Local newsNews

Moreleta-natuurarea word buiteluglaboratorium vir leerders

Sowat 60 leerders van omliggende skole het op Wêreld Vleilanddag in ’n natuurarea waardeur die Moreletaspruit vloei, meer by kundiges gaan leer hoekom vleilande bewaar en beskerm moet word.

Sowat 60 leerders het met rugsakke en stewige waterstewels rondom die Moreletaspruit toegesak en vaardighede as junior waterwetenskaplikes aangeleer.

Verskeie rolspelers het saamgekom om watertoetse op die spruit te doen op Wêreld Vleilanddag op 2 Februarie in die Mhangele-natuurarea in Moreleta-natuurreservaat.

Carol Martin, voorsitter van die Adopt Moreletaspruit-forum, sê die projek word jaarliks met die herdenking van die dag aangepak om leerders in die omgewing as burgerlike wetenskaplikes op te lei.

“Ons forum is deel van die Departement van Water en Sanitasie se Neem-’n-rivier-aan-program. Ons kry kundiges van verskeie organisasies bymekaar om die dag as ’n leergeleentheid vir die leerders aan te bied,” sê Martin.

Noloyiso Mbiza, die nasionale koördineerder vir die department se program om burgerlike wetenskaplikes op te lei, sê op sulke herdenkingsdae wys hulle graag leerders met ’n toetsvorm en die nodige watertoetse hoe om die riviergesondheid te toets.

“Hierdie inligting word landwyd in ons wateroudit bymekaar gemaak om die toestand van watergesondheid vas te stel,” verduidelik Mbiza.

Leerders het met ’n identifiseringskaart oor moontlik insekte in die water soos slakke, waterkrewels en wurms aan die waterassistente verslag gedoen.

Dr. Piet-Louis Grundling, vooraanstaande waterwetenskaplike verbonde aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing, het aan leerders kartondose, grond, klippe en water uitgedeel sodat hule in groepe hul eie vleiland kon bou.

Hierdie staatsdepartment het deur die Werk-vir-Vleilande-program reeds meer as R1.4-miljard in die rehabilitasie van 1 873 vleielande landwyd uitgegee. Die program is in al nege provinsies ingestel.

Alhoewel vleilande minder as 3% van Suid-Afrika se landarea beslaan, bied hulle verskeie voordele.

Die spitsvondige Grundling se praktiese demonstrasie het groot vrolikheid onder die leerders afgegee.

Hy het op ’n onderhoudende wyse gewys hoekom vleilande juis die vermoë moet hê om water ’n ruk te kan agterhou.

“Ons het vleilande broodnodig. Hulle bêre vir ons water, maak water skoon, hou water agter vir plante en stop vloede,” sê Grundlingh.

Dr. Althea Grundling van die Waternavorsingsraad het ’n vleilandwandeling met die leerders onderneem om verskeie kenmerke daarvan uit te wys.

Maar dit was darem nie net soos ’n skoolklas in die buitelug vir die leerders nie.

Die Tshwane metro omgewingshoof in die area, Adelene Marais, het ’n natuur-skattejag vir die leerders beplan en geheime wegsteekplekke gebruik waar leidrade oor die natuur se diversiteit geplaas is.

Sy het ook tesame met Hannes Oelofse van die metro legkaarte aan die leerders uitgedeel om meer kennis oor diere en voëls in die omgewing te deel.

Geveerdes wat uitgeken kon word was rooivinke, buffelwewers, vleikuiken, Piet-my-vrou en palmswaels.

In die veld was daar blou padwagtertjie- en grasveldwitjie-vlinders te siene.

Leerders van Eastside Primary School, Glenstantia Primary School en Laerskool Constantiapark het die waterwetenskaplikes met die neem van die toetse bygestaan.

Jason le Roux (tweede van regs) van die Waternavorsingsraad het groepe leerders deur die vleiland van die Mhangela-natuurarea geneem. Foto: Elize Parker

’n Leerder van Moreletapark wat tuisskool ontvang, Mika Bergman, het ook die uitstappie meegemaak.

“Dit was baie leersaam en lekker om deel van die groep te wees,” sê Bergman.

Meer feite oor die forum se werk is te siene op www.riv.co.za/ms

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button