Metro wil datasentrum stig om Tshwane te beveilig teen krisisse en rampe
"Die herdenkingsparade is 'n manier om gevalle lede van die intelligensiedienste se lewens te herdenk."- Mike Huxtable.
Die metro het gedurende ’n militêre herdenkingsparade ’n beroep op die intelligensie-gemeenskap in Pretoria gedoen om hande met die stadsraad te neem om die beoogde metro datasentrum vir veiligheid se totstandkoming te verseker.
Die sonsopkomsparade en kransleggingseremonie is op 4 Februarie by Fort Klapperkop gehou ter herdenking van die Jaarlikse Internasionale Intelligensiedienste herdenkingsdag wat op 5 Februarie internasionaal gevier word.

Die geleentheid is deur die Suid-Afrikaanse Militêre Inligting Veterane Assosiasie aangebied.
Die burgemeesterkomiteelid vir Veiligheid en Nooddienste, Grandi Theunissen, het gesê die metro het met die onlangse munisipale staking vergeefs probeer om inligting van staatsveiligheidsagentskappe rondom moontlike veiligheidsbedreigings vir die gemeenskap te verkry.
“Dit lyk of hierdie agentskappe onkant betrap is. Hulle het ons gefaal. Ons kon meer op plaaslike privaat sekuriteitsmaatskappye hiervoor staatmaak,” sê Theunissen.
Hy het bekend gemaak dat die inligtingsdatasentrum deel sal wees van die metro se gesamentelike operasionele sentrum waarvandaan krissise en rampe soos groot brande en vloede ook hanteer sal word.
“Ons vra hierdie intelligensie-gemeenskap vol veterane met vaardighede en kennis om ons te help om vorentoe die stad veiliger te maak,” het Theunissen versoek.
Hy het gesê dat die metro se moontlike data-inligtingsentrum ’n interne insamelingsdiens rondom veiligheid sal bevat sowel as die daarstelling van opleidingsafdelings vir veiligheidspersoneel.
Hy het ook ’n beroep gedoen op die sowat 100 oudlede en veterane van die SA Weermag, die SA Intelligensieafdeling, die SA Lugmag, die Militêre Veterane Vereniging, die SA Infanterie Vereniging en lede van die SA Militêre Inligting Veterane Assosiasie om bydraes tot die voorgestelde konsepwetgewing rondom intelligensiedienste te maak.
“Die oorlog is nog nie verby nie. Dis nou ’n oorlog op misdaad,” het Theunissen benadruk.
Die geleentheid is bygewoon deur die voorsittter van die SA Militêre Inligting Veterane Assosiasie, Bennie Buys, en verskeie verteenwoordigers van veterane organisasies soos die SA Koreaanse Oorlog Veterane Vereniging sowel as militêre attachés van verskeie ambassades in Pretoria.
Mike Huxtable, woordvoerder van die organiseerders, sê een van die kritieke uitgangspunte van die verenging is dat lede van die intelligensiedienste wat die hoogste opofferings gemaak het, se bydraes nooit vergeet word nie.
“Die herdenkingsparade is ’n manier om hul lewens, opofferings en bydraes te herdenk,” sê Huxtable.
Familie van oorledenes kon ook kranse ter herinnering aan die voet van die soldaatbeeld by die Suid-Afrikaanse Weermag se Erfenisterrein neerplaas.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.







