Eersterust-kultuurpioniers kry momentum
Twee pioniers wil moedertaalonderrig en Afrikaans in Eersterust in skole en teater bevorder.
Moedertaalonderrig pioniers Nolan Leyds en Audy Hendricks van die Eersterust Taal en Ontwikkelingsforum, se droom is om hierdie forum weer so te versterk dat mikpunte van die organisasie momentum kan kry.
As forum-voorsitter verduidelik Leyds dat hul hoofdoelwit is om moedertaalonderrig en Afrikaans in Eersterust te bevorder.
Hul drome sluit in die erkenning van Afrikaans in Eersterust-skole by wyse van deurlopende forum-aktiwiteite soos lees-, opstel- en spelkompetisies, sowel as opvoerings soos die onlangse Ballroom Boy skets- en dansopvoering in ’n skoolsaal.
Hy is bekommerd oor die feit dat die teater by die Burgersentrum steeds so verwaarloos is en in ongebruik verval het dat die opvoering nie daar kon plaasvind nie.
“Die sentrum word net deur die metro onderhou sodat dit nie heeltemal inmekaar val nie. As dit reën, moet jy maar met sambrele in die teater sit, so lek die dak,” merk hy op.
Die forum is reeds in November 2019 in die lewe geroep. Die lede bou trots voort op die tradisie van vorige kultuurorganisasies soos die Eersterust Raad vir die Uitvoerende Kunste en ander kultuurgrondleggers in Eersterust.
Hoewel vele van die kultuurreuse wat hulle vooraf gegaan het soos dramaturg en akteur Anthony Wilson en teaterpionier James Winckler, nie meer so direk betrokke is by die bevordering van taal en die kunste in Eersterust nie, weet die forum hul steun bedrywighede.
Leyds was deel van die oorspronklike groep gemeenskapsteaterstigters in Eersterust. Deur die jare het hy hierdie liefde behou.
Hy word bemoedig deur onlangse forum-projekte vir die bevordering van Afrikaans, waar hulle ’n nuwe model wou beproef.
“Ons reik nou met die bevordering van taal ook dikwels uit na kerkjeuggroepe waar ons goeie opkoms vir projekte en betrokkenheid kry,” vertel hy.
Dit is vir hom ’n riem onder die hart dat juis by so ’n byeenkoms, die grootste persentasie leerders aangedui het hulle glo hulle sal werk kry as hulle Afrikaans as eerste taal magtig is.

“Die leerders respekteer Afrikaans as ’n werkstaal en ’n taal waarin hulle opgelei kan word. Hulle voel dieselfde as ons. Alle tale in Suid-Afrika is gelyk, moet respekteer word en gelyk behandel word,” meen Leyds.
Hy waardeer die rol wat emeritus-professor Nico Botha van Unisa speel om hulle hande sterk te hou om Afrikaans as taal in Eersterust ’n groter voetspoor te gee.
Hy is ook dankbaar vir die ondersteuning van die ATKV en die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans wat onder die leiding van hul voorsitter Sandra Prinsloo en hul hoof uitvoerende beampte, Niel le Roux, hul projekte steun.

Sulke samewerking is ook waarin Hendricks glo.
“Die Afrikaanse Onderwys Netwerk onder leiding van Daan Potgieter staan ook gereed om ons te help,” vertel Hendricks.
“Ons moet vir die leerders leer om te strewe na beter vooruitsigte en dat die verwesenliking daarvan deur Afrikaans moontlik is,” meen hy. “Een taal moenie ondergeskik aan ’n ander wees nie.”

Hendricks koester saam met Leyds twee groot drome vir die forum.
Die eerste is om ’n stuk grond wat nou al 30 jaar oorkant die burgersentrum in Hans Coverdalestraat vir kultuur geoormerk is, deur onderhandeling te bekom en hande te neem met ander kultuurorganisasies in Eersterust om daar ’n werkende gemeenskapsteater op te rig.
“Dan hoef ons nie soos met die vertoning van ons onlangse produksie, Ballroom Boy, rond te val en in skoolsale op te tree nie,” sê Hendrikcs.

Dié produksie wat fokus op die uitdagings wat misdadigers het nadat hulle vrygelaat is, word deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans ondersteun en is al by verskeie feeste en skole aangebied. Die bekroonde akteur Christo Davids het die stuk geskep.
Planne is reeds verskeie jare gelede opgetrek vir die bou van so ’n teater, maar daar was nie momentum om die visie te bewaarheid nie.
Die ander droom is om ’n moedertaalgerigte privaat skool in Eersterust te bedryf.
“Ons wil met so skool verseker dat onderwys in Eersterust op moedertaalonderrig fokus, veral van Graad R tot 3. Ek het die voorreg gehad om lief te word vir Afrikaans selfs in ’n tyd toe die taal ’n politieke nuansering gehad het omdat ’n onderwyser, Piet Kroup, by Eersterust Senior Sekondêr met sy stories en voorlesings my daarvoor lief gemaak het. Ek gun dit ook vir vandag se leerders,” sê Hendricks.
et jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
