Moedelose Lyttelton-inwoners deur Openbare Beskermer na stadsbestuurder weggewys
Moedelose belastingbetalers van Lyttelton probeer alle kanale om uitdagings en probleme rondom die informele nedersetting in Fonteinlaan op te los, maar kom telkens voor 'n geslote deur te staan.

Die Lyttelton Belastingbetalersvereniging is deur die Openbare Beskermer se kantoor na die stadsbestuurder se kantoor verwys om hul voortslepende probleme rondom die informele nedersetting, Bushbuckridge in Fonteinlaan, aan te spreek.
Voorsitter Brian van der Merwe sê die vereniging is moedeloos omdat daar tot dusver geen blywende oplossing van die metro in plek gestel is om die probleme rondom die nedersetting op te los nie.
Die vereniging het dus gevoel die aangeleentheid moet geëskaleer word.
Die nedersetting dek ’n groot gedeelte van die reserwe langs die spoorlyn wat parallel met Fonteinlaan loop en grens aan ’n aftreeoord in Lyttelton. Daar is meer as 200 informele wonings. Sedert die einde van Covid-19-epidemie, het die aantal inwoners sowel as informele verblyfplekke aansienlik gegroei.
Volgens Van der Merwe het die nedersetting gelei tot ’n toename in misdaad, vandalisme, verval en vernietiging van plaaslike infrastruktuur, dwelmhandel, dobbelary en ander onwettige aktiwiteite.
“Sistematiese stroping van infrastruktuur veroorsaak altyd ’n onveilige gemeenskap. Hier word mangatdeksels, drein- en inspeksiegatroosters gestroop. Daar is ook deurlopende diefstal van straatlig-infrastruktuur, elektriese bedrading, hekmotors, sonkragligte, gasbottels, en koperpype,” bevestig Van der Merwe.
Volgens hom loop die metro se infrastruktuur ook deur.
Elektrisiteitskaste en -meters, watermeters, veiligheidsrelings en boute van die brûe wat Bothalaan en die spoorlyn oorsteek, word gesteel.
Verder is daar volgens Van der Merwe ook ’n grootskaalse gebruik van brandkraanwater deur die nedersetting se inwoners vir persoonlike gebruik, verkoop of was van voertuie.
Hy is veral bekommerd oor die toename in inbrake by die aftreeoorde in die omgewing en Lyttelton in die algemeen.
Die gemeenskap vind ook die Sportpark-stasietonnel is ’n brandpunt in die stryd teen misdaad en sal dit graag gesluit wil sien.
“Daar is ’n groot gebrek aan instandhouding en sekuriteitspatrollies langs die spoorlyn. Die hele spoorlyn tussen Kloofsig en Lyttelton het ’n misdaad-wegbreekplek geword. Die tonnel by Sportpark-stasie is ’n maklike toegang tot eiendomme en die gemeenskap na DF Malanlaan en Lyttelton Manor Uitbreiding 1,” verduidelik Van der Merwe.
Hy wys daarop dat die tonnel dermate ’n veiligheidsrisiko geword het. Pendelaars en skoolkinders gebruik stukkende gedeeltes van die palissade-omheining as deurgange en steek eerder die besige Bothalaan asook die spoorlyn oor, in plaas daarvan om die tonnel en brug te gebruik.
’n Inwoner wat naby die nedersetting woon, en uit vrees vir viktimisasie anoniem wil bly, sê die metro het hierdie probleem geskep en moet verantwoordelikheid neem om dit op te los.
“Voor die Covid-19-pandemie was dit ’n oop stuk grond. Met die uitbreek van die pandemie, het die metro van die haweloses uit die middestad hier in tente kom vestig.
“Nadat die pandemie verby is, is van hulle weggeneem, maar ander mense wat in die omgewing werk, het hier ingetrek asof dit ’n nuwe woonbuurt is. Tans is hier meer as 200 informele huise en hutte met sekerlik meer as 500 inwoners,” vertel die onthutste inwoner.
Een van sy grootste kopsere is die herwinnaars van die informele nedersetting se gedrag rondom veral die verbranding van plastiek, wat groot lugbesoedeling en rookmis, veral in die aande en soggens, veroorsaak.
“Hierdie gedrag eskaleer op Maandae en Dinsdae na hul herwinningsaksies wanneer hulle die plastiek van drade afbrand om die koperdraad te isoleer sodat hulle dit aan die skrootkopers en metaalhandelaars kan verkoop,” sê die inwoner.
Volgens die inwoner, het daar net papierwerk oorgebly van die talle pogings om die inwoners van die informele nedersetting wettiglik met regskennisgewings en interdikte uit die omgewing te verwyder.
“Die behuisingaktiviste het die geveg gewen om die nedersetting-inwoners wettiglik hier te hou en ons vermoed die metro het net nie meer kans gesien om met die regstryd voor te gaan nie en het ons as belastingbetalers dus hierin versaak,” voel hy.
Wykraadslid David Farquharson sê alle prosesse rondom die bereddering van die probleme rondom Bushbuckridge is gestaak toe die metro onder onwettige administrasie geplaas is asook tydens die gewelddadige stakings in 2023.
“Verlede jaar het alle energie daarin gegaan om basiese dienste aan die gang te hou,” verduidelik hy.
Hy bevestig ’n aantal uitsettingsbevele is wel aan die inwoners van die nedersetting beteken.
“Ongelukkig is geen van hierdie uitsettingsbevele suksesvol in werking gestel nie. Lawyers for Human Rights het suksesvol bevele teen verwyderings gekry. Die metro-begroting om sulke bevele te kry en te polisiëer het ook opgeraak,” verduidelik Farquharson.
Hy wys daarop dat die gemeenskap verskeie petisies oor die kwessie ingedien het.
“Die laaste petisie wat deur Pierre Hugo saamgestel is, is besig om momentum te kry. Sean Cox van die uitvoerende burgemeester se kantoor koördineer die verskillende entiteite wat betrokke is,” bevestig Farquharson.
Hy benadruk dat tydens die aanloop tot die afgelope verkiesing het die DA se provinsiale leier, Solly Msimanga, ’n besoek aan die area gebring en belowe om sy invloed in die provinsie te gebruik om te help.
“Ons wag net dat die nuwe provinsiale regering aangekondig word om weer die probleem aan te spreek,” sê hy.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.