Metro glo Alphenpark en Ashlea Gardens se watertoevoerprobleme nou iets van die verlede
Alphen Park en Ashlea Gardens se probleme met water- sowel as kragvoorsiening word deurlopend aangespreek volgens die metro en wykraadslid Siobhan Muller.
Die metro sê alle waterretikulasieprobleme as gevolg van die vervanging van pype in Ashlea Gardens en Alphen Park is nou opgelos.
Metrowoordvoerder Jerry Dikgale sê ou waterretikulasiestelsels is in die proses om uit werking gestel en vervang te word. Die projek staan einde se kant toe.
“Watervoorsieningsprobleme te wyte aan die vervanging van pypnetwerke behoort nou geïsoleerd te wees,” verduidelik Dikgale.
Hy het reageer op navrae na ’n berig in Rekord oor inwoners se klagtes oor water- en kragtoevoerprobleme in Ashlea Gardens, Alphen Park en Maroelana sedert September 2022.
Hy beklemtoon daar word nie voorkeur aan klagtes van sekere inwoners bo dié van ander gegee nie.
Dikgale verduidelik Highlands-substasie se krag word dikwels onderbreek na die krag aangeskakel is na beurtkrag omdat sekondêre voernetwerke se skakelaars as gevolg van oorlading afskakel.
Hy sê kabeldiefstal is nie in hierdie omgewing die rede vir munisipale kragonderbrekings nie.
Die mees onlangse munisipale kragonderbrekings kan volgens hom aan ’n kontrakteur se skade aan die kabel asook storms toegedig word.
Volgens hom word waterlekke op hoofwatertoevoerroetes se waterverlies nie van inwoners se rekenings verhaal nie.
Dikgale kon nie enige klagtes opspoor wat onlangs deur inwoners oor vuil water gemaak is nie.
“Alle klagtes oor vuil water word ondersoek en na ons wetenskaplike dienste in die Water en Sanitasie Departement vir toetsing verwys indien nodig. Die metro kan nie die rede vir vuil water aangee indien die water nie getoets is nie,” verduidelik Dikgale.
Oor inwoners se klagtes oor die standaard van werk aan netwerke in die omgewing, sê Dikgale dat 99% van waterlekke se herstelwerk deur Tshwane self aangespreek word deur behoorlik opgeleide ambagsmanne.
“Ekstra bronne soos eksterne ingenieurs is aangestel om kapasiteit van departmente in die metro te verhoog en probleme aan te spreek,” sê Dikgale.
Hy het ook bevestig dat stipulasies in kontrakte deur deurlopende toesig van die metro afgedwing word.
Wykraadslid Siobhan Muller sê tydens gesprekke met metro-amptenare het dit ook ter sprake gekom dat sabotasie deel van die probleme rondom die netwerke van beide krag en water kan wees.
“Ons weet nie deur wie en hoe nie, maar gaan vasstel,” sê Muller.
Sy glo inwoners word deurgaans deur haar op hoogte van sake gehou by wyse van WhatsApp-groepe waarmee sy kommunikeer en terugvoersessies wat elke drie maande gehou word.
LEES: Waterbeperkings en OVK-skuif terugslae vir metro

Laasgenoemde se bywoning is volgens haar egter onbevredigend.
Sy doen ’n beroep op inwoners om begrip aan die dag te lê vir die feit dat die ou netwerk van waterpype reeds agt jaar lank in verskillende areas vervang word.
“Die waterpypvervangingsprojek skuif eersdaags oor na Waterkloof. Meeste van hierdie pype was asbespype wat reeds 60 jaar oud is en is nou deur plastiese pype vervang,” verduidelik sy.
Ander faktore wat onlangs ’n uitwerking op watertoevoer-en kraguitdagings in die buurte gehad het, is volgens haar nog die nagevolge van verlede jaar se staking en storms.
“In Februarie het ons van die ergste storms in geskiedenis van die stad gehad en dit het ’n groot uitwerking op elektrisiteitsnetwerke gehad,” verduidelik Muller.
Sy wys daarop dat kragstasies se probleme ’n domino-effek het.
“As daar iets by Garsfontein-substasie verkeerd gaan, is daar ’n goeie kans dat Highlands-substasie ook geraak sal word,” benadruk Muller.
Sy doen aan die hand dat inwoners bewus moet wees van inligting op groepe oor waar water deur watertenkers beskikbaar gestel sal word.
Volgens haar moet elke persoon 24-uur se water voorraad hou.
Sy verduidelik dat klagtes wel ’n volgorde het deurdat ’n klagte wat ’n volle area, straat of blok raak, eers opgevolg sal word voordat daar aan ’n individuele klagte aandag gegee sal word.
Inwoners moet egter volgens haar die voorgeskrewe roete volg om klagtes by die Tshwane-inbelsentrum aan te meld.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


