Local newsNews

Suiwer simfoniese klanke klink op uit virtuoos se energieke speellys

Elektriese violis Johan Scheppel se eerste optrede in vier jaar in die Atterbury-teater was 'n simfoniese kragtoer.

Die rock-violis, Johan Scheppel, het vir die eerste keer in vier jaar voor ’n waarderende gehoor in die Atterbury-teater met sy unieke styl bewonderaars laat regop sit vir ’n simfoniese rockvertoning.

Hy het ook toe sommer vir die eerste liedjie agter die klavier in plaas van die elektriese rock-viool ingeskuif.

Maar hierdie veelsydigheid is net nog ’n kant van die veteraan rock-violis wat jy by min ander in Suid-Afrika gaan sien.

Johan Scheppel

Scheppel is nie soos drie-in-ry grasieuse rock-violiste wat ’n gehoor met klassieke liedere in ’n geriefsone inspeel nie.

Hierdie rock-rebel vind vroeg die klank van die aand. Met aggressiewe boogtegnieke en deur die hele verhoog met sy vinnige bewegings – selfs draaibewegings wanneer hy die gehoor vir ’n oomblik die rug toekeer – te gebruik, word jy gou vasgevang in veel meer as net die musiek.

Jy ontdek die laag-op-laag rockpersona van ’n ewig-jonk musikant wat sy vreugde oor die lewe en musiek wil deel met ’n seunskindglimlag en ’n borrelende vreugde van binne.

Natuurlik bly die tipiese bewegings nie weg nie. Die lig van die been as die klanke werklik plesier verskaf en die gerieflike plasing van sy voet vir sommige liedjies op die toerusting voor op die verhoog.

Toe hy vroeg in die konsert met “Eye of the Tiger” van Survivor lostrek met baskitaarspeler Denny Lalouette en trommer Bruce Wallace, kon jy jou amper voorstel Sylvester Stallone gaan nou opdraf as bokskampioen Rocky Balboa soos in die film Rocky III.

Die ikoniese rockliedjie som dalk juis op hoekom Scheppel so ’n musiekmeester is. Die liedjienaam beteken juis om ’n intense fokus te hê en met vasberadenheid ’n uitdaging baas te raak.

Dis met hierdie selfde fokus wat Scheppel liedjies soos “Thunderstruck” en “The Living Years” aangepak het.

“Thunderstruck” van Australiese rockgroep AC/DC vanaf hul 1990 album The Razor’s Edge, kry onder die Scheppel-behandeling ’n gans nuwe aanslag met die soepel rock-violis wat perfek afgerond nie een van die seminale klanke van die negentigerjare afskeep nie.

LEES: Rietbok-raaisel: “Ons moet nie dinge op die oog af aanvaar nie”

Scheppel se samestelling van die speellys van die aand moet spesiale vermelding kry.

Moontlik omdat hy soveel energie uitstraal op die verhoog met veral sy kopgooie, moet die pas afgewissel word.

Die oorgange van super-lewendig tot hiper-lewendig is subtiel en gee sy bewonderaars ook ’n blaaskans wanneer dit by gehoordeelname kom.

As meester van melankolie, was Scheppel se vertolking van Mike and the Mechanics se “The Living Years” meesleurend en die gehoor het die refrein oor en oor saamgesing.

Van gehoorbetrokkenheid weet Scheppel veel en het ook “vir die tannies” ’n liedjie gespeel: “Sweet Caroline” van Neil Diamond. “Sweet Caroline op steroids!” het Scheppel gemaklik die liedjie aangekondig.

Min liedjies het so ’n spontane gewuif en gesing tot gevolg. Met Scheppel se vertolking was dit ook nie anders nie. Hy het ook netjies die gehoor met sy strykstok dirigeer.

Van strykstokke gepraat: Dit was nie lank nie of Scheppel se strykstok moes geringe herstelwerk ondergaan en die geleentheid was daar vir legendariese trommer, Bruce Wallace, om ’n improviserende solo te lewer.

Bruce Wallace op die tromme.
Denny Lalouette

Ook baskitaarspeler, Denny Lalouette, se spel was deurgaans noukeurig en presies in sy uitvoering.

Verskeie kere het Scheppel met sy spel die limiete van die menslike gehoor uitgedaag. Telkens dink jy dis onmoontlik om sulke klanke uit só ’n klein instrument te kry. Maar Scheppel bewys jou verkeerd deur al hoe laer vorentoe te buig en die strykstok al hoe presieser op die nek te plaas sodat jou oë deur sy vinnige vingers op die snare vasgevang voel.

Die hoogtepunte van die aand se vertolkings was Kanadese sanger Leonard Cohen se gewilde 1984-liedjie “Hallelujah” en Francois van Coke en Karen Zoid se “Toe vind ek jou”.

Met laasgenoemde gee Scheppel ’n vertolking van hierdie nugter liedjie oor weerloosheid in liefdesverhoudings wat die rou skoonheid daarvan uitlig. Soos twee stemme wat met mekaar gesels, het sy meesleurende klanke opgeklink.

LEES: One week after a north centre lays off car guards, vehicle is stolen

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button