Ontstoke inwoners voel sluipslapers verander straat in dwelmhool
Inwoners van 'n woonkompleks met meer as 30 eenhede voel daadwerklike optrede is nodig om te verhoed dat 'n plakkerskamp op hul voorstoep ontwikkel.
Inwoners van ’n kompleks in Pretoria-Noord sê hulle raak al meer bekommerd oor sluipslapers wat toenemend ingeburger raak op ’n stuk openbare grond naby aan die kompleks.
Inwoners van hierdie eenhede in Lavenderweg, Annlin, sit met hulle hande in hul hare oor die aanliggende stormwaterkanaal en servituut daarrondom wat aan die Tshwane-metro behoort.
“Hier is ’n enorme toeloop van mense wat rondom die kanaal slaap. Dit is vuil rondom die slaapplekke en hope rommel word gestrooi. Die sluipslapers het ook geen toilet- of badkamergeriewe nie. Rotte en vlieë neem oor in die omgewing. Ek verwag dat allerhande peste kan uitbreek,” sê Martie Landman, ’n woordvoerder vir die Tipuana-kompleks.
Sy beklemtoon die onwettige besetters rig reeds skuilings op en doen hul wasgoed op die servituutterrein. Vure word gemaak en daar word op oop vure gekook.
Landman is ook ontsteld oor ’n intimiderende gevloekery wat aan die inwoners gerig word.
Van die sluipslapers loop glo ook volgens haar soms kaal rond.
“En die stormwaterkanaal word ook vir die storting van rommel gebruik wat in vloedtye tot oorstromings kan lei,” sê sy.
Volgens haar val hul klagtes sedert Augustus 2023 aan raadslede en burgerlike organisasies om die sluipslapers te verwyder, op dowe ore.
“Niemand is bereid om op te tree nie, maar kom verkiesingstyd, wil almal skielik gil en skree vir jou stem.”
Sy benadruk die polisie wil ook nie betrokke raak nie aangesien die onwettige besetters op munisipale grond plak.
Die gemeenskapsforum in die omgewing het ook aan haar aangedui hulle kan oor dieselde rede nie help nie.
“Ons versoek is dat aandag dringend hieraan gegee word voordat dit in ’n volskaalse plakkerskamp of dwelmhool ontwikkel,” sê Landman.
Landman wys daarop daar is 34 eenhede in die kompleks waarvan die inwoners gemiddeld R1 100 erfbelasting per maand aan die metro betaal. Gesamentlik beloop hierdie bedrag meer as R37 000 maandeliks.
Voeg hierby die kompleks se gesamentelike maandelikse water- en elektrisiteitbetaling van R85 000 aan die metro.
Die totale jaarlikse inkomste aan stadraadskoffers deur Tipuana-kompleks is dus R1 468 800.
“Ons kan sekerlik as betalende inwoners aanspraak maak op ondersteuning en beskerming vanaf die stadsraad?” vra Landman.
Sy het onverpoosd probeer om die metro se klagtelyn te gebruik om die sluipslapers op stadsraadseiendom aan te meld, maar het ten einde raad opgegee.
“Hoe lê jy ’n klag as fone eenvoudig net nie geantwoord word nie? Moet iemand eers seerkry voordat iemand aandag aan ons probleem gee of moet ons die reg in eie hande neem?” vra Landman.
Sy het wel onlangs ’n e-pos hieroor aan die metro se burgemeester vir aandag gestuur.
Landman is veral bekommerd oor die veiligheid van die kompleks se inwoners.
“Hier is dames wat verpleegsters is en genoodsaak is om wel laat saans en baie vroeg soggens in die straat te beweeg. Ons het reeds aanvalle op huiswerkers gehad wat van hul geld beroof word. Verskeie eienaars het al deurgeloop met die diefstal van gasbottels en satellietskottels,” verduidelik sy.
Ook voetgangers, drawwers en stappers is blootgestel aan misdadige gedrag tot by Borgenstraat.
Landman is bekommerd die onooglike toedrag van sake voor die hekke van die kompleks en in die omgewing het ook ’n negatiewe uitwerking op eiendomswaardes.
Die inwoners voel die enigste oplossing is die verwydering van die onwettige besetters deur die metro.
Teen druktyd het die metro nog nie op vrae van Rekord oor inwoners se besware reageer nie.
Lees: Aggressiewe kredietbeheer en verhoogde tariewe deel van regrukplanne
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.