Local newsNews

Doornpoort-inwoners woedend oor metro se meter-gepeuter bewerings

Doornpoort-inwoners is moedeloos nadat die metro se bewerings van knoeiwerk aan kragmeters tot reuse-boetes lei.

Verskeie Doornpoort-gebruikers van elektrisiteit, hetsy voorafbetaal (prepaid) of ’n maandelikse rekening, is omgekrap omdat hulle glo herhaaldelik deur die metro beskuldig is dat hulle met elektrisiteitsmeters sowel as die munisipale kragboksmeters op die sypaadjies gepeuter het.

Hierdie inwoners voel “afgepers” en “in ’n hok ingedruk” sonder enige uitweg om by die metro antwoorde of uitkoms te vind.

Talle van die inwoners het bewyse aan Rekord gegee dat hulle ten einde raad, nadat hulle krag afgesny is oor sulke bewerings van ’n gepeuter, die R27 000 boete betaal het om hul krag terug te kry.

Hulle voel hierdie betalings moet geensins as skulderkennings gesien word nie. Die inwoners is van mening hulle sou ’n appél daarteen kon insit.

Alhoewel vele van hierdie inwoners ten volle met sonkrag toegerus is, koop hulle wel voorafbetaalde krag.

Een van die besware van ’n inwoner wat anoniem wil bly, is dat die metro geen bewyse kan lewer nie, veral nie dat ’n spesifieke beskuldigde inwoner aan munisipale kragbokstoevoer of ’n meter gepeuter het nie.

“Die probleem is Tshwane se kragbokse op die sypaadjies staan oop. Dit is nie gesluit nie. Waar is die bewyse dat dit juis óns en net óns is wat met die meter gepeuter het? Dit kan mos ook die bure of Tshwane self wees? Met kragbokse het enige een toegang daartoe,” sê ’n moedelose inwoner.

Sy is al tweede keer van knoeiwerk beskuldig.

“Ek kan eerlik waar nie meer as R60 000 betaal en beskuldig word omdat hul eiendom nie beskerm is nie,” sê sy. “Moet ek nou diefwering vir my kragmeterboksie in die kragboks laat maak?”

Sy is moedeloos oor haar vrugtelose stryd om antwoorde op beide besware by verskeie metro-amptenare te verkry.

“Die personeel wou my nie die meter wys wat hulle uitgehaal het nie. So, hoe kan hulle bewys dat dit nie hulle was wat draadjies geknip het nie?” betoog sy.

Nog inwoners sê egter dat ten spyte van talle pogings om hul rekenings te vereffen, hulle ook nie hond haaraf van beskuldigings en bewerings kon maak nie.

Dit nou ten spyte van verskeie besoeke aan beide Tshwane-huis en munisipale kantore in Akasia.

Een van hierdie inwoners verduidelik hy het op 14, 16, en 20 Mei aan die metro geskryf oor die beweerde gepeuter.

Doornpoort-inwoners voel hulle word valslik beskuldig van kragmeter-gepeuter en moet onnodig en onskuldig boetes betaal voordat hulle weer die krag aangeskakel kan kry.

Hy het die boetebedrag betaal net om weer krag te kan kry omdat die oplossingsproses rondom die klagte so lank geneem het.

“Ons voorafbetaalde meter is deur die metro aan die begin van Mei van ons perseel verwyder. Ons word deur die metro daarvan beskuldig dat ons met die meter gepeuter het. Die werknemer van Tshwane kon egter nie vir ons ’n bewys van so ’n gepeuter toon nie,” vertel hy.

Hy is op aanbeveling na die munispale kantore in Akasia.

Ten spyte van sy pogings om konstruktief ’n oplossing te soek om ’n terugbetaling vir sy betaalde boetebedrag te kry, het hy nog geen erkenning of terugvoer van die metro of vertoë aan die burgemeesterskantoor ontvang nie.

“By die munisipale kantore in Rosslyn het hulle gedreig om ook ons water af te sny indien ons nie die boete vir die beweerde metergepeuter betaal nie.”

Geen bewyse van beweerde knoeiwerk kon aan hom gegee word nie.

Een inwoner wat vasberade die stryd aangepak het, moedig ander aan om aan te hou.

Sy moes munisipale kantore in Akasia, in die stad sowel as in Centurion en Parkstraat besoek voordat die metro erken het hulle het ’n fout begaan en dat sy haar nie aan knoeiwerk skuldig gemaak het nie.

Sy kla dat sy by al die punte van die metro “soos ‘n dief behandel is”.

“Hierdie kamma gepeuterstories in Doornpoort ruk hand uit. Toe ek weer sien, was ons meter heeltemal verwyder. Geen kennisgewing op hek of posbus nie. Die Tshwane-hulplyn sê my meter is verwyder oor ons herhaaldelik daarmee gepeuter het. Ek sê toe dit is bog,” vertel die inwoner.

Uiteindelik kon sy in Parkstraat met amptenare ’n gesprek voer waar sy hulle daarop kon wys dat verkeerde foto’s gebruik is om haar te beskuldig.

Hier moes metro-amptenare ook erken dat aangesien die kliënt nie voorafbetaalde elektrisiteit koop nie en maandeliks betaal, dit nie sin maak om haar meter te verwyder nie.

“En net so skielik en sonder enige verdere verduideliking of verskoning, is alles reg gestel en ons boetes is van ons rekening afgehaal. Maar niks maak sin nie. Ons was deur drie dae se hel om dit reggestel te kry. Ek wil hê mense moet weet wat hier gebeur. Die feit bly staan dat hier iets baie verdag aan die gang is,” beweer sy.

“Daar is blykbaar tonne mense met wie hierdie boete-oplegging van ’n beweerde gepeuter gebeur. Hulle betaal net om krag te kan kry en dan kry hulle nooit hul geld terug nie.”

Doornpoort-inwoners is ontstoke oor die wyse waarop die metro hul behandel na bewering van kragmeter knoeiwerk.

Metrowoordvoerder Lindela Mashigo sê die metro het ten opsigte van sekere klagtes bewyse dat daar wel met meters gepeuter is.

Hy het ’n uitnodiging aan diegene gerig met sulke klagtes.

“Ons kan net nie die bewyse publiek maak nie,” sê Mashigo. “Die stad het wel bewyse en dit kan aan kliënte en hul regsverteenwoordigers gewys word.”

Hy sê die metro sal ondersoek instel oor hoekom min of geen hulp aan gebruikers gebied is nie.

“Hulle het dalk die versoeke na die verkeerde departement gestuur. Die aansoek vir heraansluiting word hanteer deur die Departement van Finansies nadat die boete vir die gepeuter betaal is,” verduidelik Mashigo.

Op bewerings dat metrobeamptes inwoners dreig met die afsny van dienste tydens die verwydering van dienste, benadruk hy dat metro-tegnici opgelei is om meters net te verwyder en instruksies het om nie kliënte te intimideer of te dreig nie.

“Kliënte kan sulke bewerings aan ons noem en dit sal ondersoek word,” sê Mashigo.

Hy sê dat die kliënte se meters gediskonnekteer word op bewyse dat daar gepeuter is sonder enige inagname van hul aankooppatroon van voorafbetaalde krag of die feit dat daar ’n sonkragstelsel is.

Vir enige probleme met voorafbetaalde meters, skakel die Tshwane-inbelsentrum by 012 358 9999 en volg die stemboodskap. Die tolvrynommer kan by 080 1111 556 ook gebruik word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button