Local newsNews

Berugte vroueswendelaar loop hom vas oor winkeldiefstal

'n Winkeldiefstalklag het die doppie van ’n beweerde vroueswendelaar in Pretoria geklink.

Die slagoffers van ’n beweerde vroueswendelaar, Jacques Arthur Malot, word versoek om na vore te kom.

Lid van die Sinoville-opsporingspan, adjudant-offisier Riaan Kruger, sê Malot het op 29 Januarie in die Pretoria-Noord landdroshof verskyn waar ’n saak teen hom tot Maart uitgestel is.

Malot sal in aanhouding bly tot hy na verwagting formeel om borgtog kan aansoek doen.

Hy staan volgens Kruger tereg op verskeie ernstige aanklagte soos seksuele aanranding, motordiefstal en ontvoering.

Kruger sê verdere klagtes kan dalk aanhangig gemaak word.

Hy sê die Sinoville-ondersoekspan soek nou al twee jaar na Malot nadat hy weens beweerde swendelary en seksuele aanranding van vroue aangegee is.

Malot is twee weke gelede op 17 Januarie in die Kaap vasgetrek vir winkeldiefstal.

Hy het ook drie ander winkeldiefstalklagtes teen hom waaronder een in 2022 in Seepunt.

Kruger verduidelik kollegas in die Kaap het sy vingerafdrukke op die nasionale stelsel verbind met sy verdwyning destyds in Pretoria.

Volgens hom was ’n lasbrief vir sy inhegtenisname op die stelsel aangeteken.

Malot het reeds in die Kaap na sy inhegtenisneming op die winkeldiefstalklag in die hof verskyn.

Hy is daarna na Pretoria gebring om op 29 Januarie in die magistraatshof in Pretoria-Noord te verskyn op klagtes soos geslagsgebaseerde geweld.

Kruger benadruk dat die beroep veral op vroue gedoen word wat moontlik voor Malot se sjarme geswig het en deur hom besteel is of dalk moontlik aangerand is.

Tydens sy verdwyning is ’n waarskuwing aan die publiek gerig om hom nie self te nader nie, maar eerder aan te gee.

Volgens vorige ondersoeke het hy ook glo gebruik gemaak van aliasse soos Clint du Preez en Cornelius Janse van Rensburg.

Volgens Kruger was sy werkswyse om vroue op veral internet-afspraakwebwerwe te ontmoet onder die voorwendsel dat hy ’n suksesvolle makelaar en oud-Blou Bul-rugbyspeler is.

Hy sou volgens Kruger dan vrouens se vertroue wen en hulle besteel en emosioneel mishandel.

Hy is in 2018 op vier verskillende aanklagte van diefstal skuldig bevind, maar sy vonnis van vyf jaar is opgeskort op voorwaarde dat hy in die vyf jaar daarna nie soortgelyke misdrywe pleeg nie.

Twee klagtes van seksuele aanranding en diefstal is onder meer by die Garsfontein- en Sinoville-polisiestasies teen Malot gelê.

“Ons wil hê moontlike slagoffers van Malot moet na vore kom. Vrouens was baie bang vir hom. Een van sy slagoffers het selfs oorsee gevlug,” sê Kruger.

Die bekende privaat ondersoeker van Pretoria, Mike Bolhuis, het ook tydens Malot se verdwyning vrouens teen hom gewaarsku.

Bolhuis is deur van Malot se slagoffers om beskerming genader.

“Dit is ironies dat hy op so ’n onverwante klagte [diefstal] as geweld en mishandeling van vroue gearresteer is,” sê Bolhuis.

Kruger versoek lede van die publiek wat sake teen Malot geopen het of moontlik te bang was om tot nou na vore te kom om die opsporingspan by 071 675 7373 te kontak.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button