Local newsNews

Deurlopende boomdiefstal in CR Swartrylaan

“Ons het die bome verlede jaar aan die begin van die reënseisoen geplant vir die beste kans op oorlewing."

Al hoe meer bome verdwyn glo in CR Swartrylaan soos boomdiefstal die gebied teister.

Queenswood-verteenwoordiger van Die Moot Projek, Brink Oosthuizen sê, “Ons moes nou 22 bome vervang. Ons het Vrydag sewe geplant, en vandag is nog een reeds gesteel.”

Prof. Johan Oberholster, ’n medestigterslid van Die Moot Projek, het die gemeenskap se frustrasie gedeel: “Ons het die bome verlede jaar aan die begin van die reënseisoen geplant vir die beste kans op oorlewing. Die eerste sewe bome is reeds gesteel binne ’n maand nadat ons dit geplant het. Ons het nie die diefstalle by die owerhede aangemeld nie, maar ons het die voorvalle op ons sosiale media-platforms soos WhatsApp-groepe en Facebook gedeel.”

In ooreenstemming met die beginsels van die “Broken Window Theory”, het Die Moot Projek die gesteelde bome onmiddellik vervang en verdere skenkings van die plaaslike gemeenskap ontvang.

Ten spyte van hul pogings, duur die diefstalle voort. “Ons spekuleer uiteraard, maar vermoed dit word gesteel deur mense in die Moot of naburige gebiede wat glo dat die bome deur Tshwane geplant is en kwaadwillig probeer om Tshwane se pogings te ondermyn. Die diewe plant waarskynlik die bome in hul tuine, want hulle groei tot pragtige, groot bome,” verduidelik Oberholster.

Meer as 120 Vanwykshout-bome is langs die middellyn van CR Swartrylaan geplant om ’n laning van inheemse bome te vestig.

Hierdie inisiatief is deel van Die Moot Projek se pogings om die Moot te verfraai. “Stel jou voor hoe mooi dit sal lyk om oor ’n paar jaar ’n hele laning bome met welige blare en trosse pers blomme te sien,” sê Oberholster.

Die diefstalle het nie net die mooimaakprojek belemmer nie, maar het ook die gemeenskap op ’n dieper vlak geraak.

Baie van die geskenkte bome is geplant ter nagedagtenis aan geliefdes, wat hul verlies nog meer tragies gemaak het.

Een inwoner deel: “Ek het ’n boom geskenk sodat my seun se wortels, waar hy ook al mag gaan, steeds in die Moot gewortel sal wees.”

Oberholster het self drie bome geskenk ter nagedagtenis aan sy oorlede ma, suster en geliefde peetma, terwyl sy vrou ’n boom ter nagedagtenis aan haar ma geskenk het. “Hierdie ‘gedenktuin’ het baie sentimentele waarde vir mense,” voeg hy by.

Die gemeenskap bly hoopvol dat die volgehoue pogings en waaksaamheid van Die Moot Projek en sy ondersteuners uiteindelik die diewe sal afskrik en sal toelaat dat hul visie van ’n pragtige, boomryke CR Swartrylaan ’n werklikheid word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button