Metro waarsku geen voorafbetaalde krag as jy reeds munisipale skuld het
Die Tshwane metro behou die reg om nie aan voorafbetaalde kraggebruikers krag te verskaf nie indien hulle reeds geld skuld op ander dienste.
Sake-eienaars en inwoners van Pretoria word aangemoedig om hul maandelikse munisipale rekeninge baie noukeurig na te gaan en waar nodig, maandelikse dispute in terme van Artikel 102 van die Munisipale Sisteme Wet te verklaar.
Hierdie aanbeveling is deur die Pretoria Sakekamer gemaak.
Dit volg nadat verskeie van hul lede probleme met rekeninge en dienslewering van Tshwane metro, veral ten opsigte van voorafbetaalde elektrisiteit en slimmeters, ervaar het.
Fergus Ferguson, voorsitter van die Pretoria Sakekamer, sê hierdie dispute stuit enige skuldinvorderings-aksie van die stadsraad.
Hy verduidelik die stof rondom Tshwane se slimmeter-debakel, wat gedurende 2017 op die spits gedryf is deur Sakeliga, wil maar net nie gaan lê nie.
Die PEU Capital Partners slimmeterkontrak is na die uitwys van onreëlmatighede deur Sakeliga nietig verklaar.
Die metro het aan die einde van 2023 begin om besighede en inwoners van Tshwane in kennis te stel dat konvensionele elektrisiteitsmeters met sogenaamde “slimmeters” vervang gaan word.
’n Gebrek aan inligting hieroor kniehalter volgens die Sakekamer egter die doeltreffendheid van die sisteem.
Ferguson wys daarop daar het sedertdien groot kommer begin kop uitsteek by die Sakekamerlede, oor die “intelligensie” en vermoëns van die slimmeters.
Hy benadruk die Pretoria Sakekamer is deur verskeie lede genader waar probleme ervaar word met die slimmeters.
Een hiervan is voorafbetaalde elektrisiteit wat vir weke nie deur die slimmeter toegeken is nie.
Metrowoordvoerder, Lindela Mashigo, sê daar kan geen dispute rondom slimmeters en voorafbetaalde elektrisiteit wees nie aangesien krag gekoop en verbruik word sonder dat rekeninge versend word.
Mashigo verduidelik die toekenning van elektrisiteitseenhede aan verbruikers kan wel beïnvloed word deur skuld wat op ander rekeninge soos water en erfbelasting, sowel as sanitasie en vullisverwydering, verskuldig is.
“Die kwessie is in Desember op die spits gedryf toe sommige verbruikers nie voorafbetaalde krag kon aankoop nie weens die feit dat hulle agterstallige betalings het op ander rekeninge met die stadsraad. Die stadsraad het hierdie metode gebruik om verbruikers te probeer oorreed om betalings op hul ander rekeninge te maak,” verduidelik Mashigo.
Hierdie reëling sal volgens Mashigo geld totdat die rekeninge vereffen is of ’n betalingooreenkoms met die metro aangegaan is.
Mashigo beklemtoon die metro behou die reg voor om kragaankope op die voorafbetaalde sisteem te blok as enige gelde verskuldig is vir erfbelasting, water, sanitasie en vullisverwydering.
“Verbruikers in die voorafbetaalde kragsisteem is aan kredietbeheer onderworpe en hul krag kan ook afgesluit word as hulle in enige ander opsig geld aan die stadsraad skuld,” benadruk Mashigo.
Hy verduidelik indien daar dispute rondom voorafbetaalde dienste is, moet die verbruiker ’n klagte aanhangig maak by die instapsentrum, inkomstebestuur of verbruikersdienste.
Die tegniese span sal dan die klagte ondersoek.
Indien daar wel fout is met die meter, sal dit vervang word en in terme van die stadsbeleid gekalibreer word.
Hy meld dat die metro ondersoeke en oudits uitvoer op alle verbruikers op die voorafbetaalde stelsel wat lae of geen aankope van krag toon.
Inwoners wat onwettig krag bekom, aanskakel of verbruik, kan ’n stywe boete van R27 000 opdoen.
Hy meld dat slimmeters ’n sekuriteitsmodule het om spookaankope en kragknoeiery te voorkom.
Indien sulke oortredings begaan word en tydens metro-oudits ontdek is, kan ’n boete van R27 000 opgelê word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
