Local newsNews

Drie Pretoria-Hoopdraers kry toekennings

"Internasionale Maatskaplikewerkersdag is nie net 'n datum op die kalender nie. Dit is 'n dag van eerbetoon." - Christia Potgieter, hoof van die Solidariteit Helpende Hand se Maatskaplikewerkdienste-afdeling.

Altesaam drie van Pretoria se voorste maatskaplike werkers het toekennings vir uitstaande werk van Solidariteit Helpende Hand se maatskaplikewerkdienste-afdeling ontvang om Internasionale Maatskaplikewerkersdag op 19 Maart te vier.

Ontvangers van die Hoopdraers-toekennings is vroeër vanjaar deur die publiek genomineer vir hul passievolle toewyding en die bevordering, herstel en verbetering van maatskaplike funksionering in hulle gemeenskappe.

Nicky McDonald is vir haar werk in die Pretoria-Oos-streek beloon met die toekenning en Suzanne van Deventer vir die Pretoria-streek wat die noorde, weste en Moot-gebied tot by Bronkhorstspruit insluit. Claudia-Lee Hunter van Centurion is vir die Sentraal-streek wat sentrale Pretoria en Centurion insluit, bekroon.

“Internasionale Maatskaplikewerkersdag is nie net ’n datum op die kalender nie. Dit is ’n dag van eerbetoon, ’n dag waarop ons die onbaatsugtige werk van maatskaplike werkers vier wat die stille bouers van hoop in ons samelewing is,” sê Christia Potgieter, hoof van die Solidariteit Helpende Hand se Maatskaplikewerkdienste-afdeling.

Sy benadruk vir maatskaplike werkers is hul beroep nie net ’n werk nie; dit is ’n roeping.

“Die doel van hierdie toekennings is nie net ’n simbool van waardering nie, maar ’n huldeblyk aan die individue wat die ekstra myl stap om ander te ondersteun en gemeenskapslede te help ontwikkel sodat gemeenskappe gesond kan funksioneer. Maatskaplike werkers wat vanjaar vereer is, het nie net ’n verskil gemaak nie. Hulle het diep spore van hoop en positiewe verandering nagelaat in die lewens van diegene wat hulle gedien het. Ons bedank hulle vir hulle onuitputlike toewyding, en ons vier die verhale van hoop wat hulle moontlik gemaak het,” sê Potgieter.

Nege ander hoopdraers in verskeie ander stede en provinsies het ook toekennings ontvang.

Lees: Kom geniet ‘n avontuur van smaak by The Wild Café

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie. 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button