Groblersdal 4: Steve Hofmeyr vra steun vir seun se regskoste
Sanger Steve Hofmeyr het vir geldelike steun vir sy regse aktivis seun, Devon, se borgtogaansoek komende Donderdag op sosiale media gepleit en groot steun sowel as voorstelle vir fondsinsameling van sy bewonderaars gekry.
Sanger Steve Hofmeyr het op Maandag, 12 Februarie op sosiale media versoek dat sy bewonderaars saamstaan om sy seun, Devon Hofmeyr, se regskoste te betaal.
So lui sy oproep: “Regsonkostes kan buitensporig raak en ontsê gereeld goeie, onskuldige verdagtes ordentlike regsverteenwoordiging. U kan help. Dra asseblief by tot hierdie fonds vir Devon Hofmeyr op enige manier of met enige bedrag moontlik.”
Die Ons Doen Fonds is vir inbetalings gestig.
Devon Hofmeyr (30), Willem Petzer (27) en Tewie Wessels (32) het Maandag saam in die hof op Groblersdal verskyn op aanklagte van openbare geweld en die verhindering van ’n polisiebeampte in die uitvoering van sy pligte.
Devon is ’n mede-direkteur van die verregse jeugbeweging, die Bittereinders, waarvan die hoofkantoor in Pretoria is.
Volgens die Middelburg Observer, het ’n dokter voorlopig ’n stokkie voor die vierde beskuldigde Dries Olivier (76) se inhegtenisname gesteek, met ’n mediese sertifikaat vir minstens die volgende twee weke. Die sertifikaat is by die Groblersdal-polisiestasie ingehandig, waar Olivier saam met Petzer, Wessels en Hofmeyr moes aanmeld.
Die klag spruit uit ’n voorval op 24 Januarie toe die aangeklaagdes saam met die leier van die Bittereinder-jeugbeweging, Francois van der Merwe, deelgeneem het aan ’n betoging buite die landdroshof in Groblersdal, Limpopo.
Twee mans, Piet Groenewald (63) en Stephan Greeff (27), het op die dag voor die hof verskyn op aanklagte dat hulle ’n werker aangerand het en na bewering ’n hond aangehits het om hom aan te val.
Wessels, Hofmeyr en Petzer het reeds vroeg Maandag aangemeld by die polisiekantoor en is in hegtenis geneem.
Steve sê op sy Facebook-blad dat sy seun en mede-beskuldigdes se borgaansoek uitgestel is na Donderdag, 15 Februarie.

Hy meld dat hy dit “frustrerend” vind. Hy meen egter die aansoek loop redelik vlot.
“Ons is in ’n land waar moordenaars sonder adresse borg toegestaan word terwyl onskuldige seuns, wat vrywillig rapporteer het, moet selle toe tydens ’n borgaansoek!” sê ’n ontstoke Steve.
Die borgtogaansoek is geweier deur landdros Bogi Mashele wat bevind het dit sal nie in belang van geregtigheid wees om die aansoek toe te staan nie.
Steve het reeds vroeër oor die aangeleentheid aangevoer dat hy “op versoek niks sê nie”.
Hy het ook op sosiale media gemeld dat hy wegbly van Groblersdal maar “briesend” hieroor is.
“Al wat ek kan vra is dat ons mense gehoor gee as die seuns, wat eintlik opgedaag het vir geregtigheid vir hul medemens, vra vir finansiële bydraes van buite,” lui sy boodskap op sosiale media.

Hy het sy bewonderaars bedank “vir honderde kommentare ter ondersteuning”.
Van die bewonderaars stel voor hul kom saam om skarebefondsing te doen. Daar is ook voorstelle dat Steve kunstenaars bymekaar kry om ’n konsert ter fondsinsameling te hou.
“Ek hou moed en hoop en bid vir Donderdag dat borg toegestaan sal word. Dankie vir een en elk se bystand en ondersteuning vir Devon. Ons kan nie vir meer vra nie,” meld Steve.
Die leier en inwoner van Pretoria, die verregse Bittereinder, Francois van der Merwe, was na bewering ook betrokke by die voorval en is steeds sedert 25 Januarie in aanhouding. Hy sal ook op 15 Februarie in die hof op Groblersdal verskyn.
Groenewald en Greeff se saak is uitgestel tot 11 Maart. Hulle is steeds in aanhouding.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
