Local newsNews

Kitaar-veteraan stil krag agter SA blues musiek

Of hy nou musiek-arm gemeenskappe landwyd help of studente by sy kitaarskool leiding gee, Neitz se musikaliteit en hart vir musiek klop vuurwarm.

Wanneer ’n mens die kitaar-virtuoos Illimar Neitz hoor gesels oor sy besige lewe, weet jy eintlik nie waar hy tyd kry om musiek te maak nie.

Hierdie seun van ’n biochemikus wat voorskool lank in Duitsland gewoon het, en ’n oudleerling is van Laerskool Pretoria-Oos, se harde werk vir musiek-arm gemeenskappe, werk vir die South African Blues Society en tyd in sy opname-ateljee beslaan reeds ’n hele paar ure van sy dag.

Voeg hierby om die studente van Illimar Neitz Guitar School snaarwys te maak.

Maar dit is hoe hierdie inwoner van ’n karaktervolle huis in Brooklyn grootgemaak is.

“Ons gesin is geleer om die groter prentjie raak te sien en te help waar ons kan,” vertel ’n glimlaggende Neitz.

Jy sal hom dikwels vind waar hy en musikante hand bysit by dierewelsynsorganisasie Wet Nose om honde te stap en te was, by gratis musiekwerkswinkels op klein dorpe soos Prins Albert en om musikante met gestremdhede van Jana-huis in die Moot te bemoedig en te inspieer.

Of selfs in sy kitaarvervulde studio, besig om deernisvol ’n musikant met ’n opname te help.

Een van sy eie kitare, die Rory Gallagher Stratocaster Shop 1961-model, is gewoonlik ’n stille getuie van die opnameproses.

Om in die pad saam met ander musikante te val, kry darem gelukkig vir sy bewonderaars dikwels ook voorkeur.

Selfs dan maak die oud-Tukkie met ’n meestersgraad in antropologie vinnig ’n plan om ’n hand na ander uit te steek.

Onder Neitz se leiding het vele musiek-arm gemeenskappe, soos Nieu-Bethesda en Gansbaai, voor en na optredes ’n kitaar, klanktoerusing of opleiding in ’n musiekwerkswinkel as ’n geskenk gekry.

Neitz is op talle gebiede ’n baanbreker in die blues musiekwêreld in Suid-Afrika nadat hy die leisels by ’n klein groep blues musikante oorgeneem het en ’n vereniging vir blues musiek in die lewe geroep het om by ’n Amerikaanse stigting vir blues musiek te kan registreer.

Nou sorg hy dat jong blues musikante van die South African Blues Society die geleentheid kry om op te tree saam met groot name in die bedryf soos Jonathan Peyper.

Nie te sleg vir iemand wat eers op 14-jarige ouderdom besluit het “daar is iets aan ’n kitaar, ’n soort bekoring” nie.

Hy was op dié dag op die skoolterrein en het voor sy Afrikaanse klas gehoor hoe ’n skoolmaat die Troggs se bekende “Wild Thing” speel.

“Dit was die coolste ding wat met my kon gebeur het,” sê Neitz nostalgies.

Hierna het hy ’n kitaar geleen en klasse by die bekende Trevor Nasser begin neem.

Soos elke aspirant kitaarspeler van dié jare het hy gou “House of the Rising Sun” bemeester.

In sy vormingsjare het Neitz Metallica en Iron Maiden geluister en opgelet na wat kitaarspelers van Deep Purple en Eric Clapton met hul vingers op die snare doen.

Sy voete is na sy eerste orkesdebuut gerig toe hy na skool ’n kroegman geword het en twee kollegas vir hom plek gemaak het in hul crossover metal orkes.

“Ons eerste gig was in Hatfield Square op ’n Saterdagmiddag in 1997,” onthou ’n sentimentele Neitz.

Rock-invloede in hierdie jare op lewendige musiekgebied in Pretoria sou hom ook beïnvloed.

Rockgroepe soos Jack Hammer het net op dreef gekom, die alternatiewe musiekbeweging in Afrikaans het kort daarna ontstaan en Oppikoppi se feeste het musikante en platemaatskappye soos magnete aangetrek.

Illimar Neitz en Valiant Swart

“Dit het gegaan oor wie jy ken en wie jy kan ontmoet,” sê Neitz. “Dit is steeds so!”

Sy liefde vir jazz musiek het vlam gevat so mettertyd en hy het jazz onder Johnny Fourie se leiding vir drie jaar studeer.

Hy het nou met meer ervare musikante in ’n “jazzerige” orkes, Gordon’s Suitcase, begin speel.

Optredes saam met ander musikante het al hoe belangriker geword soos wat uitnodigings van alle oorde aan hom gerig is.

Neitz het al meer as100 keer die afgelope vyf jaar saam met Valiant Swart opgetree en sy spel word ook op van Swart se albums gehoor. Hy speel ook al ses jaar saam met Afrikaanse rock-koning Anton Goosen.

Deesdae is dit Neitz wat die leiding vir jong blues musikante gee en geleenthede skep waar hulle kan optree.

Hy soek voortdurend nuwe talent en neem verskeie musikante onder sy vlerk.

“Die studente het soveel selfvertroue met die speel van die blues. Dit is iets wat ons verder moet vat,” glo Neitz wat met sy blues-orkes Levinia self die toon aangee.

“Dit gaan daaroor om heeltyd te leer en oor die bekoring van ’n liedjie,” vertel Neitz. “’n Musikant moet ’n liedjie en die musiek kan dien om jou beste aan die gehoor te kan gee.”

Neitz het sopas teruggekeer van ’n Kaapse toer saam met Valiant Swart, ’n speelbeurt op ’n Oppiwater-plesiervaart.

Hy is dikwels op ’n Sondag te sien in vertonings om blues musikante geleenthede te gee by die Sowaar Bar in Pretoria-oos.

– Luister hier na van Neitz se spel: https://www.facebook.com/watch/live/?ref=watch_permalink&v=663221808404488

** Artikel aangepas

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button