CrimeLocal newsNews

Spanning neem toe met hawelose kamp in 24ste Laan in Villieria

Plaaslike sake-eienaars vertel hul is besorgd oor die situasie rondom die sluipslapers. Hul primêre bekommernisse is veiligheid en sanitasie.

In ’n herhalende siklus van verplasing en terugkeer, hou die hawelose gemeenskap naby die spruit op 24ste Laan sowel as die hoeke van Ben Swartstraat en Fratesweg gewoon aan om daar uit te kamp ondanks talle pogings om dit te keer.

Wat begin het as een of twee mense wat naby die water skuiling gesoek het, het geëskaleer tot ’n groep van om en by agt wat van verskeie steurings en kriminele aktiwiteite verdink word.

Inwoners wat naby die spruit woon is bekommerd oor die aansienlike toename in rommel, geraas en vermoedelike onwettige aktiwiteite wat aangemeld word.

“Ek sukkel al vir dae lank om te slaap. Ek het klein kindertjies en ek wil hulle nie blootstel hieraan nie,” sê een van die inwoners wat langs die spruit bly, Nici van der Schyff.

Sommige inwoners beweer selfs dat die gebied ’n broeines vir dwelmgebruik geword het.

Elma Nel, wyk 54 raadslid van Wonderboom, meen dat dit ’n groot kopseer veroorsaak. “Daar is ’n reuseprobleem met die sluipslapers wat by ons spruite toegelaat word. Net met die inwoners se samewerking om op te hou om vir hierdie mense kos en komberse te gee, sowel as om dit te rapporteer, is die enigste maniere wat hierdie probleem gaan end kry.”

Plaaslike sake-eienaars is ook besorgd oor die situasie en noem veiligheid en sanitasie as hul primêre bekommernisse.

Winkeleienaars langs 24ste Laan rapporteer dat die teenwoordigheid van die sluipslapers tot ’n afname in klante gelei het, Baie word deur die verhoogde kriminele aktiwiteite in die gebied afgeskrik.

Susan Franco, eienaar van Birkner Cellars is moedeloos. “In die aande slaap hulle hier op die grond voor my winkel en hulle verlig hulself deur op die sypaadjie te urineer en te ontlas. Ek moes ten duurste ’n ‘pressure washer’ koop sodat ek elke oggend die gemors kan skoonmaak. Ons het al baie groot kliënte verloor as gevolg van hierdie mense. Iets moet hieraan gedoen word.”

Tshwane-metropolisie en Solid Waste het op Vrydag, 19 April ingegryp en al die besittings van diegene wat in die tydelike kampe woon, verwyder.

Maar net so vinnig as wat hulle weggewys is, het hulle teruggekeer, nuwe meubels gebring en hul daaglikse aktiwiteite hervat, insluitend die maak van vure in die oop veld.

Jurie du Plooy, ’n jarelange inwoner van 24ste Laan, is siek en sat vir die probleem. “Hierdie probleem wil net nie weggaan nie. Die polisie kom en verwyder al hulle besittings en jaag hulle weg. Maar dis nie ’n week nie dan is hulle weer terug, omdat mense weer nuwe meubels en kos aandra vir hulle. Hierdie is ’n baie groot probleem en mense moet ophou om hulle te help.”

Nel herinner die publiek dat daar wel ’n beter uitweg is vir hierdie mense. “Mens verstaan dat die sluipslapers soms in slegte omstandighede beland, maar daar is veilige huise (safe houses) en hawelose skuilings wat hulle kan opvang en versorg. Daar is selfs mediese behandeling tot hulle beskikking sou dit nodig wees.”

Sy noem Number 2 Struben Shelter as ’n moontlike plek. “Hulle vat mans en vrouens van enige ouderdom in. Die kontakbesonderhede is 063 482 0824. Mense kan met Tinyiko Maluleke gesels.”

“Dit is vir my die heel eerste prioriteit dat inwoners hierdie gevalle by die metro polisie rapporteer. Hulle kan bereik word by tmpdcomplaints@tshwane.gov.za,” voeg sy by.

Soos besprekings en opruim-aksies voortduur, bly die gemeenskap hoopvol vir ’n oplossing wat vrede en veiligheid in 24ste Laan kan herstel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button