Local newsNews

Thys die Bosveldklong in intensiewe eenheid in Pretoria-hospitaal

Die grapjas-sanger van Pretoria-Noord is reeds in 2019 met meervuldige sklerose gediagnoseer en het verskeie gesondheidsterugslae sedertdien gehad.

Thys die Bosveldklong (50), die gewilde Afrikaanse grapjas-sanger, is gister van ’n algemene saal in ’n staatshospitaal in Ga-Rankuwa in Pretoria na die intensiewe sorgeenheid oorgeplaas nadat hy breinvliesontsteking en nierinfeksie opgedoen het.

’n Familievriendin, wat vantevore help fondse insamel het vir die sanger, sê die sanger is vandeesweek opgeneem nadat hy simptome van blaasinfeksie, koors en hartkloppings getoon het

Sy bevestig dat sy toestand dermate verswak het dat hy na die eenheid oorgeskuif is.

“Sy ma [Elise Brink] gaan deur ’n moeilike tyd en sal nie graag nou daaroor wil gesels nie,” sê sy.

Brink benodig glo ook tans geld om Thys se seun van die Kaap te laat vlieg.

Die siekte meervuldige sklerose is in 2020 by Thys Streicher (Thys die Bosveldklong is sy verhoognaam) gediagnoseer.

Die toestand tas veral spiere, spraak en beweeglikheid aan.

Streicher is al ’n geruime tyd in ’n rolstoel en woon by sy ma op ’n landbouhoewe in Pretoria-Noord, vertel die familievriendin.

Hy het grappenderwys sy rolstoel “Spoedvraat 1” gedoop.

Thys Streicher stry al sedert 2019 na ‘n diagnose van veelvuldige sklerose aan die outo-imuunsiekte. Foto: Facebook/Thys die Bosveldklong

Die sanger is veral bekend vir sy komiese uitbeeldings, grappige persoonlikheid en lawwe liedjies.

Van sy treffers sluit in “Jaloers-Bokkie”, “Ek Hou Nie Van Werk Nie” en “In die Middel”.

Hy was ook mede-aanbieder van kykNET se TV-program Net vir die Grap.

Hy het die Afri-Indie-musiekprys verlede jaar verower vir sy liedjie “Blommetjie Blom” wat hy in 2022 opgeneem het.

Dit was die tweede keer wat hy in dié gesogte musiekkompetisie presteer het. In 2022 het hy die Afri-Indie-musiekprys vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek gekry.

Suné du Plessis van die sportmaatskappy in Montana, We Play Golf, sê dit spreek hulle harte aan dat Streicher nie sy eie inkomste kan genereer nie.

“Wie het nog nie langs ’n kampvuur gesit en na Thys tydens ’n braai geluister nie?” vra Du Plessis.

Die maatskappy bied op 28 Mei ’n Ghofldag aan om fondse in te samel om vir Streicher geldelike verligting te bring.
Bekendes soos Pieter Smith, Jakkie Louw, Mack Rapapali, LJ, Nadine, Pieter Koen, Liezel Pieters, Piet Pompies, Eloff en Jennifer Zamudio sal op die dag te siene wees.

Sportgeesdriftiges wat wil deelneem, kan ’n e-pos stuur aan jaco@weplaygolf.co.za.

– Kliek hier om na een van Thys die Bosveldklong se bekende liedjies te luister.

LEES OOK: Metro is besig om korrupsieringe stelselmatig uit te roei

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button