Akteurspaartjie se reis saam na die kollig

'n Veelsydige akteurspaar se liefde vir die Moot kry nou ook gestalte landwyd in twee speelvakke van 'n eenmanstuk oor die geliefde Pretoria-buurt.

Die glimlaggende en aantreklike akteurspaar, Kaz McFadden en Lara Lourens, werk al reeds tien jaar saam agter die kameras en op die verhoog.

Die veelsydigheid van die paar leen hom tot ’n betekenisvolle impak op nie net die studente by die ateljees van die Performing Arts Lifestyle Institute nie, maar ook op die film-, teater en TV-wêreld in Pretoria en Suid-Afrika.

En bes moontlik, eersdaags met ’n nuwe film.

Maar hieroor kyk hulle net so stuitig onderlangs vir mekaar. Hulle is saam in die saal met beide se goed ontwikkelde humorsin en geslypte vaardighede.

“Net soos die spreekwoord wat sê dit neem ’n volle dorpie se poging om ’n kind groot te kry, so verg dit ’n spanpoging om iemand vir die filmwêreld toe te rus,” meen McFadden.

Hy is ’n gebore en getoë Pretorianer wat na sy skooljare op Hoërskool John Vorster in die Moot eers as ’n advertensieverkoper gewerk het en toe mettertyd film en TV-roem verkry het met rolle as akteur in TV-reekse soos Ouboet en Wors, Erfsondes, Binnelanders en Villa Rosa.

Sy ma het sy dramatalente raakgesien en hom ingeskryf by Shareen Swart se dramaskool, die Performing Arts Lifestyle Institute.

Vandag staan hy aan die hoof van die instituut met Lourens as fasiliteerder. Swart is in 2018 oorlede.

“Dis ’n slypskool vir talent. Ons laat ervare kunstenaars die nuwelinge oplei en voorberei vir die TV- en filmbedryf sowel as die verhoog met ’n drie-jaar kursus wat alle fasette van die mededingende bedrywe insluit,” verduidelik hy.

Lourens was vir haar eerste rol as Koekie de Kock in die Willie Esterhuizen-sitkom Huis Lelieveld te siene.

Lara Lourens en Kaz McFadden in die ateljee van die Performing Arts Lifestyle Institute in Pretoria-oos.

Sy het in 2017 haar eerste politieke satire, Saving Azania, geskryf.

Hul kortfilm Hoe om ’n perd te teken het twee bekronings by die kykNET Silwerskermfees gekry. Lourens was ook ’n vervaardiger, skrywer en regisseur  op die TV-film, ’n Man se Plek, en akteur in die 2024-film, Brakpan Bruilof. Sy het ook Dolly in die tweede reeks van Vetkoekpaleis gespeel.

Die paar is opgewonde oor ’n produksie wat hulle na aan die hart lê. Stuur groete vir die Moot sal eersdaags in Julie by die Vryfees in Bloemfontein te siene wees.

McFadden is die akteur en die teks is geskryf deur Lourens wat ook die regie daarvan sal doen.

Die stuk het verlede jaar sy debuut in die Wilge-teater in Pretoria gehad.

In Stuur Groete vir die Moot kyk ’n siniese jong man 15 jaar na ’n verwoestende tragedie terug na die verlede om sin te maak van die gebeure wat gelei het tot ’n plofbare situasie waarin sy gesin hulself bevind het.

Vir McFadden is die Moot “die beste plek in die wêreld met sout van die aarde mense en interessante stories en lewensverhale”.

Lourens kom uit ’n huis waar skryf ’n lewenswyse is. Haar ma, Charmaine Lourens, is redakteur van ’n gemeenskapskoerant op Bela-Bela.

“Om op te tree, vervaardiger en regisseur te wees, is heerlik, maar skryf gee my vrede,” sê die talentvolle dramaturg en draaiboekskrywer.

Beide bring eer aan wyle Schalk Schoombie, akteur en dramaturg, by wie hul veel geleer het, sowel as voorganger in die bestuur en stigter van die instituut, Shareen Swart.

Vir Lourens bly die bekoring van die verhoog en teater die onvoorspelbaarheid daarvan.

“Enigiets kan gebeur wanneer die gordyn lig en die ligte aangaan. Daarom is ek mal daaroor,” vertel die professionele Lourens. “Jy moet egter as regisseur jou speler kan vertrou,” sê sy en haar blik ontmoet vlugtig ewe liefdevol dié van McFadden.

Alhoewel sy nog nie in die Moot gewoon het nie, lê hierdie area van Pretoria haar ook na aan die hart.

“Dis ’n plek waar mense nog hul bure ken. Ek hou van hoe die mense daar kommunikeer en die mooiste Afrikaans praat,” sê sy.

– Kliek hier vir ’n skakel na produksiemaatskappy The Third Law se storiefilm, Dina Dagbreek:

https://www.facebook.com/watch/?v=1060970871197408

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Hierdie artikel is gewysig.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version