Local newsNews

Tweede terugslag: Leon Schuster lus vir ’n tjoppie in die hospitaal

Legendariese filmmaker en grapjas is sedert die begin van November terug op sy rug maar het dalk die vooruitsig om Kersfees tuis te wees.

Legendariese filmmaker, akteur en koning van die fopkamera, Leon Schuster (72) is na ’n tweede terugslag met sy rug en ’n rugoperasie laat in Oktober tans in ’n rehabilitasiesenrum in die Life Eugène Marais-hospitaal.

Hy was in Augustus opgeneem vir ’n rugoperasie, maar het daarna een aand gegly en geval toe hy aangesterk het.

“Ek was heeltemal deurmekaar toe ek daar bykom,” vertel die legendariese filmmaker.

Die grappies bly egter nie ver weg nie.

“Kom ons sê maar ek gaan nie vanjaar vir die Bokke of die Shimlas uitdraf nie,” vertel die oud-Kovsie en oudleerling van skole in Bloemfontein soos Laerskool Wilgehof en Hoërskool Jim Fouché.

Schuster het vir die Vrystaatse Universiteit se eerste rugbyspan, Shimlas, uitgedraf. Hy is steeds ’n groot ondersteuner van die Vrystaatse Cheetahs.

Hy verduidelik ’n seer rug is al sy lewe lank sy lot.

Einde Oktober na die val was hy weer terug in die hospitaal.

Volgens Schuster het “’n senuwee tussen sy werwels gebars en nou is daar nie meer ’n kussing van jel tussen die werwels nie,” verduidelik hy van sy hospitaalbed af.

Hy moes onmiddellik weer so ’n kussing tussen die werwels ingeplant kry en is weer hiervoor in die hospitaal opgeneem.

“Die pyn was ongelooflik,” vertel hy.

Schuster sal moontlik eers in die week van 13 Desember ontslaan word.

“Ek weet nie hoekom die tweede terugslag gebeur het nie. Ek is net dankbaar ek het nie die gebruik van my bene verloor nie. Dit kon wel so gewees het,” vertel hy aangedaan.

Dit voel vir hom of hy nou vir ure na die muur en dak staar, alhoewel hy films kyk, storielyne vir sy toekomstige films uitdink en op sy rekenaar werk.

Hy wys grappenderwys daarop dat die liedjie vir die Rugbywêreldbeker in 2027 is al amper klaar deur hom gekomponeer.

Die mooiste woorde wat hy nou kan hoor is: “Hier is ’n besoeker vir jou”.

Universiteitsvriende, geliefdes en vriende uit sy filmdae het al ingeloer.

Vir hom is dit ’n klein genade dat hy ’n kamer deel met die 84-jarige spitsvondige Oom Sakkie.

“Ek weet nie wat ek sal doen as hy huis toe gaan nie. Hier sal maar ’n girlie moet intrek!”

Hy glo hy is nie depressief nie. “Net so bietjie neerslagtig,” bely hy oor sy gemoedstemming. “Die dae gaan so stadig verby, maar ek is nie sonder hoop nie. Soms wonder ek net wat het van vandag geword?”

Leon Schuster sterk aan na 'n tweede terugslag.
Leon Schuster sterk aan na ‘n tweede terugslag.

Schuster is moeg vir hospitaalkos

Die hospitaalkos is skaflik, vertel Schuster wat heimlik begeer om gou weer ’n braaitjoppie te eet.

“Ek het darem al ’n frikkadel gehad, maar dis oukei. Ek het nie ’n vreeslike eetlus nie,” verduidelik hy.

Visvang was nog altyd een van sy groot liefdes. Wanneer hy op die rotse by Umhlanga stywe lyne kon gooi, was hy al op sy gelukkigste.

“Ek weet nie of dit weer sal kan gebeur nie. Mens moet nogals ’n sterk rug hê om die grotes uit te trek en see toe te gaan daarvoor,” vertel die gesoute hengelaar.

Oor die redes hoekom hy nou nog bykans meer as ’n maand op sy rug moet lê, is Schuster filosofies.

“Daar is altyd ’n plan agter hierdie dinge en ook ’n les. Ek kyk vandeesweek hier na ’n man wie se been geamputeer is. Hy sal dalk ook die gebruik van sy ander been verloor. Sulke dinge laat jou dink dit kan dalk erger met jou gegaan het en jy is opnuut dankbaar,” sê die oud-onderwyser en poetsbak-omroeper.

Kyk na hoe Schuster die Bokke vanaf sy siekbed geluk toegewens het:

Lees ook: Metro-beamptes in hof vir roof, ontvoering en aanranding

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button