuwe generasie bewonderaars onder diegene wat bykans elke woord van veral liedjies soos “I wonder” en “Sugarman” saam met voorsanger en Rodriguez-vertolker Darren Sheehan gesing het.
Met huldevertonings soos hierdie een kan ’n vertoning ook net ’n speellys van weergawe-liedjies van die oorspronklike word. Dit was ’n lang aand van “covers”.

Die regisseur van die produksie, samesteller van die speellys en kitaarspeler, Johan Kirsten, slaag daarin om ’n ware huldevertoning aan te bied. Met ’n orkes en kunstenaars soos basspeler Llewllyn Annaandale en drommer Nico Botha wat die verhaal van die kunstenaar en sy musiek met respek vertel en die gehoor kan terugneem na die tydsgees en konteks.
Kirsten se eie reis met Rodriguez het begin toe hy sy pa se eie vinielabum van Cold Fact (1970), Rodriguez se eerste album, as musikant weer en weer gespeel het en besluit het om ’n vertoning saam te stel.
Sy uitgangspunt om gehore meer van die musikant te leer, wys deurdat hy van die gewildste en sentimenteelste liedjies soos “Hate Street Dialogue” ingesluit het, maar ook die meer “onortodokse liedjies” soos Sheehan dit noem.

Hier is dit veral die vertolking van die heel eerste liedjies “Crucify your mind” met die lirieke “Giving substance to shadows, Giving substance ever more” wat opval.
Kirsten gee bepaald gewig aan die aand met sy keuses en eie kitaarspel.
Die outentieke folk- en bluesklank van Rodriguez word veral in die ritmiese kitaarspel van Alex Palmantouras weergegee met ’n solo of twee wat hierdie knap speler met die koorseunvoorkoms saam met Kirsten die leiding op die verhoog laat neem het.

Kirsten op die kitaar bring ook hulde aan sy musiekheld deur sy dikwels emosionele snaar-op-snaar vertolking van die soulklanke agter van Rodriguez se digterlike lirieke.
Sy navorsing oor Sixto vir die multimedia-fotobeelde is toegespits om ’n ervaring van die Detroit se strate te bring waar die donkerkop grootgeword het sonder sy ma na driejarige ouderdom in die nou historiese, maar vervalle woonbuurt Woodbridge. Dit is ’n visuele aanduiding ook hoekom Rodriguez so oor sosiale ongeregtighede soos binnestedelike verarming in “Innercity Blues” sing.
Die swart en wit beelde van veral ’n hoed op ’n gekraakte sypaadjie en die bekende foto van ’n kitaar teen vervalle geboue in verlate strate, onderstreep die gevoel.
Sheehan se vertolking van Rodriguez wanneer hy in karakter is met sy dramatiese hoed, swart kleredrag en donkerbril is deurspek met humor en selfs ’n bitter laggie of twee soos ’n ironiese Rodriguez op sy beste.
Sheehan, die sanger, kom eers tot sy reg wanneer hy die Rodrigues-voorkoms-pruik afhaal en homself as kunstenaar uitleef met anekdotes en aanhalings so tussendeur die liedjies. Sy hoogtepunt bes moontlik sy vertolking van die “Establishment Blues”.

Alhoewel die vertoning begin met die stadiger liedjies is die aanpassing van die tempo om ’n hoogtepunt met die bekende liedjies na pouse te bereik. Dis ’n pluspunt vir die gehoor wat dan al meegesleur is deur herinneringe aan hul eie Rodriguez-jare en met selfone al waaiend uit hul stoele ritmies saamdans.
Die ware toets is egter toe Sheehan die gehoor toets met die lirieke van die minder bekende liedjie “Jane S Piddy” en van oraloor klink die refein: “I know you’re lonely, I know you’re lonely, I know you’re lonely…”
Die groep onder Kirsten se leiding en die produksiebestuurder Ferdi J Steyn-Eicker diep musikale beelde op vir almal wat Rodriguez dalk self in ’n inteme venue in Suid Afrika tussen 1998 en 2020 hoor speel het.
Die skaam en teruggetrokke denker/digter het ’n vormende invloed op ’n ieder en elk se lewens en politieke denke gehad en steeds het met nuwe vertolkings van sy liedjies soos deur Just Jinger met “Sugar Man”.

Moontlik is al wat oorbly om oor die huldevertoning te skryf Rodriguez se eie woorde: “But thanks for your time, then you can thank me for mine, and after that’s said, forget it”.
Met hierdie huldevertoning bly daar egter veel om te onthou.
Kliek hier om die groep in aksie te sien: https://rb.gy/nttrk
ALSO READ: Springboks bring Pretoria city centre to a standstill
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
