Burgemeester genomineer vir Jong Leiers-toekenning
DearSA, 'n internetplatform wat burgersake bevorder, se nominasies vir 'n toekenning aan jong leiers sluit Tshwane se burgemeester Cilliers Brink in.
Die Pretoria Sakekamer stem saam met en ondersteun die nominasie van burgemeester Cilliers Brink vir die Dear South Africa Young Leaders Awards 2024.
So sê Fergus Ferguson, voorsitter van die Pretoria Sakekamer.
“Hierdie toekenning gee erkenning aan leiers wat ’n werklike verskil maak,” sê Ferguson.
Hy meen Brink se leierskap staan uit omdat hy voet by stuk kon hou tydens die staking en intimidasie van die munisipale werkers.
“Hy kwalifiseer beslis deur sy inisiatiewe om die finansies van Tshwane reg te ruk en daadwerklike aksies om minder afhanklik van Eskom te wees deur die Rooiwal en Pretoria-Wes privaat en publieke vennootskappe te bevorder. Sowel as sy inisiatiewe om die verlies wat Wonderboom-lughawe maandeliks veroorsaak vir die metro na ’n winsgewende bate om te skakel,” sê Ferguson.
Die kompetisie is deur die burgerlike aktiviste-organisasie, DearSA, geskep om jongmense aan te moedig om ’n positiewe impak op gemeenskappe te maak.
Nominasies vir leiers in verskillende kategorieë is tot aan die einde van Januarie vanjaar ontvang.
Brink is in die kategorie Publiek en Regering genomineer.
Hierdie kategorie erken jong leiers wat aktief betrokke is in politiek en regeringsake op alle vlakke.
Ander genomineerdes in die kategorie sluit in Anco Barker, Boitumelo Ramatetse, Cherese Kotze, David Mbanguta, Devon de Koker, Dimakatso Sowana, Jennifer Thobejane, Jordan Griffiths, Chris Pappas, Reuben Coetzer, Ryaan Saal en Vuyolwethu Zungula.
Die publiek kan vir die genomineerdes stem op die DearSA-webwerf vanaf 1 Februarie tot 30 April.
Die wenners word bepaal deur ’n 50% stem van die publiek en ’n 50% stem deur ’n paneel wat deur DearSA aangestel is.
– Stem deur hier te kliek: https://dears.africa/young-leaders-awards-2024/
*Please note this article has been amended
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
