Moot-ma’s probeer skrikbewind van boelies stopsit deur formele kanale te volg
Die Gauteng Departement van Onderwys glo hulle is toegerus om boeliegedrag met formele prosedures en regulasies, bewusmakingsveldtogte en toegewyste amptenare te hanteer mits voorvalle rapporteer word.
Die Gautengse Department van Opvoeding sê dit is die reg van ouers van kinders wat onder boelies by die skool deurloop om ’n klag by die polisie, provinsiale departement van maatskaplike welsyn, kinderbeskermingsorganisasies of by die klerk van die Kinderhof te lê.
Die departementele woordvoerder, Steve Mabona, het reageer op berigte onlangs in Rekord oor boeliegedrag by skole in die Moot.
’n Ouer van ’n leerder het reeds ’n klag by die polisie die afgelope twee weke gaan lê.
Die ma wil anoniem bly oor moontlike viktimisering van haar kind en hul gesin in die gemeenskap.
Haar dogter het in die hospitaal beland met ’n gebreekte wangbeen nadat sy deur boelies beetgekry is.
“My kind se gesig was potblou geslaan en die dokter aan diens by die hospitaal het ons gewaarsku om haar dop te hou aangesien sy dalk van die skade aan haar kop ’n beroerte kan kry,” vertel die moedelose ma.
Sy probeer al twee jaar om ’n einde via verskeie rolspelers aan hierdie boeliegedrag te maak.
Die boelies sluit nie net leerders van haar kind se skool in nie, maar ook leerders van ander skole.
Samesprekings met die skoolhoof het haar teleurgestel.
Sy het uiteindelik na die mees onlangse episode haar tot die polisie gewend.
“Die aanbeveling was dat ek vir ’n beskermingsbevel kan aansoek doen. Die polisie het wel sedert die klag gelê is, vir my terugvoer gegee dat drie van die belhamels aangekeer is.
“Die speurder verantwoordelik vir die ondersoek van die klag het ’n uitnodiging aan my gerig om haar te kom spreek. Ek sal aangaan met die saak teen die boelies en gaan nie stop voor die boeliegedrag nie stop nie,” vertel die vasberade ma.
Volgens AfriForum se teenboeliespan se woordvoerder, Alana Bailey, kan ouers en hul kinders wel self ’n hofbevel ingevolge die Wet op die Beskerming teen Teistering teen Boelies kry. Kinders kan van so jonk as tien jaar van boeliegedrag aangekla word.
Vir ’n ander ma van ’n leerder is daar moontlik uitkoms.
Haar kind is ook deur ander leerders fisies geboelie en die kind se klere is dikwels geskeur tydens hierdie voorvalle.
Sy kon uiteindelik ’n afspraak kry met ’n verteenwoordiger van die Onderwysdepartement in die teenwoordigheid van die skoolhoof.
“Sy was baie tegemoetkomend en help my tans om ’n oplossing te vind. Ons gesprek gaan ook tot voordeel van ander leerders wees aangesien nuwe reëls ingestel gaan word om boeliegedrag te voorkom,” voel sy.
Die Gauteng Department van Opvoeding het aan Rekord bevestig talle voorvalle van boeliegedrag in Pretoria-skole is reeds vanjaar aangemeld.
Mabona sê gebaseer op die gevalle wat aangemeld word, is daar nie ’n toename in gerapporteerde voorvalle nie.
Hy benadruk boeliebekampingsregulasies is in die skoolveiligheidsbeleid opgeneem as ’n voorkomende maatreël. Daar word van skole verwag om by hierdie riglyne te hou.
“Die department het ’n beleid van sero-verdraagsaamheid teenoor boeliegedrag of enige vorm van wangedrag by skole deur leerders en onderwysers. Enigiemand wat hierdie riglyne oortree, word aangespreek in terme van die Suid-Afrikaanse Skolewet,” sê Mabona.
Hy beklemtoon staatskole word aangemoedig om hul gedragskodes te gebruik om met boeliegedrag en ander dissiplinêre voorvalle klaar te speel.
Volgens hom het die department onlangs ’n bewusmakings-aksie oor onder meer boeliegedrag en dissiplinêre optrede by wyse van die Kwaliteit Onderwys en Leer-veldtog van stapel gestuur.
Die veldtog was daarop gemik om skole, rolspelers en gemeenskappe te mobiliseer om die peil van onderwys te lig.
“Ons wou met die veldtog seker maak dat kwaliteitonderwys plaasvind in ’n omgewing bevorderlik tot die lewering deur alle rolspelers van sleuteldoelwitte soos dissipline,” bevestig Mabona.
Hy meld dat in samewerking met Dignify Africa en die nasionale basiese Departement van Onderwys, word daar ook steeds deurlopend werksessies oor dissipline by skole vir onderwysers gehou.
“Ons bou ook voort op ons programme om senior skoolbestuur en -hoofde toe te rus om dissiplinêre prosedures vir skole op te stel en toe te pas,” wys Mabona uit.
Hy verduidelik die Grondwet vereis dat die regte en verantwoordelikhede van slagoffers en oortreders te alle tye in aanmerking geneem moet word.
“Noodgedwonge moet ’n uitgebreide dissipline-prosedure gevolg word na aangemelde boeliegedrag sodat gedragsverandering kan plaasvind,” beklemtoon Mabona.
Hy verduidelik die departement neem verantwoordelikheid vir die daarstelling en toepassing van behoorlike prosedures, die dissiplinêre verhoor opsigself en sielkundige ondersteuning.
“Wanneer daar so ’n verhoor was, word die uitkoms daarvan aan alle partye gekommunikeer. Skole word ook gehelp om nuwe voorkomende maatreëls in te stel om te keer dat dieselfde probleem weer voorkom,” sê Mabona.
Hy wys daarop dat alhoewel los drade rondom die voorval onmiddellik na die afloop van die verhoor by die skool geknoop kan word, sal herstellende aksies daarrondom dikwels langer neem.
ALSO READ: Operation Shanela nabs almost 400 in CBD
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.ELI
