Harte klop warm toe vuurwaens brul by verjaarsdag
'n Ma se versoek op sosiale media om haar Down Sindroom-seun se 39ste verjaarsdag ekstra woema te gee, het tot 'n uitsonderlike dag gelei danksy Pretoria se sportmotorgeesdriftiges.
’n Ma wat ’n klippie in die see gegooi het met die hoop sy ’n enkele antwoord sal kry, was oorbluf met reaksie wat gevolg het.
Skilder Suan Stockwell van Pretoria-oos het op sosiale media ’n boodskap geplaas om haar seun met Down-sindroom se hartswens vir sy 39-jarige verjaarsdag te bewaarheid.
Jandré Loots se droom was om op sy verjaarsdag vir ’n rit in ’n rooi sportmotor te gaan, dit van nader te kan beskou en daarin te kan sit.
Stockwell het skaars die versoek geplaas of sy is gou oorval met ’n verskeidenheid gewillige sportmotoreienaars wat haar seun se dag wou kom ophelder met ’n bietjie woema.
“Ek was oorbluf dat daar nog sulke goeie mense is wat uit die goedheid van hul harte tyd sou afstaan om op ’n weeksoggend na ons huis te kom om Jandré en sy skoolmaats van Club 21 op die manier te kom vermaak,” vertel sy.
Toe die vuurwarm blitse brullend nader rol op Loots se verjaarsdag, het hy en sy maats die sportmodelle soos ’n McLaren, Mustang, Cobra Shelby en Mazda RX hartlik verwelkom en tegemoet gehardloop.
“Dis die beste, beste dag,” sê Loots. “Ek kan dit nie glo nie.”
Hy het hom gou tuisgemaak in die Mazda RX, maar kon nie tussen die witwarm modelle kies nie en het almal van nader beskou en met sy vriende bespreek.
Enjins is oopgemaak en die toeretellings het vir ’n oomblik of wat gestyg toe sleutels gedraai is.
Rikus van Graan van Pretoria-oos sê hy het Stockwell se navraag gesien en het reageer omdat hy weet hoeveel so ’n gebaar vir die Stockwells sou beteken.
“En nou is ek hier en ek sien al die vreugde net omdat mens tyd gemaak het,” sê Van Graan.
Sangeres Monique Steyn het saam met haar eggenoot, Robbie Nel, in sy Mustang vir groot opgewondheid veroorsaak toe hulle daar aangekom het.
Sy het ook die verjaarsdagmaat toegesing en saam met die res van die partytjiegangers liedjies gesing rondom die rooikar-verjaarsdagkoek wat sy ma gebak het.
“Ek is mal hieroor. Ons moes net eenvoudig kom. Wie wil nou nie iemand anders se hartswens laat waar kom indien jy dit kan doen nie!” vertel Steyn.
Sy en Nel het van die versoek via die Mustangklub gehoor en is deur die opgewonde lede afgevaardig om die rooi gunsteling by die partytjie te verteenwoordig.
Die partytjie is bygewoon deur talle van Loots se maats van die instansie vir Down Sindroom-individue, Club 21.
Kallen Prinsloo, Tiaan Esterhuizen, Abigail Roos en Kemp Nel was van die maats wat ook later na al die opgewondenheid ’n hamburgerpartytjie geniet het.
Izelle Els, stigter van Club 21, het ook die partytjie bygewoon.
Sy was beïndruk met die liefde van die gemeenskap wat dit op hierdie manier weer so duidelik getoon het.
“Dis mense wat ander wil help groei en ontwikkel en nie omgee om ’n opoffering daarvoor te maak nie. Dit doen ’n mens se hart goed om hierdie ondersteuning te ervaar,” sê Els.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.