Local newsNews

Dapper boek oor trauma-verwerking kan help met herstel

Toe die ondenkbare gebeur, moes hierdie joernalis en skrywer ook kophou vir haar kinders se onthalwe. Haar memoires oor die moeilike tye in haar lewe toon haar wysheid wat sy in sulke tye opgedoen het.

Vryskutjoernalis en skrywer Riette Rust se nuutste boek, Die geskenk – liefde, selfdood en dieper leef, noem sy “’n monument” aan haar man, JD.

Rust het op 27 Julie in The Book Keeper’s Shop in Pretoria-oos met stadsraadslid en resensent Francois Bekker onthutsend eerlik ’n gesprek gevoer. Sy het haar lewensverhaal rondom haar vergifnisstryd oor haar alkoholispa, haar hartseer en vrae rondom haar regsgeleerde eggenoot se selfdood en haar rou rondom haar tweede groot liefde, Bleskoppie, se kankerdood vertel.

Francois Bekker en Riette Rust

Rust sê haar boek is nie ’n tranetrekker nie; eerder ’n eerlike blik op haar gesin se lewensverhaal.

“Wat ek wel daarmee wou doen, was om die stigma rondom selfdood af te breek en aan lesers aan te dui hoe om bemagtigend met families en mekaar daaroor te praat.”

Die oomblik wat haar lewe verander het in Desember 2016, staan haar steeds dikwels onuitwisbaar voor die gees.
Sy lui ook haar boek in met die toneel in haar kombuis toe sy haar eggenoot dood aangetref het met sy haelgeweer op die toonbank.

Die toneel sou ’n vraag in haar gemoed plaas waarop sy steeds die antwoord soek al het daar veel aanvaarding rondom sy selfdood by haar gekom: “Hoe kon jy dit gedoen het?”

Rust het aan Bekker en die gehoor vertel hoe sy as jong volwassene JD tydens sy besoek aan haar suster ontmoet het, hul jare saam op universiteit, huweliksdag asook die geboorte van hul twee dogters.

“Ek het gou agtergekom hy soek iemand wat net wil huishou soos sy ma, maar ek het hom tot ander insigte gebring,” vertel Rust.

Sy het drama studeer, maar haar gou as wynskrywer en joernalis bewys. Die jare het aangestap en die gesin het hul voete in ’n huis in Welgemoed gevind.

Haar man het in 2015 tydens herstelwerk aan die dak geval. In ’n mediese ondersoek na sy beserings, sou die dokters ontdek hy het ’n vergrote aorta en ’n lekkende hartklep. Hy sou ’n reuse-opehartoperasie daarna ondergaan.

“Hierna sou hy erg depressief word. Ek moes hom voltyds motiveer om op te staan soggens en aan te gaan. Hierdie tyd saam met hom sou my leer depressie is ook ’n siekte van die brein, ’n neurologiese versteuring. Dit het hom laat ontspoor,” vertel Rust.

Riette Rust

JD sou daarna ook ’n beroerte kry en breinskade opdoen. Drie dae voor sy selfdood het hy as gevolg van hierdie diagnoses sy werk verloor.

“Die 58-jarige man met wie ek begin uitgaan het op 19-jarige ouderdom omdat ek vir hom ‘so lekker kon gesels het’, het die een terugslag na die ander gehad,” vertel sy. “Hy wou die versorger van sy gesin wees. En hy het gelewe vir sy werk.”

Sy het op ’n punt gekom wat sy vir haarself na ’n ruk kon sê sy dood is nie haar fout nie.

“Ek moes vir myself sê ek het als gedoen wat ek kon doen.”

Rust het uitgebrei oor hoe mense geliefdes rondom so ’n tragedie moet hanteer.

“Ek moes skielik sien hoe bekendes in winkelsentrums anderkant toe kyk en my ignoreer as ek verbystap. Dit het seergemaak.” Sy het van ’n paar sulke insidente vertel.

Maar wat sê jy en wat sê jy nie?

“Jy sê presies dit: dat jy nie weet wat om te sê nie indien jy so voel,” benadruk sy.

Sy het weer liefde gevind toe “’n gesofistikeerde en sagte man” haar lewe binnegestap het.

“Hy was die regte man in die regte stadium,” vertel sy en skets prentjies van romantiese bosveldvakansies waar hy self vir haar pêrels gesnoer het en ’n eksotiese eilandvakansie.

Haar “Bleskoppie” (sy verkies om nie sy naam en van bekend te maak nie) sou haar na so een reis skakel nadat hy vir ’n ondersoek rondom rugpyn gegaan het en haar meedeel dat hy kanker in ’n gevorderde stadium het.

Sy het hom tydens verskeie behandelings bygestaan maar hy is bykans ’n jaar gelede oorlede. Hulle verhouding sou drie jaar duur.

“Uit ons tyd saam sou ek ook baie leer. En net soos vantevore het ek geweet ek sal rou, maar ek sal ook weer opstaan.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button