Skoonheidskoningin herstel volkome na ernstige motorbotsing
Net voordat sy oorsee sou vertrek om 'n waardevolle modelkontrak na te kom, was die bekende Pretoria-model en skoonheidskoningin Savahna Grimbeek betrokke in 'n ernstige motorbotsing. Die trauma het haar 'n waardevolle les geleer.
’n Bekende in Pretoria se modelkringe, wenner en finalis in vele skoonheidskompetisies, het ’n reuseterugslag wat sy in Augustus 2018 na ’n motorbotsing ervaar het, verwerk deur ’n nuwe loopbaan as sanger en motiveringspreker aan te pak.
Die voormalige Mrs Globe-finalis, Savahna Grimbeek, het onlangs haar eerste enkelsnit “Ek bly hoop” vrygestel.
Op Saterdag, 10 Augustus het sy vir die eerste keer voor ’n gehoor by ’n oggendfunksie van die Afri Vroue Fonds in Villieria die liedjie met sy positiewe lirieke gesing.
Die organisasie beywer hulle daarvoor om bejaarde vroue moed te laat skep vir die lewe deur opbeurende funksies aan te bied en hulle met geskenke soos koopbewyse geldelik te steun.
“Hierdie liedjie is vir almal wat deur moeilike tye gaan, en ek hoop dat dit inspirasie en hoop vir julle sal bring, net soos dit vir my gedoen het,” het Grimbeek aan die gehoor vertel.
Sy is ook die skrywer van die liedjie.
Die gehoor het die sjarmante Grimbeek dawerend toegejuig.
Sy het vertel hoe die evangelis Angus Buchan haar in ’n gehoor tydens een van sy toere in Israel op 11 September 2023 uitgewys het as iemand wat nog eendag gaan sing.
Hierdie bemoediging en profesie sou haar help om nog verder op haar voete te kom nadat haar lewe bykans op 13Augustus 2018 tot stilstand gekom het.
In 2018 het verre horisonne vir haar gewink. Sy was op pad om ’n groot modelkontrak in China aan te pak. Kort voor haar vertek, het ’n bestuurder van agter met sy voertuig in die motor waarin sy gereis het, vasgery.
“Dat ons lewendig is na die botsing, is net deur die Vader se genade,” glo Grimbeek.
Sy het na die ongeluk geen gevoel in haar liggaam gehad nie.
“My hele lyf was lam,” vertel sy.
Grimbeek is deur die nooddiens hospitaal toe geneem en het veel later geskok wakker geword toe sy besef sy het geen gevoel in haar liggaam en ledemate nie.
Tydens haar herstel en verblyf in die hospitaal is sy vir ’n MRI-skandering en diagnose geneem.
Sy het vooraf gebid dat wanneer sy uitkom, daar ’n verskil in haar toestand moet wees en dat die gevoel in haar liggaam weer terugkom.
“Toe ek na die skandering aan die anderkant van die masjien uitbeweeg, het die gevoel in my liggaam wel toe met naalde en speldeprikkies teruggekom. Ek het verstaan wat die Here vir my wou sê: ‘Jou reis is nog nie voltooi nie’.”
Sy voel dat sy in daardie stadium van haar lewe te besig was. Na die ongeluk het sy besef sy moet briek aandraai.
Grimbeek vertel sy het besef dat jou loopbaan nie soveel werd is as jou lewe nie.
“Ek het vinnig van die fisiese skade herstel, maar het vir ’n tyd nog berading gekry,” vertel Grimbeek.
Vroeër in die jaar voor die ongeluk plaasgvind het, is sy gekies om aan die skoonheidskompetisies Beauty Queen SA 2018 en Miss United Continents SA 2018 as finalis deel te neem. Sy was ook in 2018 ’n finalis in die Mej. Pretoria-kompetisie.
Grimbeek is bekend vir haar klem op ’n gesonde lewenswyse en is ook ’n ambassadeur vir ’n reeks voedingsprodukte soos aanvullings.
Sy werk ook gereeld saam om geslagsgeweld te bekamp. Na haar herstel, het sy aan ’n wedloop rondom Hartbeespoortdam in 2023 deelgeneem vir ’n fondsinsameling vir sulke bekampingsveldtogte.
“My wens vir sulke gebrokenes is nuwe horisonne en hoop,” vertel die sagte en deernisvolle Grimbeek.
Met haar ambassadeurswerk help sy om van die voedingsprodukte aan veral kinderhuise uit te deel.
“Geen kind behoort honger bed toe te gaan nie,” sê sy.
Aan haar vinger blink reeds ’n blink klip. Sy het trots na haar verloofde, Johan Crause, tydens die Afro Vroue Fonds-geleentheid gewys en vertel sy is oor twee maande ’n bruid.
“Ek weet nou voorwaar opgee is nooit ’n opsie nie. Soos my liedjie kan ek getuig ek bly hoop.”
– Kliek hier om na haar optrede tydens die Afri Vroue Fonds-geleentheid te kyk: https://www.facebook.com/reel/464234453088221
– Kliek hier om na haar liedjie “Ek bly hoop” te luister:
Do you have more information about the story?
Please send us an email to bennittb@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram