Ma van seuntjie met breinskade: “Hy is twee keer aan ons teruggegee.”
Die Von Stade-huisgesin se lewe het in 'n bestek van nege weke drasties verander nadat hul sewejarige seun en boetie van twee sussies deur elektrisiteit geskok is en sy hart gaan staan het.
’n Fratsongeluk het die lewens van ’n seuntjie en sy gesin van Hermanstad in Pretoria-Wes in ’n oogwink verander.
Albertus von Stade het op 9 September saam met ’n maatjie in die agterwerf gespeel toe hy ’n elektriese skok gekry het.
Hulle wou oor ’n heining klim. Gewoonlik het ’n paal en buiteboks van ’n lugverkoeler langs die heining as stut om op te druk vir die oorklimmery vir die tweetjies gewerk.
Die hele gesin was tuis.
“Alhoewel die krag na die lugverkoeler afgeskakel was, het daar van iewers ’n stroom gekom en sy lyfie as ’n geleier gebruik. Die krag het deur hom gevloei totdat sy hartjie gaan staan het,” verduidelik sy ma, Annetjie Von Stade.
Von Stade en haar man, Diederik het hul na die toneel gehaas toe Albertus se ouer sussies, Andrike (11) en Elze-Marie (9), begin skree het.
Sy pa en ’n vriend het met die lewelose seun na die Eugène Marais-hospitaal gejaag. Hier het mediese personeel probeer om sy hart weer te kry om te klop. Hulle het bykans moed opgegee.
“Mettertyd het ’n verpleegster gesê sy voel ’n pols. Ek het besef die Here het waar die mens wou opgee, ingegryp en verder gewerk. Die Here het ons seun vir ons teruggegee,” vertel ’n dankbare Von Stade.
Von Stade sê sy is meegedeel deur die mediese personeel haar seun het ernstige breinskade opgedoen.
Vier dae later in die hoësorgeenheid was die pediater gereed om die Von Stades mee te deel dat behandeling gestaak moet word want dit het klaarblyklik geen uitwerking nie.
“Hy het nog nie eers die mededeling gemaak nie, toe wys my man vir hom selfoonvideo’s wat hy van Albertus in sy hospitaalbed gemaak het.
“Hierop het dit duidelik gewys Albertus roer sy voetjies. Die pediater het Albertus, nadat hy die selfoonvideo’s bestudeer het, weer ondersoek. Hy het toe besluit om voort te gaan met behandeling omdat Albertus wel reageer,” verduidelik ’n aangedane Von Stade.

Albertus het vir vier weke vordering getoon in die hospitaal na behandeling.
Hy is daarna oorgeplaas na ’n rehabilitasie-eenheid in die Medikliniek Muelmed-hospitaal.
Hier is ’n oefenplan vir hom ontwikkel en verskeie terapeute het met hom begin werk.
Hy is ook van ’n trageabuis voorsien om asemhaling te vergemaklik en het binneaarse voeding gekry.
Op sy sewende verjaarsdag op 26 Oktober was Albertus steeds in die rehabilitasiesentrum.
“Die Here dra ons regtig hierdeur. Sonder Hom sal ons sekerlik val,” sê Von Stade.
Albertus was onlangs terug in die hoësorgeenheid geplaas nadat hy infeksie opgedoen het.
Haar hart is seer omdat haar vrolike kind wat koor gesing het en ook veral met senior burgers goed kon kommunikeer tydens besoeke van die koor aan ouetehuise, nou bes moontlik nie weer sy voormalige besige seuntjielewe sal kan voortsit nie.

Albertus is ’n leerder van die Gereformeerde Laerskool Dirk Postma.
“Hy het glad geen beheer oor sy ledemate nie. Hy kan nie praat nie en ons weet nie of hy ons kan hoor nie. Wat ek wel weet, is dat hy ons bewegings volg. As jy van die een kant van die bed na die ander kant stap, volg sy ogies jou,” benadruk Von Stade hierdie klein troos.
Albertus is steeds in die rehabilitasiesentrum vir bykans nege weke na die ongeluk.
Vir Von Stade en haar gesin is die ondersteuning en omgee van vriende, familie ’n riem onder die hart.
’n Familielid het vir Albertus ’n skarebefondsingsblad geskep op die insamelingsportaal BackaBuddy waar daar reeds R138 000 van die R300 000 ingesamel is om mediese koste te dek.
Alhoewel die gesin wel ’n mediese fonds het, word slegs ses weke in ’n hospitaal daardeur gedek.
Von Stade sê die vooruitsig is dat Albertus 12 weke of langer in die rehabilitasiesentrum sal moet wees. Hulle het ook geld nodig om koste rondom ’n rolstoel en ander toerusting om sy behandeling tuis voort te sit, te dek.
“Ons wil almal bedank vir hul steun en gebede vir ons as ’n gesin om hierdie pad te kan stap. Die Here het ons so met wonderwerke verbaas tot dusver dat ons nie anders kan as om moed te hou nie,” sê Von Stade.
– Kliek hier as jy deel wil wees van skarebefondsing vir Albertus se mediese onkoste: https://bitly.ws/32ofh
– Sien meer van Albertus hier : https://bitly.ws/32ofq
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
