Local newsNews

Twee uitstallings wys vernuf en vernuwing

Twee uitstallings by die Pretoria-kunsvereniging se gallery dui op hoe kunstenaars in twee verskillende kunsvorme sin maak van die natuur se rol in hul lewens.

Bas-bariton en keramiekkunstenaar, Christiaan Snyman van Colbyn, het ’n aantal van sy keramiekwerke die afgelope Saterdag tesame met werke van waterverfkunstenaar Tamantha Williams van Midstream by die galery van die Pretoria-kunsvereniging geopen.

Snyman se elegante kuns sluit nuwe werke in waarmee hy ’n fyner blik op sy geliefde plante soos varings en fynbos gee en ryk, diep kleure na sy werk bring.

Die verskuiwing dui op ’n meer dekoratiewe en uitdrukkingsvolle benadering. Van die vase is blomme in eie reg.

Sy eksperimente met verskillende tegnieke en veral glasure werp vrugte af.

Sy groter vase met klassieke vorms en veral uitsonderlike kleure soos dieper blou, val dadelik op alhoewel mens tog vermoed vorm bly vir hom van die belangrikste aspekte van sy werk.

Snyman het in die fynere kunste aan Tukkies gestudeer voordat hy opera by onder meer Universiteit van Kaapstad studeer het.

Voormalig verbonde aan die Stadopera van Koblenz, het hy teruggekeer na Suid-Afrika in 2016 en tydens die Covid-19-pandemie vir eers sy skilderye van veral groot blommestudies en landskappe eenkant toe geskuif en agter die pottebakkerswiel ingeskuif.

Sy diep bewuswording van hoe glasuurkeramiek tot sy reg kan laat kom, kan waargeneem word in die talle lae wat potte soos die slanke 300mm hoë bottelgroen pot by die ingang van die uitstalling in een van die sale van die kunsvereniging.

Dit is egter sy dekoratiewe werk aan potte se handvatsels wat jou bybly.

As keramiek- sowel as sangkunstenaar is dit Snyman se visie om voortdurend te vernuwe en met die uitstalling bereik hy die mikpunt.

Voormalige landskapargitek van Midstream en grafiese kunstenaar, Tamantha Williams, se kuns word onderlê deur haar intellektuele benadering tot die kunste.

Met hierdie uitstalling wys sy haar blik op hoe sy glo die geheel uiteindelik opgemaak word deur fragmente en so iets nuuts en anders word.

Die werke in die agterste uitstalruimte van die kunsvereniging se sagte en waterverf en ink aanslag wys inderdaad op framentering, soos sy ook die versameling doop en vernuf met haar waterverfkwasse, houtskoolkryte en inkpenne.

Charne Rautenbach en Elrie Grobler, beide van Pretoria-oos

Die werke toon die kuns wat sy tydens haar verblyf in Parys in 2023 geskep het.

“Ek het na Parys in Frankryk gegaan om engele te soek en toe ander geveerdes gevind,” sê Williams van die versameling.

Die uitstallings duur tot 16 Maart.

LEES: Toerismebaas slaan nuwe ‘wilde’ rigting in

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button