Local newsNews

Monument se nuwe wandelroetes ‘n pluspunt vir natuurliefhebbers

Die Voortrekkermonument nooi natuurliefhebbers om so met die stap van nuwe wandelroetes ook veel van die geskiedenis van die terrein te leer.

Die Tshwane Toerismevereniging se nuwe leuse, “Tshwane – The wildest capital on earth”, het sopas nog meer betekenis gekry met die aankondiging van die Voortrekkermonument se bestuur dat die natuuraanbod by die monument uitgebrei gaan word.

Waar anders in die wêreld kan jy ’n stad en ’n land se geskiedenis deur ikoniese landmerke beleef terwyl jy na ‘n trop swart wildebeeste kyk?

Deel van hierdie aanbod is om vyf staproetes te open vir die publiek, ’n splinternuwe natuurgids uit te gee en moontlik later ’n uitkykpunt te bou by die gruisgroef waar voëlkykers kan uitspan.

Drie van hierdie roetes is reeds uitgelê en groepe natuurliefhebbers het die roetes al gestap.

’n Opgeleide veldgids met wye ervaring in die Groter Kruger-wildtuinarea sowel as by privaat natuur- en wildlewereservate, Ilomi Kruger, vergesel besoekers en stappers op die wandelroetes.

Sy is die natuurprogrambeampte by die Voortrekkermonument, en het sedert die begin van die jaar die aanbod vir besoekers saamgestel.

Kruger het haar liefde vir diere en die natuur juis kleintyd in die Krugerwildtuin aangeleer.

“My oupa het ons gereeld soontoe geneem en by elke dier gestop en ons geleer om fyn waar te neem. Wanneer ons tuis gekom het, moes ons die dier teken,” lag Kruger.

Om haar liefde vir die natuur met andere te deel het vir haar ’n roeping geword, juis omdat sy self die vrugte daarvan pluk.

“Die natuur is my rusplek en veilige skuiling. Dis waar ek op my gemaklikste is. Om hierdie liefde met besoekers te kan deel, is ’n pluspunt,” glo Kruger.

Natuurprogrambeampte by die Voortrekkermonument, Ilomie Kruger

Sy verduidelik die hele Voortrekkermonumentterrein, Groenkloof- en Fonteine-area was eens deel van Lucas Bronkhorst se plaas.

Die plaas is destyds oorgekoop deur die Transvaalse regering en die Voortrekkermonument is later op die grond gebou.

Dit is by die gruisgroef op die terrein waar die leiklip uitgekap is om die monument se trappe uit te lê. Sy sluit ook ’n besoek aan die groef tydens die roetes in oor die geskiedkundige aard daarvan.

“Behalwe vir die monument self, lê daar baie geskiedkundige waarde op die terrein,” sê Kruger.

Lees: Buurtwag se slaankrag verhoog met stelsel om nommerplate te herken

Sy het ook lank as jeugwerker, sowel as onderwyseres gewerk, twee vaardighede wat nou nuttig te pas kom. Sy het ’n ruim ruk in die Wes-Kaap gewoon, maar is dankbaar vir Pretoria se gematigde klimaat.

“Ons somers is ten spyte van ons warm temperature ’n bonus vir natuurliefhebbers,” glo Kruger.

Kruger gebruik nou terugvoer van besoekers om die roetes, papierwerk en planne af te rond.

“Voor enige iets op die terrein verander kan word, moet ons goedkeuring kry by die stadsraad,” vertel Kruger. “Ons is tans besig met die finale prosesse om die staproetes te open. Die roetekaarte is reeds uitgelê en stappers sal toegang tot die kaarte kan verkry deur QR-kodes.”

Die Voortrekkermonument se personeel het tot op datum 95 boomspesies op die terrein geïdentifiseer en 29 aangeplante boomspesies op Monumentkoppie.

Daar is ook 12 soogdierspesies, 11 reptielspesies, ongeveer 80 voëlspesies en 50 skoenlapperspesies in die veld.

Kruger wys veral haar gunstelinge onder die vlinders – die geel gesiggie, blou gesiggie en Sondagsrokkie – vir stappers uit.

Onder die geveerdes, is dit juis die oranjebors laksman met sy helder roep en die waterfiskaal wat haar opval op die roetes.

Verskeie wandelroetes word by die Voortrekkermonument tans gevestig.

“Die voëlspesies wissel, afhangende van die seisoen, maar ons hoop om ’n verdere aanbod vir voëlkykers te skep. As ons goedkeuring by die stadsraad kry, sal ons graag ’n uitkykpunt by die gwarriegat wil bou,” sê Kruger.

Stappers sal kan kies of hulle ’n begeleide toer saam met Kruger wil meemaak waar sy interessanthede oor die natuur deel, of hulle kan op hulle eie deurstap.

Die roetes is tussen 3,5 km en 5 km elk.

Kruger vertel sy moet self fiks wees om elke dag die staproete te hanteer saam met besoekers, maar stap altyd teen ’n pas wat die groep kan hanteer.

Daar sal ook ’n pakket beskikbaar wees vir die publiek wat ’n staproete, toegang tot die Voortrekkermonument en ’n koopbewys by een van die restaurante insluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button