Local newsNews

Bejaarde duo vier besonderse mylpale by ouetehuis

Vreugde en dankbaarheid was volop by die viering van Tokkie Wannenburg en Josephine Mabusa se 97ste en 86ste verjaarsdae by SAVF Huis Silversig Aftreeoord.

Twee geliefde inwoners van SAVF Huis Silversig Ouetehuis, Tokkie Wannenburg en Josephine Mabusa, het verlede Vrydag belangrike mylpale aangeteken toe hulle onderskeidelik hul 97ste en 86ste verjaarsdae gevier het.

Die atmosfeer was gevul met vreugde en nostalgie terwyl Wannenburg en Mabusa, omring deur familie, vriende en mede-inwoners, oor hul lang en veelbewoë lewens besin het.

Wannenburg het goeie herinneringe gedeel van haar lewe wat oor byna ’n eeu strek. “Ek is nog altyd baie lief vir brei en skryf. Ek het al oor die 50 bybelboeke en tekste geskryf. Ek is ook baie lief vir inkleurwerk.”

Sy is baie dankbaar dat sy steeds hier mag wees om haar verjaarsdag saam met geliefdes deur te bring. “Dit is net die Here se genade dat ek nog gespaar mag word.”

Die personeel by die ouetehuis het geen moeite ontsien om die geleentheid waarlik onvergeetlik vir die twee vroue te maak nie.

Van die personeel het selfs die verjaarsdagdames asook die gaste bekoor met tradisionele verjaarsdagliedere.

Versierings van blomme en ballonne is ’n bewys van die sterk gevoel van gemeenskap wat die lewe by die ouetehuis definieer.

Tokkie Wannenburg en Josephine Mabusa se verjaarsdagkoek.

“Ons is ongelooflik geëerd om sulke belangrike mylpale saam met tannie Tokkie en tannie Josephine te vier,” sê Ilona Fortuin, een van SAVF Huis Silversig se toegewyde vrywilligers.

“Hul wysheid en blywende geestigheid inspireer ons almal en herinner ons aan die skoonheid en rykdom van die lewe op elke ouderdom.”

Mede-inwoners wens Josephine Mabusa en Tokkie Wannenburg geluk.

Wannenburg en Mabusa het almal bedank vir die liefde en ondersteuning wat hulle op hierdie spesiale dag omring het.

“Baie dankie aan almal wat saam kom kuier het, ons waardeer julle elkeen,” het beide na afloop van die viering gesê.

Fortuin het haar dankbaarheid uitgespreek vir al die bydraes wat gelewer is. “Ek wil net ook baie dankie sê aan al die besighede sowel as almal anders wat bygedra het wat koek en koeldrank geskenk het en bygedra het tot die feestelikheid van vandag, dit word regtig waardeer.”

Sy moedig die publiek aan om hulle harte oop te maak. “As enigiemand dit in hulle harte kan vind om enige skenkings te maak, veral tydens vakansies soos Kersfees, sal die oumensies vreeslik dankbaar wees.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button