News

Leerders trotseer yswater om wêreldrekord op te stel

'n Nuwe wêreldrekord is behaal toe 881 leerders en personeellede op 'n skoolveld in Waverley bymekaargekom en met emmers yswater laat waai het.

Leerders en personeellede van Hoërkool Staatspresident CR Swart in Waverley het op Vrydag, 1 Maart saamgestaan om nie-amptelik die wêreldrekord te breek vir die meeste persone wat op een slag aan ’n yswateruitdaging deelneem.

Met die vorige rekord het 782 dapper mense yswater uit ’n emmer op hul koppe omgekeer in China.

Altesame 881 leerders en personeellede het die uitdaging om yswater oor hulle koppe ten lywe te trotseer omhels en so die nuwe rekord daargestel.

Die bestuurder van die nie-winsgewende organisasie, Prism of Hope, Lené van Wyk het die dag georganiseer en ’n ogie gehou.

Die kinders en personeellede het net na 13:00 op die skool se sportveld bymekaar gekom.

Van Wyk staan ook aan die stuur van sake om die poging by die Guiness World Records-organisasie te registreer. Emmers met ys en water is opgestel voor elke deelnemer.

Sy het om 13:00 ’n klok gelui en daarna het die pret begin met uitdagings tussen klasse en onderwysers om mekaar nat te gooi.

Personeellede en hoofleiers van Hoërkool Staatspresident CR Swart het reeds vroeg reggemaak vir die yswateruitdaging: Voor: Amy le Roux, Sholin Hunter en Omphile Kgadi. Agter: Pietro Bosman, Sherwyn Kirby, Susan Theron, Kathlego Leso en Lené van Wyk. Foto: Elize Parker

Die skoolhoof, Susan Theron, het ook onder ’n emmer of twee deurgeloop, maar glo dis alles vir ’n goeie saak.

’n Gedeelte van die fondse wat met die ysemmeruitdaging ingesamel is, sal aan die Motorneuronvereniging van Suid-Afrika geskenk word.

Die skool sal van die fondse ingesamel van borge vir hul skoolfonds ontvang.

Fondse sal ook deur die Prism of Hope organisasie gebruik word om entrepreneursprogramme aan te koop om die kweek van ’n kultuur van entrepreneurskap onder leerders aan te moedig en ondernemingsdae vir leerders ’n groter sukses te maak.

Theron sê ontwikkeling van leerders as entrepreneurs is vir haar belangrik.

“By ons skool wil ons kinders leer om op hul eie voete te kan staan. Ons vat graag hande met organisasies soos Prism of Hope om dit te verwesenlik,” verduidelik sy.

Sy glo ook dat ’n dag soos die yswateruitdaging pret in ’n normale skoolweek en -dag inbring en kinders en onderwysers help om nuwe verbintenisse te vorm.

“Elke jaar begin ons deur elke leerder se potensiaal te identifiseer en te ontwikkel. Ontwikkelingskursusse, soos rondom entrepreneurskap, keer dat leerders die pad byster raak want dit gee hulle ’n spesifieke fokus. Elke leerder kan hiermee sy volwaardige plek op skool inneem,” glo Theron.

Leerders en personeellede het laat waai met die water toe die klok om 13:00 op 1 Maart gelui het om ‘n nuwe wêreldrekord op te stel. Foto: Verskaf

Van Wyk beaam dit.

Haar organisasie, Prism of Hope, se mikpunt is om leerders by wyse van omvattende sakeprogramme te bemagtig.

“Die yswateruitdaging is ook aangepak om ’n mylpaalervaring vir almal in die skool te wees. Iets om oor jou skooljare te onthou,” verduidelik Van Wyk.

Sy het die borge bedank wat met die aankoop van ys en emmers gehelp het sowel as die burgemeester Cilliers Brink wat water teen ’n afslagtarief vir die dag aan die skool afgestaan het.

“Ek is so bly almal kon betrokke raak om die gees van entrepreneurskap te versprei,” sê Van Wyk.

Die uitdaging sal verder geneem word deurdat toekomstige deelnemers van ander skole, leerders en personeellede uitgedaag is om ook elk ’n emmer yswater op hul koppe uit te keer, ’n soortgelyke geleentheid te organiseer of ’n skenking aan Prism of Hope te maak.

– Kliek hier om ’n video van die yswateruitdaging te sien.

@rekordpretoria

Ice Bucket Challenge from @cr_swart – Altesame 881 leerders en personeellede het die uitdaging om yswater oor hulle koppe ten lywe te trotseer omhels en so die nuwe rekord daargestel.

♬ original sound – rekordpretoria – rekordpretoria

LEES: Dié ‘Hercules’ van Hercules het nie ‘n bang haar op sy kop nie

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button