Local newsNews

Geliefde oud-predikantspaar trek tentpenne op

As voormalige predikantspaar het die Pienaars steeds 'n belangrike rol in die Moot gespeel, maar hulle verhuis nou na Lynnwood na 'n kleiner woonplek.

Toe dr. Johan Pienaar en sy vrou Rita 13 jaar gelede afskeid geneem het as predikantpaar van NG Riviera-Jakaranda Kerk was die kerk in Blakestraat stampvol.

Die Pienaars het vir langer as twee dekades as predikantspaar daar gedien.

Op 25 Februarie vanjaar, net voor die paartjie na 35 jaar in die Moot sou verhuis na ’n kleiner woonplek in Lynnwood, het die huidige predikante van die gemeente dit goed gedink dat Pienaar weer van die kansel af as lid van die Moot-gemeenskap kom groet.

Vir Pienaar was dit ’n kosbare oomblik. In die gemeente en in die Moot-gemeenskap het hy net “strome van seën geken”.

Deel van hierdie seën vir hom was die lofprysingsorkes en sangers uit sy era as predikant wat vir die geleentheid van so ver as Ellisras gekom het.

Tydens sy afskeid het Pienaar aangedaan herhaal hoe sy voete op die regte pad geplaas is in die tagtigerjare toe hy van die Arcadia-gemeente oorgekom het na die Riviera-gemeente.

In sy motorhuis by die pastorie is hy gou deur die bekende oom Charlie Wessels aangespreek oor hoe sy pad vorentoe in die gemeente moet lyk.

“Oom Charlie het sy gesprek begin met ’n vraag aan my: ‘Weet ek wat beteken die woord Riviera?’” sê Pienaar.

Wessels het mooi aan hom verduidelik hoe die woord met water verband hou en “die plek van water” beteken.

Pienaar het met sy groetpreek op 25 Februarie hierna verwys. Hy het bevestig vir hom en Rita was die buurt en sy mense bepaald ’n tuiste waar daar “lewende water” was.

LEES: Tshwane still figuring out how to use white elephant power stations

Vir hom het die verwysing na water ook spesiale betekenis ingehou.

Hy is as jong ongetroude in Boksburg-oos bevestig, in ’n kerkgebou wat die vorige week ingewy is. Die geute was egter nog nie in plek nie.

“Ek staan vir die formulier voor in die kerk en so half teen ’n afdraande. ’n Haelstorm breek buite los met genoeg wind en water om vir baie jare aan al ons land se behoeftes te voldoen. Terwyl ek aandagtig na ds. Louis Branders se gebed luister, voel ek hoe die water wat in die paadjie afstroom, teen my splinternuwe skoene en broek begin opstoot,” vertel Pienaar.

Hy sou glo daarna as “’n man van storms” bekend staan.

Name en die ontleding daarvan was nog altyd belangrik vir Pienaar.

Hy verwys ook na verskeie plekke in sy nuwe boek van Bakboord na Stuurboord na plekke met name waarin water voorkom soos Kwaaiwater in die Oos-Kaap.

Met sy groetpreek het Pienaar anekdotes en staaltjies vertel van hoe die belangrikheid van name, hetsy dié van plekke of individue, hom juis in die gemeente ook opgeval het.

Volgens hom het hy juis in die Moot geleer van ’n sonderlinge tradisie as ’n naam aan nuwe generasies aangegee word. Indien ’n eerste kleindogter ’n ouma se name kry, koop die ouma byvoorbeeld vir haar ’n Noritake-stel.

Pienaar het met deernis die verhaal vertel van die gemeentelid met die naam Elsie wat so graag met haar lidmaatbevestiging net op hierdie noemnaam en nie haar doopname nie, na vorentoe geroep wou word.

Haar doopname het dikwels tot te veel vrae en verduidelikings gelei, vertel Pienaar.

“Die name was Rebellina Tronkina omdat haar pa in 1914 deel was van die rebellie,” vertel Pienaar.

Hierdie deernis vir mekaar en sensitwiteit om mekaar se behoeftes in ag te neem, was vir hom een van vele kenmerke van sy dienstyd saam met sy vrou en kroos by die gemeente.

Hy het ’n gesondheidswaarskuwing ’n paar jaar gelede gehad toe hy voor ’n kardioloog gesit en die dokter hom meegedeel het hy het ’n hartaanval gehad.

“My ouers is beide in hul vyftigs aan hul hart oorlede en dis een van die redes waarom ek vroeg uitgetree het. Ons huisdokter het gewaarsku dat ek met my spanning en vol program dieselfde pad gaan loop. Die Heer het vir my en Rita tree vir tree soveel genade op genade gegee daarna,” vertel Pienaar.

Die oppak van die huis in die Moot is op 26 Februarie afgehandel en die verhuisingstrokke se wiele het dieselfde dag nog gedraai om die nuwe hoofstuk in die Pienaar se lewens te begin.

Hy het die gemeente met ’n wens gelaat: Dat hul sang altyd andere sal innooi soos met ’n diens wat hy eens waargeneem het.

“Bly sing met oorgawe. Dis een van ’n kerk se beste uitnodigingskaartjies.”

LEES: Dinokeng-reservaat groet superma jagluiperd en sit metapopulasie-projek voort

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button