Len Cloete se Chantal wen Mev. Pretoria-Tshwane kroon
Vir die wenner van die Mev. Pretoria Tshwane 2024-kroon was haar kroningsaand 'n hoogtepunt in die twee jaar wat sy en haar breinbeseerde eggenoot, Len Cloete, 'n lang en moeilike herstelpad geloop het.
Die nuwe Mev. Pretoria-Tshwane 2024, Chantal Cloete, is op ’n luisterryke geleentheid op 18 November in die Encore Complex Centre gekroon.
Die eerste prinses was Debbie Palm met Tshepiso Motiang Moleko as tweede prinses.
Chantal is die eggenoot van Len Cloete wat twee jaar gelede in ’n skietvoorval met ’n polisieman in Muldersdrift op 13 November 2021 betrokke was.
Hy is gedurende die voorval na bewering in die kop geskiet.
’n Video waarin gesien kan word hoe hy in ’n stryery met die polisie betrokke raak, is destyds wyd op sosiale media versprei.

Len het haar kroningsaand in sy rolstoel bygewoon.
“Ek moes my trane op die verhoog terugbyt toe ek sy trane sien,” sê Chantal.
Sy bevestig dat daar steeds breinskade by hom te bespeur is, maar dat hy wel sy bes doen om saam te werk tydens sy rehabilitasie.
Sy algemene gesondheid is goed.
“Hy het ’n ernstige kopbesering tydens die voorval opgedoen en sal nooit weer dieselfde mens wees nie. Dit is moeilik om hom so in die rolstoel te sien, want hy was so ’n avontuurlustige man,” sê sy aangedaan.
Len kan nie sonder hulp loop nie. Chantal is dankbaar vir die ondersteuning wat sy met sy versorging van vriende en geliefdes kry.

Sy sien uit om in haar kroningsjaar ’n verskil aan mense se lewens te maak.
“As deelnemers het ons elkeen ’n storie om te vertel. Ons lewensverhale en wat ons daaruit geleer het, maak ook deel uit van die beoordeling,” verduidelik Chantal.
Die kompetisie aanvaar inskrywings van getroudes, geskeides, weduwees en ma’s tussen 24 en 58 jaar oud.
Chantal het reeds sedert agt maande gelede aan projekte van die organiseerders gewerk om te kwalifiseer.
Die insameling van kos vir voedsel-arm gemeenskappe volgens die Power Towers-projek was deel van haar welsynswerk.
Sy is ook reeds besig om Kerspakkies in te samel vir die verspreiding onder welsynorganisasies as haar eerste Mev. Pretoria-Tshwane-taak.
Diegene wat ’n skenking wil maak is welkom om pakkies tot op 9 Desember by die skenkingspunt te Vo2 Max Fiksheidssentrum te 143 Jochemstraat, Rietvalleirand af te laai.

In Januarie sal Chantal wegspring om skryfbehoeftes vir kinders wie se ouers dit nie kan bekostig om ’n skooltassie te pak nie, te versprei.
“Die organiseerders is lieflike mense wat veel vir welsyn wil vermag. Hulle wil ’n verskil maak deur diegene wat deelgeneem het en rus ons toe om rolmodelle te wees. Ek sien uit om ’n verskil te maak,” sê Chantal.
– Mike Bolhuis, woordvoerder vir die Cloete-gesin het aan Rekord bevestig die ondersoek na die skietvoorval is nog nie voltooi nie aangesien Len nog nie sy weergawe van die aand kon gee nie.
Sy verklaring is die enigste uitstaande dokument maar sal volgens Bolhuis eers voorgelê kan word wanneer ’n mediese dokter verklaar dat hy wel daartoe in staat is.
– Kliek hier om die kroningsaand te sien: https://www.facebook.com/100094167990646/videos/pcb.198189823329950/866907828477994
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.