Moontlike oplossing vir rou rioolrivier in Klerksoord
Die diefstal van mangatdeksels het tot 'n onuithoudbare situasie in Klerksoord in Pretoria-Noord gelei. Spesiale masjinerie kan gebruik word om verstoppings in kanale uit te suig, maar dit is net oor naweke beskikbaar.
’n Oplossing is gevind vir die rou rioolafvoer wat in Klerksoord die lewe van sakelui en inwoners al vir maande versuur.
Daar is egter geen onmiddellike uitkoms nie. Wiele sal eers aan die rol gesit moet word om prosesse rondom die reddingsprojek, soos versekeringseise, uit te klaar.
Boonop is die toerusting wat die probleem kan oplos slegs op naweke vir gebruik beskikbaar.
Selfs met die ingebruikneming van die meer as R1-miljoen reddingsprojek se masjinerie sal dit ’n geruime tydjie neem voordat daar voelbare verligting is.
So sê Christo Bester, woordvoerder van die Pretoria Sakekamer.
Die Sakekamer het toestemming in Augustus by die Tshwane metro gekry om ’n selfdoen-oplossing te vind vir die rioolprobleme.
“Dis ’n rivier rou riool waarmee ons te kampe het. Dis net slik en sand en rioolmodder waar jy kyk,” verduidelik hy.
Hierdie probleme is tans so erg dat sakelui slote in hul parkeerterreine moet grawe om die riool se afloop te verander dat persele nie oorstroom word nie.
“Boonop is die stank onmenslik en onuithoudbaar,” wys Bester uit.
Die probleem het ontstaan as gevolg van die diefstal van mangatdeksels in die storm- en reënwaterkanaal wat deur Klerksoord vir 4km loop.
Poele ongesonde rioolwater staan orals in die veld in Klerksoord.
Gebiede in Pretoria-Noord soos Heatherdale en Akasia word ook geraak asook boere in die omgewing laer af in die kanaal se loop.
Volgens Bester het die mangatdekseldiefstal ’n bose kringloop veroorsaak.
Hy verduidelik die oop mangate se rioolvloei loop nou al ’n geruime tyd in die kanaal vanuit ’n rioolafvoerpyp onder die stormwaterkanaal.
“Die rou riool in die rioolafvoerpyp sypel deur die deksellose mangate in die stormwaterkanaal. Die probleem is vererger deurdat sand vanaf die walle rondom die kanaal daarin val,” sê Bester.
Hy is bekommerd daaroor omdat die stormwater nou ook met rou riool gemeng is.
“Die slik in die kanaal is reeds gekompakteer en veroorsaak versperrings. Van hierdie modder het ook terug in die rioolafvoerpyp geval en so verstoppings daarin veroorsaak,” sê Bester.
’n Munisipale kontrakteur is reeds vroeër vanjaar deur die metro aangestel om die rioolafvoerpyp en kanaal skoon te maak.
Die kontrakteur het die projek versaak.
Bester wys daarop die Pretoria Sakekamer het die metro reeds in die middel van die jaar in kennis gestel van die verslegtende omstandighede en hoe dit hul lede se besighede raak.
Op uitnodiging van die Sakekamer het burgemeester Cilliers Brink per helikopter ’n oorsigbesoek in Augustus afgelê.
Toestemming en ’n vrywaringsbrief is verkry dat die Sakekamer met ’n ondersoek vir ’n moontlike oplossing kan voortgaan.
Bester bevestig dat ’n ingenieur aangestel is.
Die kundige het bevind gewone spuittoerusting sal nie die verstoppings in beide pyp of stormwaterkanaal oplos nie.
Bester sê ’n Sakekamerlid uit Rustenburg het goedgunstiglik die regte toerusting beskikbaar gestel.
Hierdie masjinerie word op myne gebruik om eerder sulke verstoppings uit te suig as om uit te blaas.
Die toerusting is egter net naweke beskikbaar. In die week word dit vir mynkontrakte gebruik.
“Dit is ’n komplekse probleem omdat daar moontlik in die 4km in beide kanaal en pyp meer as een massiewe verstopping is,” verduidelik Bester.
Hy voorsien ook die probleem kan vererger in die reënseisoen.
“Die pyp sal oopgemaak moet word en langtermynoplossings sal vir die sandwalle gevind moet word soos om die stormwaterkanaal se walle in te sement,” verduidelik Bester.
Ystermangatdeksels sal volgens hom ook met betondeksels vervang moet word.
“Dis al hoe ons ’n soortgelyke toekomstige probleem kan verhoed. Deksels sal nie weer gesteel kan word nie,” doen Bester aan die hand.
Daar word tans slote gegrawe deur sommige sakelui om die riool van hul persele weg te hou.
Op een perseel het die rioolwater selfs in die geboue ingeloop.
“Die implikasies vir inwoners, werkgewers en werknemers se gesondheid is groot,” meen Bester.
Hy hou egter moed. “Nadat ons die versekering in plek gekry het, kan ons moontlik in Desember wegspring met die projek.”
LEES OOK: Vernuwingsprojek sterk hande van Barmhartige Kers-Samaritane
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.