Lewende musieklegende stel nuwe album eersdaags vry op 78
Die Liedjieboer, Anton Goosen, het ’n nuwe geil oes op die land. Hy het op 24 Mei sy legendariese staal in die Atterbury-teater gewys met die splinternuwe sagte blues enkelsnit, “Bly by my (my lief)”, vanaf sy nuwe album, Sirkels. Die album sal eersdaags uitgereik word en bevat nege nuwe liedjies en sluit ballades en …

Die Liedjieboer, Anton Goosen, het ’n nuwe geil oes op die land.
Hy het op 24 Mei sy legendariese staal in die Atterbury-teater gewys met die splinternuwe sagte blues enkelsnit, “Bly by my (my lief)”, vanaf sy nuwe album, Sirkels.
Die album sal eersdaags uitgereik word en bevat nege nuwe liedjies en sluit ballades en protesliedjies in.
Goosen het die gedig van Antjie Krog, Bly by my, getoonset as lirieke en die woorde “my lief” tot die titel toegevoeg.
“Om verwarring te voorkom want daar is al sulke liedjies in Afrikaans,” het hy opgemerk, sy respek duidelik vir een van Afrikaans se voorste digters.
Goosen het vertel hoe hy en Krog beide van Kroonstad kom en hulle ma’s maats was.
Saam met blues-meester kitaarspeler van Pretoria-oos, Illimar Neitz, het die twee die gehoor meegevoer op ’n nostalgiese reis van die 40 jaar wat Suid-Afrika al na die unieke stem en blik van die Afrikaanse vader van rock op die lewe, die samelewing en die liefde luister.
Hy vertel deurlopend gedurende die vertoning getitel Liedjieboer 78 RPM (volgens hom Rewolusies Per Minuut) staaltjies en anekdotes rondom die versoeke vir liedjies uit die gehoor.
Die liedjies speel hy en Neitz sommerso van die heup af spontaan en meesal impromptu met ’n kitaarruiling of twee.
Daar is maar bitter min woorde van Neitz se kant wat eerder met die snare dikwels ook in die tradisie van Mark Knopfler-solo’s speel, en die liedjies hul eie verhale laat vertel.
Die duo reis reeds ’n ruk saam die land vol – van Loopstraat in Kaapstad tot Paternoster – en het onlangs rondom die vrystelling van die nuwe enkelsnit weer in die pad geval.
Afrikaans se bluesrock-tweeling verstaan mekaar woordeloos met net ’n kopknik hier en daar om met die vertoning voor te gaan.
Meer is nie nodig nie as hierdie stil respek tussen twee meestermusikante en vertolkers van Goosen se herkenbare lirieke en melodieë.
Die nuutskepping is goed deur die gehoor ontvang en Goosen en Neitz is toegejuig.
Goosen was vol stories en het geselserig vertel van die dae toe hy temaliedjies vir films en TV-reekse soos Trompie geskryf het en selfs ’n liedjie vir die padveiligheidsbewussynsveldtog rondom Daantjie Kat.
Hy het ook onthul dat sanger Valiant Swart destyds vir ’n ruk die rol van die veilgheidsbewuste kat gespeel het.
Die legendariese Goosen het al 20 albums uitgereik. Sy eerste groot treffer was die liedjie Kruidjie-roer-my-nie.
Een van die liedjies waarvoor die gehoor uitgeroep het, was Goosen se biografiese liedjie oor Silver de Lange, konsertinaspeler van faam.
“Silver met ’n V,” het Goosen beklemtoon en vertel hoe die bekende Ollie Viljoen veel respek vir De Lange gehad het.
Neitz en Goosen se vertolking van die liedjie oor die swerwer met die silwer konsertina het die luidste applous van die aand gekry.
Ander liedjies wat die gehoor wou hoor is “Beste Henry”, “’n Brief vir Simone” en “Bokkie Baby”.

Die tempo van die vertoning is goed afgewissel met solo’s deur Neitz wat Goosen gerieflik agteroor laat rus het met sy pet so effens teruggedruk om Neitz se vertolkings te geniet.
Hy het vroeg verduidelik die donker bril op die verhoog is nou ’n voorvereiste oor die skerp ligte.
Goosen het ’n draai in die verlede gaan maak met vertellings rondom liedjies van hom wat verbied is in die tagtigerjare (soos “Kalbassies”) asook die verwarring wat bestaan rondom die skryf van die ikoniese Afrikaanse liedjie “Skipskop”.
Die skrywer hiervan is David Kramer alhoewel die skryf van die liedjie oor gedwonge verskuiwing van die inwoners van ’n dorpie naby Bredasdorp in die Overberg, wat in 1986 vir die eerste keer gehoor is, dikwels aan Goosen toegeskryf word.
“Niemand wil my hieroor glo nie,” het Goosen geskerts en vertel hoe hy in die Paarl die debat daaroor ’n slag onbeslis gelaat het toe ’n bewonderaar daarop aangedring het dat dit wel Goosen se lied is “want my ma sê so en sy lieg nooit nie”.
Goosen se liedjie oor gedwonge verskuiwing van die inwoners van Distrik Ses, “Hanoverstraat” is wel reeds in 1977 deur Sonja Herholdt vrygestel.
Soos net ’n gebore storieverteller kan, het Goosen die agtergrond van die gewilde liedjie “Geelperskereën” vertel. Die refrein lui: “As die geelperskereën veertien dae in die boorde val, Dan hoor jy hoe die railway-perskes in die ketel val”.
Hy het vertel vanwaar die woord “railway-perskes” in die liedjie vandaan kom: Perskepitte is glo eens dikwels by die venster langs ’n spoorlyn in die destydse Wes-Transvaal uitgegooi en mettertyd het die vrugtebome daar gegroei.
Tot groot vermaak van die gehoor het Goosen ook heel droog vertel van ’n eertydse vertoning in Wolmer in Pretoria.
“Ek het gevoel hier kan jou hub-cap afgehaal word terwyl jou kar beweeg.”
As Bob Dylan nog op 82 kan toer, voel Goosen is hy heeltemal reg om op 78-jarige ouderdom af en toe sy Gansbaai-tuiste vir die pad te kan verruil.
Saamsingliedjies soos die “Byeboerwa” en “Harlekyn” het ’n medley gevorm waarmee die gehoor woord-vir-woord a-capella saamgesing het met Goosen wat skalks glimlag vir die spontane vertolking van sy nou volkseie lirieke.
Maar dit is ook die nuwe liedjie “Bly by my, my lief” wat in jou kop draai wanneer jy uitstap.
Dalk moet die vertoning eerder Liedjieboer 78 n.u.n. (nie uit nie) lui.
Die legende is terug en die oes is reg om van die land afgehaal te word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.