Local newsNews

Erfenisskattedag by monument herdenk met geskiedkundige skenking

Internasionale Erfenisskattedag op 11 Januarie is vanjaar kleurvol herdenk deur die Voortrekkermonument met 'n waardevolle skenking van 'n stoel wat die Groot Trek meegemaak het.

Die Voortrekkermonument het vanjaar Internasionale Erfenisskattedag op 11 Januarie gevier deur mense aan te moedig om meer van hulle unieke erfenis te leer ken.

Christiaan Jordaan, toerismebestuurder by die Voortrekkermonument, sê op hierdie dag word die klem geplaas op die bewaring van monumente en insameling van fondse en erfenisitems vir ikoniese landmerke en monumente regoor die wêreld.

Vanjaar het Anel du Preez vir die herdenkingsdag ’n oorspronklike riempiestoel van die Laas-familie aan die monument geskenk.

Dié stoel het die Groot Trek meegemaak.

Dié erfenisskat sal langs die Laas-wa in die Senotaafsaal sy regmatige plek inneem.

Die Laas-wa is een van die min oorblywende ossewaens wat die Groot Trek oorleef het en ook by Bloedrivier was.

Lizette Jansen (links, bestuurder van die Erfenisstigting) gesels met Anel du Preez (‘n nasaat van die Laas-familie) voor die Laas-wa by die Voortrekkermonument.

Du Preez sê in hul huis “is die motto om altyd ’n bydrae te maak”.

Vir Jordaan en sy span was Erfenisskattedag ook ’n dag om verlede jaar se prestasies te vier.

In 2023 het die Voortrekkermonument 187 597 studente en volwassenes op die terrein verwelkom.

Dit sluit ook die bywoning van feeste regdeur die jaar en besoeke tydens Gelofteweek en Geloftedag in.

Kinders is by hierdie getal uitgesluit, omdat die eerste twee kinders onder 18 van ’n gesin die monument gratis kan besoek.

“Ouers betaal genoeg aan skoolgeld. Ons wil hê kinders moet hier kom speel terwyl hulle leer sonder dat geld ’n groot uitdaging vir ouers is,” sê Jordaan.

Laasjaar het die Voortrekkermonument ook die grootste Geloftedag in die geskiedenis gehad toe ongeveer 32 000 mense die terrein op 16 Desember besoek het.

Meer as 9 000 skoolkinders het in 2023 die Voortrekkermonument in skoolgroepe besoek.

Erfenismaand was die monument se besigste maand ten opsigte van skoolbesoeke toe ongeveer 3 000 skoolleerders by die monument besoek afgelê het.

Een van die groepe was van Hoërskool Centurion.

“Die Groot Trek-geskiedenis word nie meer op skool geleer nie, maar vir my is dit van die mooiste dele van ons land se geskiedenis, daarom het ek besluit om die kinders hierheen te bring,” het Tuané Hattingh, onderwyseres aan die instelling oor die skoolbesoek aan die monument, gesê.

Die monument se bestuur glo talle verbeterings op die terrein het veel met die hoë besoeksyfers te make.

Verlede jaar is ’n splinternuwe markplein opgerig waar besoekers kan kuier en hul bene kan rus na ’n lang dag se stap.

Die eerste museumteater in Suid-Afrika is ook geopen waar geskiedenis op ’n lewendige en interaktiewe wyse aangebied word.

Die monument doen ’n beroep op erfenisbewustes om enige erfenisskatte te skenk. Stuur gerus ’n e-pos aan Lizette@kultuurtuiste.org.za.

Lees: Toenemende geweldsmisdade in Hercules plaas inwoners onder beleg

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button