Local newsNews

Brink bly waar hy is, nasionale of provinsiale poste nie op die kaarte nie

Die burgemeester, Cilliers Brink, beoog nie om enige ander pos na die onlangse verkiesing op nasionale of provinsiale vlak te beklee nie.

Burgemeester Cilliers Brink het bevestig dat hy aanbly as ’n raadslid van die metro en as uitvoerende burgemeester solank as wat die DA en die multiparty koalisieregering van die metro vertroue in hom het.

Geen posisie sal na die Mei-verkiesing deur hom in die Parlement opgeneem word nie en hy sal ook nie by die Gauteng-parlement as ’n verteenwoordiger van die DA na die verkiesing dien nie.

Só is daar bevestig by ’n byeenkoms van beleggers van PSG Wealth op 6 Junie in die Atterbury-teater.

Hy wou hom egter nie uitlaat oor onderhandelings wat tans oor moontlike koalisieregerings op nasionale vlak tussen politieke partye besleg word nie.

“Ek los dit aan ons partyleier John Steenhuisen oor, maar een ding is seker, onderhandelinge gaan gekompliseerd wees,” sê Brink.

Hy het die podium gedeel in bespreking met joernalis Lourensa Eckhard om die politieke en ekonomiese klimaat na die verkiesing te verken.

Lia Blomerus en Belinda Scheepers van Pretoria-oos

Brink is optimisties oor die toekoms van SA post-verkiesing.

Hy put veral moed uit die sukses van die Rooiwal-watersuiweringswerkeprojek en die opgradering van die Klipdrift-waterbehandelingswerke in Hammanskraal. Dit dien, volgens hom, as ’n voorbeeld van hoe die ANC op nasionale regeringsvlak en die koalisieregering van die metro reeds tot die voordeel van inwoners saamgewerk het.

Hy glo dit kan as ’n model vorentoe dien.

Die twee projekte word opgegradeer ten koste van miljoene en sal die voorsiening van skoon water in Hammanskraal aan 47 000 inwoners by voltooiing verseker. Die opgradering van Rooiwal word deur die Ontwikkelingsbank as die implementeringsagent hanteer en in fases gedoen met die metro wat in die 2024/25-begroting weer ’n bedrag van R150-miljoen daarvoor voorsiening gemaak het.

Dr. JJC en Hester Sauer

Hierdie voorbeeld van samewerking tussen die Minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, en die metro is ook deur Brink as voorbeeld voorgehou van hoe ’n koalisieregering kan werk wanneer die regte politieke ruimte daarvoor geskep kan word.

Hy het daarop gewys dat die bekamping van misdaadkwessies wat Pretorianers kwel, soos die huidig toenemende huidige ysterpenlokvalle, steeds ook ’n polisie-verantwoordelikheid is en nie alleen deur die metropolisie hanteer kan word nie.

Leon Ferreira en Ehan Lategan van Pretoria-oos

Volgens hom is daar ’n merkbare verbetering in wetstoepassing deur die metropolisie sedert nuwe aanstellings.

“Die metropolisie, onder leiding van die nuwe kommissaris Yolanda Yaro, se fokus het verskerp en daar is ’n sigbare en aanvoelbare kultuurverandering in die metropolisie. Sy het ’n bewese rekord van streng en ferm wetstoepassing,” sê Brink.

Sy onlangse besoek aan die gesin van die vyfjarige seuntjie van Soshanguve, Di-Tebogo Phalane, wat in ’n motorkaping doodgeskiet is, het hom oortuig dat daar gewaak moet word teen die verval van wetstoepassing in gemeenskappe.

“Waar daar geen sigbare en doelmatige regering en wetstoepassing is nie, soos in hierdie gedeelte van Soshanguve genaamd Jukulyn, stort gemeenskappe in duie,” sê hy.

Brink glo ’n paar faktore tel in Suid-Afrika se guns na die verkiesing.

“Ons demokrasie begin nou werklik werk soos dit moet en volgens grondwetlike voorskrifte wat 30 jaar gelede in die grondwet ingeskryf is. Ons is nie meer ’n eenpartystaat nie,” sê Brink.

Marianne Verloren van Temaat en Cornelius Olivier

Hy maan egter teen ’n oppervlakkige ontleding van verskiesingsuitslae.

“Ons moet steeds onthou daar was nie ’n goeie opkoms by die stembus nie,” sê hy.

’n Groeiende landekonomie, ook ’n gesonde stads-ekonomie, is vir Brink die beste roete om vorentoe te gaan.

“Die gematigde middelgrond van landsburgers wat iets het om te beskerm en geleenthede wil ontgin, is ons redding en dit is waarnatoe enige regering nou na moet werk,” benadruk hy.

Hy maan teen die instelling van enige regering op welke vlak ook al wat nie wesenlike verandering gaan bring nie en glo die afgelope paar jaar se gevolge gaan nog lank gevoel word in terme van staatskaping se uitwerking op vele vlakke.

Hy verwys na die onlangse opbreek van korrupsiesirkels in die metro en metro-beamptes wat rondom beweerde tenderbedrog tydelik geskors is.

“Kaderontplooing bly ’n risiko waarteen enige regering steeds sal moet waak. Ons kan nie die status quo handhaaf nie,” maan hy.

Die politieke kommentator en joernalis van TV-programme Carte Blanche en In Gesprek, Lourensa Eckard, deel Brink se optimisme.

“Daar is genoeg tekens om te glo die verstandiges sal tot ’n vergelyk kan kom. Ons het ook al erger tye beleef,” glo Eckhard.

Volgens haar is hoop alleen egter nie ’n stategie nie.

“Die burgerlike samelewing het nou ’n belangrike rol om te speel. Neem deel en wees betrokke by regering en gemeenskappe,” moedig sy aan.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button