Pretoria Seiljagklub brei uit met programme vir jong seiljagvaarders en maandelikse opleidingsklasse
'n Opwindende era breek aan vir die Pretoria Seiljagklub nadat nuwe stelsels en 'n sakemodel vir ontwikkeling ingespan is.

’n Nuwe ontwikkelingsprogram is by die Pretoria Seiljagklub te Rietvleidam in plek geplaas.
Die klem daarvan is op die ontwikkeling van die potensiaal van jong seiljagvaarders, die daarstelling van akkreditasie vir instrukteurs, sowel as die instelling van maandelikse opleidingklasse in seiljagvaart.
Hiervoor word die totstandkoming van ’n seiljagklubskool te Rietvleidam beoog.
Die nuwe bladsy wat die klub omgeslaan het, is tydens ’n opedag aan belangstellendes gewys.
Groepe van agt is ook deur lede op die Rietvleidam met die seilbote uitgeneem, met ’n ligte wind wat saamgespeel het.
Kommandeur van die klub, Oscar de Weijer, sê dat die klub nou die vrugte begin pluk van die veranderings wat hy vier jaar gelede met sy termyn kon instel. Hy is al ses jaar lid van die klub.

Die klub is in 1959 gestig en het sy 50-jarige diamantvieringe in 2019 gehou.
De Weijer is van nering ’n bedryfsontwikkelaar en het sy vaardighede ingespan om vir die klub ’n nuwe sakemodel te skep.
Om die doelwitte te bereik is daar ook ’n nuwe tegnologiese en administratiewe stelsel in plek geplaas.
Die stelsel en data-uitruiling is met dié van nasionale bestuurstrukture van die bestuursliggaam vir seiljagvaart, South African Sailing, gesinchroniseer.
Inligting oor lede, instrukteurs en diegene met kwalifiksies is nou landwyd asook op plaaslike vlak toeganklik en elektronies beskikbaar.
Die mikpunt is om in 2024 aan instrukteurs geakkrediteerde sertifikate van bekwaamheid toe te kan ken.
Sodoende sal hulle tesame met ander kwalifikasies, soos noodhulpsertifikate en kragbootlisensies, gekwalifiseerde instrukteurs en seiljagvaarders word.
Sulke kwalifikasies sal hulle ook bekwaam om seiljagvaart as beroep te kan beoefen, soos om Suid-Afrikaans-geboude seiljagte in ander lande te gaan aflewer.
Vir al die doelwitte is seile reeds gespan deurdat die klub se bote herstel is om nuwe vaarders in staat te stel om bote by die klub vir vaarte na opleiding te huur.
Die gebrek aan opleiding vir ’n geruime tydjie in die klub se geskiedenis het hom as ontwikkelingsbeampte aangespreek.

Hy het opleiding ’n prioriteit van die model gemaak.
“Bykans niks in die lewe en veral nie instellings soos die klub, kan groei sonder opleiding nie. Ek wou die opleidingsgaping aanspreek. As klub en bestuurskomitee wou ons ook sien dat gesinne en ook individue wat opgelei is om op die water te wees, lede kan word,” beklemtoon De Weijer.
Hiermee sou hy ook sy ander droom kon bou: Om die ledebasis te vergroot.
Tans het die klub meer as 300 lede, terwyl daar staanplek vir 244 bote is.
Hy verduidelik om al die klub se opleidingsideale te verwesenlik, moet voornemende seiljagvaarders voor die klub se opleidingskursus met ontwikkelde kursusmateriaal toegerus word.
’n Sillabus van video’s en tegniese vaardighede is ontwikkel. Hierdie materiaal moet vooraf bestudeer word.
“Dan breek die praktiese gedeelte aan. Ons werk op dieselfde beginsel as met die opleiding van loodse. Jy kan slegs waarlik leer as jy in die sitplek is om ’n vliegtuig te bestuur. Niemand leer op land seil nie.
“Die naweeklange kursus begin hier op ’n Saterdagoggend en dan beoog ons om die boot aan kursusgangers die Sondagmiddag te oorhandig en hulle selfstandig op die water te laat gaan,” verduidelik hy.


Meer as 200 seiljagvaarders is nou reeds volgens hierdie beginsels sedert die einde van die Covid-19-grendeltyd opgelei.
De Weijer is veral trots op ’n lid wat die kursus ondergaan het en kort daarna as geskik beskou was om deel van ’n span te wees wat die Kaap na Rio-wedvaart aangepak het.
Die program vir die jeug het reeds by die klub afgeskop met ’n afdeling van die Verkenners (Scouts) wat in Februarie by die klub in die lewe geroep is.
Wildbewaringsgids te Rietvlei, Brad Stevens, het gehelp om die 50th Rietvlei Sea Scouts in die lewe te roep.

Tydens die opedag by die Pretoria Seiljagklub het sy groep van agt meer van seil geleer.
“Die jong klomp moet leer om te seil, want dis deel van een van die kwalifikasies wat hulle moet verwerf om in die beweging vordering te maak,” sê Stevens.
Hy is dankbaar dat hulle hande met die Pretoria Seiljagklub kon geneem het om van die geriewe gebruik te maak.
Die klubhuis en gronde word ook deur die Verkenners gebruik vir seremonies soos die vlaghysseremonie.
“Hulle moet ook leer om waterpatrollies te hou. Die Seiljagklub by Rietvlei is ook die ideale plek vir die ouers en lede om bymekaar te kom en saam te ontspan,” sê Stevens.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
