Local newsNews

Metro sal ogie hou op onwettige besetters naby oos-begraafplaas

Die metro sê daar word toenemend van Pretoria-oos se heiningmateriaal gesteel.

Die metro het bevestig hul eenheid vir die uitsetting en hervestiging van onwettige besetters sal betrek word om te verseker dat Cemetery View-besetters naby aan die Pretoria-oos begraafplaas nie die grond beset nie.

“Ons sal watter wetlike regstellings ookal nodig is gebruik om die probleem aan te spreek sou die besetters in die begraafplaas intrek,” sê metrowoordvoerder Selby Bokaba.

Hy het bevestig die afgelope paar dae is daar toenemend van die Pretoria-oos begraafplaas se heiningmateriaal gesteel.

Inwoners in die onmiddellike omgewing meen van die eertydse Cemetery View-nedersetting het moontlik nou nader aan die begraafplaas geskuif nadat die nedersetting verlede jaar in September deur ’n verswelgende brand in puin gelê is. Die brand het drie lewens geëis.

“Daar is tans geen onwettige behuisingstrukture binne die grense van die begraafplaas nie, maar onwettige besetters woon wel op die perimeterheining aan die westekant van die terrein se grens,” sê Bokaba.

“Die besetting deur informele nedersettingbewoners kom nou al hoe nader aan die grens van die terrein,” bevestig hy.

Hy verduidelik geen besetting van begraafplase deur onwettige besetters wat aan die metro behoort sal geduld word nie.

“Enige sulke pogings sal deur die eenheid vir uitsetting en hervestiging aangespreek word,” sê Bokaba.

Die krane in die begraafplaas is nie gebreek soos wat begraafplaasbesoekers vermoed nie, sê hy.

Volgens hom het die metro wel die watertoevoer na die begraafplaas afgesny om verdere vandalisme aan munispale strukture en water diefstal deur onwettige besetters te stop.

“Alhoewel die stad se departement wat verantwoordelik is vir informele nedersettings die nabye nedersetting met water bedien, steel inwoners steeds water van die begraafplaas se toevoer en daarom is die water nou permanent afgesny.

“Die watertoevoer na die toilette en die administrasiegebou is steeds aangesluit en beskikbaar vir gebruik deur besoekers en personeel,” sê Bokaba.

Hy het ontken dat enige gevalle van grafskending onder die aandag van die metro gebring is.

“Ons het ’n veiligheidseenheid wat dag en nag teenwoordig is by die begraafplaas, maar gegewe die grootte van die eiendom is dit hul prioriteit om die ingang en die administrasiegeboue te beveilig.

“As gevolg van die voortslepende vandalisme op die grensheining en die groot aantal oortreders, kan ons nie die toegang keer of beheer nie. Ons het bloot net nie die kapasiteit om dit te doen nie. Tans fokus ons op die faktore wat die belangrikste is om die begraafplaas te laat funksioneer,” benadruk Bokaba.

Hy het ook bevestig dat gras rondom die administrasiegebou en omliggende areas tans gesny word.

“Met ons beperkte bronne sal dit ’n tydjie neem om te voltooi en sal dit beperk word tot die ontwikkelde deel van die begraafplaas. Areas aan die perimeter sal vir eers nie gesny word nie,” sê Bokaba.

Ontstoke begraafplaasbesoekers beweer trekkers wat wel die gras kom sny het, het van die stene omgery.

Robbie de Jong, ’n inwoner wie se ouers se grafstene omgery is, sê dit sal beter wees indien die metro eerder randgrassnyers gebruik in die begraafplase om soortgelyke ongelukke te vermy.

Sosiale media-gebruikers het ook hul ontsteltenis uitgespreek oor beskadigde grafte waarvan daar na bewering ook die marmer van gebreek is sowel as die rame om grafte en naambordjies.

Die metro het teen druktyd nog nie vrae oor moontlik beskadigde grafte beantwoord nie.

LEES OOK: Ouers oorweeg regstappe teen Steve Biko-hospitaal na beweerde nalatigheid

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button