Local newsNews

Dié ‘Hercules’ van Hercules het nie ‘n bang haar op sy kop nie

Deelnemers aan 'n kompetisie om vrese te toets is aan talle uitdagings onderwerp, maar die wenner glo sy fokus om die groot wenprys vir sy gesin te wen het hom gehelp om elke vrees en uitdaging onder die knie te kry.

’n Blokman van Hercules, Karel Bouwer, sê die ergste deel van die onlangse werklikheidskompetisie waarvoor hy ingeskryf het om sy vrese tot die uiterste te toets, was toe ’n troppie kakkerlakke oor sy gesig “gekriewel en gekrioel” het.

Die kakkerlakke was deel van ’n finale rondte van die kompetisie waartydens Bouwer ’n sleutel tussen hul sissende lywe moes vind om sy boeie oop te sluit.

“Hulle het sulke harde voetjies en kruip oral in,” vertel Bouwer.

Hy was een van 18 deelnemers in ’n uitkloprondte van die GROOTvrees3-kompetisie wat deur GROOTfm vanaf 21 Februarie in die Kollonnade-winkelsentrum aangebied is.

Hierdie finaliste soos Bouwer, Esmé Sevenster van Centurion, Adrian Pretorius van Magalieskruin en Louiggiano Soraggi van Pretoria Noord, moes hul ergste vrese reguit in die oë kyk.

Esmé Sevenster van Centurion moes haar vrees vir kakkerlakke oorkom in die uitdunrondte van die GROOTvrees3-kompetisie.

Groot pryse was op die spel, onder meer ’n kontantprys van R30 000.

Gelukkig vir Bouwer het die organiseerders nie van sy grootste vrees geweet nie: ’n Duisendpoot!

Hy sê hy het deurgaans moed geskep want sy vrou, Nadia, en kinders, Deidre, Nathan en Heino, het hom aangemoedig.

“En ek sal die geld kan gebruik om vir hulle ’n beter lewe te skep,” sê Bouwer.

Gedurende die kompetisie se verloop is finaliste uitgeskakel by wyse van uitdagings.

Een van die uitdunrondtes waaraan die wenner van die GROOTvrees3-kompetisie, Karel Bouwer, moes deelneem, was ‘n boogskietkompetisie.

Bouwer moes ook geblinddoek aan ’n 2.3m slang vat om sy lengte te skat.

“Ek was darem amper reg. Ek het hom so op 2m geskat,” sê Bouwer.

Liefdadigheidsorganisasies het tydens die kompetisie lede van die gehoor in die winkelsentrum aangemoedig om ook iets vreesloos aan te pak.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloedoortappingsdiens het omstanders aangemoedig om bloed te skenk en Cupcakes of Hope het gesorg vir ’n grillerige kolwyntjie wat verorber moes word.

Die tien finaliste in die uitdunrondte is vir vier dae aaneen in ’n motor toegesluit om hul vrees vir klein en nou plekke te toets.

In die finale uitdunrondtes moes die deelnemers geblinddoek die lengte van die slang skat nadat hulle aan hom geraak het.

Teen Saterdag, het net vier in die kar wakker geword.

Nadat Soraggi uitgeskakel was, het die top drie vreesloses – Bouwer, Sevenster en Pretorius – na ’n sleutel tussen honderde sissende kakkerlakke gesoek.

Bouwer was die deelnemer wat toe sy boeie in die kortste tyd kon oopsluit.

LEES: Tshwane still figuring out how to use white elephant power stations

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button