Local newsNews

VLU se formidabele vroue word meer en meer

Vir die vooristter van die De Wildt-tak van die Suid-Afrikaanse Vrouelandbou-unie is dit 'n riem onder die hart dat die tak se aantal lede toegeneem het.

Die Suid-Afrikaanse Vrouelandbou-unie se De Wildt-tak het tydens hul Ope Dag-vieringe op 7 Augustus hul groeiende ledetal gevier.

Die tema vir die vieringe was formidabele vroue wat ’n plan kan maak.

Takvoorsitter Mary Ann du Preez sê die oggend se opkoms het al haar verwagtinge oortref.

Sy het die Vrouelandbou-unie (VLU) gebed aan die lede voorgelees en die geskiedenis van die aandoenlike gebed geskets.

Die gebed het in 1937 sy ontstaan in die VSA gehad toe Mary Stewart die woorde en gebed by die Wêreldbond van Plattelandse Vroue voorgedra het.

Annette Bester van Pretoria-Noord en Dalene van der Berg

Die woorde is deur ds. FEO Brien Geldenhuys in Afrikaans vertaal.

“Die gebed moet ons inspireer om medemenslik te wees en daadwerklik om te gee,” het Du Preez die lede aangemoedig.
“Ons moet mekaar oplig en mekaar nie weeg en telkens te lig bevind nie.”

Helene Richter, die voorsitter van die Jakarandastreek waarbinne die De Wildt-tak val, het aan lede ’n paar prioriteite voorgehou indien hulle formidabele vroue wil wees.

“Ons moet ons wysheid en lewenservaring met mekaar deel, geestelik sterk bly en elke situasie met grasie aanpak,” benadruk Richter.

Amari Hauman, Cindy Coetzee, Barbara Nell, Carol Marais, Heléne Richter, Suzie Gerryts en Almarie van den Berg

Een van die twee sprekers van die dag was die liggaamstres-ontlading praktisyn, Erina Streuders.

Sy het verduidelik hoe die liggaam homself kan herstel sonder pille of ander intervensies by wyse van liggaamstres-ontladingtegnieke.

“Liggaamstres-ontlading help jou om alledaagse spanning te hanteer en help ook opgehoopte spanning verlig,” verduidelik Streuders.

Volgens haar trek spiere saam tydens stresvolle tye en stoor die stres in die spiere. Die liggaam het egter ’n manier om van hierdie stres ontslae te raak.

“Met hierdie gesondheidstegnieke kan jy die gebergde spanning ontsluit om die selfgenesingsproses weer aan die gang te kry,” glo Streuders.

Sy het ook aan die gehoor uitgewys dat ’n nag se goeie rus ver kan gaan om jou pyn te verminder en emosionele welstand te verbeter.

“Jy sal egter geduldig met jouself moet wees tydens die tegnieke wat ons toepas soos om die lyf met ferm, maar ligte stimulering op strespunte van die pyn te laat ontslae raak,” verduidelik sy.

Rita Brits was tweede aan die beurt om as geskiedkundige die gehoor meer oor formidabele vroue in te lig.

Brits se heldin is Johanna Brandt, stigter van die destydse Kappiekommando, skrywer van The Grape Cure, spioen vanaf haar Sunnyside-huis en vegter teen kolonialisme.

“Sy was bang vir niks nie en het opgestaan teen alle ontregte, maar was die heftigste oor die mishandeling van vroue en kinders in die konsentrasiekampe tydens die oorlog,” verduidelik Brits.

Rita Rautenbach (sittende) en Juliette Claassen (staande)

Brandt is een van die min oorlogstydse geheime dienswerkers wat nooit uitgevang is nie.

“Niemand het vermoed dat Johanna en haar ma die spioenasie-ring vlak onder die Britte se neuse bedryf het nie. Die ring is gestig op Johanna se ma en medepligtige, die weduwee van Warmelo, se Pretoria-plot, genaamd Harmonie. Dit was in die omgewing van die hedendaagse Sunnyside, waar die Normaalkollege se koshuise later gebou is,” verduidelik Brits.

Sy het ook uitgewys op watter slim maniere Johanna en haar ma hul inligting verkry en versprei het.

“Sy het ’n ouer suster gehad wat in die Kaap gebly het. Johanna het agtergekom dat enige briewe wat sy en haar ma soontoe stuur, gesensor word. Toe maak sy ’n plan.

“ Eers is briewe in porseleinpoppe se lywe of vals bodems in geskenkkassies en sigarethouers weggesteek. Later het sy ‘onsigbare briewe’ gestuur. Sy het wit koeverte versigtig oopgestoom en ’n brief in suurlemoensap aan die binnekant van die koevert geskryf. Die koevert is dan weer aanmekaargeplak, en ’n onskuldige brief is daarin geplaas. Die onsigbare brief sou sigbaar word as jy met ’n warm yster daaroor stryk,” verduidelik Brits.

“Sy was waarlik ’n formidabele vrou en iemand na wie elke vrou kan opkyk wat ’n plan in ’n noodsituasie moet maak,” het Brits afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button