Steeds stroom-op: Dis hoe dit is met Steve
Die omstrede sanger, Steve Hofmeyr, laat hom nie terughou in sy loopbaan nie. In 2025 vier hy sy 60ste verjaarsdag met 'n luisterryke konsert van sy treffers oor die jare.
’n Ouditorium met meer as 6 800 sitplekke is reeds vasgemaak vir die reuse Ikoon-konsert van omstrede sanger en akteur, Steve Hofmeyr vir sy verjaarsdagkonsert volgende jaar.
Die konsert sal op Saterdag 1 Maart 2025 plaasvind om sy 60ste verjaarsdagjaar te vier – al val die eintlike dag op 29 Augustus.
Hofmeyr se mees onlangse konsert by die Voortrekkermonument, Steve doen Steve- Ek sing wat ek wil, het meer as 20 000 bewonderaars getrek.
Die omstrede sanger se optredes is in die verlede gekanselleer of deur homself gesystap na omstredenheid.
Maar dit gaan nie ’n stokkie steek voor Hofmeyr se vasberadenheid om voor sy bewonderaars op te tree nie.
“Ek het nie vir een oomblik in die laaste dekade gedink dat enkele elites ons ooit sal voorskryf oor ons harte, siele, kunste en kultuur nie. As die mees geboikotte wit sanger in Afrika, het sulke voorskrifte egter geen duik gemaak op my loopbaan, konserte, musiek of sieninge nie,” het Hofmeyr aan Rekord gesê.

In 2023 het hy besluit om nie meer deel te wees van Lefra-produksies se Kappityt-fees op ’n Simfonia-boot nie as gevolg van skielike kontrakveranderings.
’n Konsert in Caledon is in 2018 na druk van die publiek gekanselleer.
’n Konsert in George kon voortgesit word na klagtes oor sy optrede deur die verhuurders van die terrein, die munisipaliteit.
In 2019 het hy hom onttrek van die Afrikaans is Groot-konserte en het sedertdien nie daaraan of aan ander reuse Afrikaanse musiekkonserte deelgeneem of op uitnodigings daarvoor gesit en wag nie. Hy was wel by die gewilde huldigingskonserte aan Theuns Jordaan aan die einde van 2023.
“Ek het ook nie tyd om te wag vir die selfkastyders van my volk nie. Daar is musiek wat gemaak moet word, ’n kultuur wat gevier moet word, geskiedkundige bydraes wat geëer moet word en ’n erfenis om uit te basuin – as jy so trots is soos ek!” sê Hofmeyr.
Die omstrede sanger is in die onlangse verlede voor stok gekry vir verskeie van sy uitsprake en gedrag deur instansies soos die Menseregetekommissie.
Daar was ook onlangs veel omstredenheid toe hy as stemkunstenaar van die Vryheidsfront Plus se verkiesingsadvertensies gekies is.
Maar Hofmeyr stoom voort.
Hy bring die room van Suid-Afrika se kunstenaars byeen in ’n grootskaalse produksie waarin hulle sy grootste treffers gaan sing.
Sy gewildste lied bly sy vertolking van die Country-liedjie “Amanda” tesame met Demi Lee Moore.
“Ek en Demi Lee het nasionaal en wyer emosionele goud raakgeboor. Daar is ook goeie tydsberekening, baie geluk en twee stemme wat goed saamwerk, betrokke. Die YouTube video is al 21 miljoen keer gekyk en word daagliks steeds ontdek in alle tale en lande,” vertel hy.
Op die musiekstroomdiens Spotify wys Hofmeyr se vertolking van hierdie liedjie het 4 674 301 trefslae as die liedjie waarna sy aanhangers die meeste na luister. Kort op die hakke daarvan is “Die Land” (4 242 464) en “Pampoen” (2 445 632).
Meer as 140 530 bewonderaars volg Hofmeyr maandeliks op die platform.
Die Ikoon-konsert vind by die groot Moreleta Kerk plaas, met kunstenaars soos Juanita du Plessis, Kurt Darren, Jay du Plessis, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Ricus Nel, Demi Lee Moore, Armand Hofmeyr, Nádine en Bok van Blerk.
Die Pretoria-sanger, Nádine het reeds op haar Facebookbladsy haar bewonderaars genooi om die aand na haar te kom luister. Sy gee eer aan Hofmeyr vir die skryf van een van haar grootste treffers, “Kaapse draai”.
Sy nuutste liedjie oor ’n Bybelfiguur, Rut, is op 24 Mei vrygestel met die titel “Rut” en is ’n produk van sy KI-liedjieskryf-proefneming.
Hy verduidelik dit is wel sy stem en sy lirieke op die enkelsnit, maar die musiek en vrouestem word deur kunsmatige intelligensie gedoen via ’n platform, SUNO.
Hofmeyr is van mening dit is die eerste Afrikaanse KI-vennootskapsliedjie.

Hy het die skepping vir ’n rede gedoen.
“Die eenvoudige rede is dat dit maklik is, en ek eerste wou wees terwyl almal nog redekawel oor KI. Die dieper ironie is dat ek Ou Testamentiese teks kon inpons by die mees onlangse tegnologie op die musiekfront. Ek dink die liedjie het mooi uitgekom en ek sal steeds die lied volledig wil opneem en sing saam iemand,” verduidelik Hofmeyr.
Hy het ’n spesifieke opinie oor die toekoms van musiek met KI as medewerker of bron.
“KI is al lankal met ons, of jy in jou fabriek outomatiseer of op jou plaas meganiseer. Daar is tog etiese vrae. Ek vrees self die moontlikhede, maar uiteindelik sal daar méér musiek wees in die wêreld, nie minder nie. Dit moet goed wees,” meen Hofmeyr.
Rut wat haar volk van uitwissing gered het, gryp Hofmeyr se verbeelding aan.
“Haar verhaal spreek al jare tot my, veral haar grootse voorbeeld van krag en onbaatsugtigheid.”
– Luister en kyk na Hofmeyr se enkelsnit “Rut”:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
