Brulbende help ouetehuis om sentrum vir gestremdes te help
Wanneer mense hande vat kan lewens verander. Die ou beginsel was weer duidelik toe 'n klub motorfietsryers besluit het om 'n wenslysie goedere wat deur 'n aftreeoord ingesamel is, te gaan haal en eersdaags te gaan aflewer by 'n huis vir intellektuele gestremdes.
Op Vrydag, 24 Mei is daar tydens ’n funksie by Ruimtesig Aftree-Oord in Koedoebergweg, Faerie Glen ’n fondsinsameling gehou om die Qumi-tehuis vir intellektueel gestremdes oos van Pretoria te ondersteun.
Jaconet Rautenbach, skakelbeampte van die aftreeoord, sê een van die werknemers, Edwin Barnes, behoort aan ’n tak van die motorfietsklub, Code of Honor.
“Ons inwoners het dadelik ingestem om te kyk hoe hulle kan bydra en het dit met liefde en omgee gedoen,” sê Rautenbach.
Die tehuis het in 2007 tot stand gekom nadat die Cullinan sorg- en rehabilitasiesentrum gesluit is.
Verblyf en sorg word aan meer as 30 inwoners van 18 tot oor 80 jaar in ’n aantal huise op ’n terrein in Rayton deur die tehuis voorsien.
Hul dagprogramme maak ook voorsiening vir deelnemers uit die area op ’n daaglikse basis.
Barnes het die insamelingsinisiatief onder die inwoners van die oord van stapel gestuur as deel van die groter Gautengse klub se jaarlikse bydrae tot die welsyn van gemeenskappe.
Hy sê die plaaslike tak kies elke jaar ’n welsynsprojek wat saam met hul lede en gemeenskappe aangepak word omdat hulle glo dat as ’n groep hulle ’n werklike verskil kan maak.
Barnes het sy vriend Christo Bronkhorst, programbestuurder by Qumi-huis, genader met ’n projekvoorstel waartoe die bestuur ingestem het.
Barnes en Rautenbach het die inwoners van die aftreeoord genader om pakkies op te maak vanaf die wenslys van die bestuur van die Qumi-huis.
“Ons doen dit ook uit dankbaarheid vir al die seëninge wat ons self in ons lewens het,” sê Barnes.

Hy voel ook weens die feit dat die tehuis nie so bekend aan inwoners is nie, dat die behoeftes nie soveel aandag kry as wat nodig is nie.
“Hulle lê ons na aan die hart,” vertel Barnes.
Die inwoners wat aan die insamelingsprojek deelgeneem het, is op ’n funksie getrakteer waartydens een van die lede van die motorfietsklub, Freddie Spires, gesing en groot opgewondenheid onder die senior burgers met sy goue treffers veroorsaak het.
Die ingesamelde goedere, soos toiletware en kos, sal deur die verskillende klubs van Code of honour op 6 Julie na Qumi-huis geneem word.
Skenkings kan aan Qumi-tehuis gemaak word deur die bestuurder, Jeanette van der Merwe, te kontak op 071 609 1070.
Die tehuise se wenslysie is soos volg: Toiletgoedere (waslappies, seep, tandepasta, aansmeerdeodorant, handdoeke en room) sowel as materiale vir hul dagprogramme soos inkleurpotlode, kryte, bordkryt, skertjies, gom, gekleurde papier, plakkers, houtlym, verf en kwassies.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


