Local newsNews

Kultuurleier steel harte met passie vir Afrikaans

'n Leerder uit Mamelodi aan 'n Pretoria-oos skool se liefde vir Afrikaans en sy prestasies in die taal, steel wêreldwyd harte op die internet.

’n Matriekleerling aan die Afrikaanse Hoër Seunskool (AHS) in Pretoria-oos het sy slag in die onlangse ATKV-redenaarskompetisie met soveel styl en woord-elegansie bewys dat die video van sy optrede die volgende week by die skool ’n internetsensasie geword het.

Maar Mpumi Rakhudu van Mamelodi is beskeie en nederig oor al die aandag, kitsroem en glimlag net skugter daaroor.

Sy video op die skool se sosiale media is reeds meer as 1.4 miljoen keer gekyk en derduisende kere gedeel.

Die skraal en vriendelike seun het met sy openlike liefde vir Afrikaans die harte van ander Suid-Afrikaners gesteel. Hy het met die louere in die Afrikaans Addisionele Taal-afdeling vir graad 10 tot 12 weggestap.

AHS het ook in vier van die agt afdelings uitgeblink en ander redenaars soos Chrispin en Juandré Gerber het ook op die wennersverhoog in hul afdelings geskitter.

Mpumi Rakhudu sê hy is optimisties en trots Suid-Afrikaans.

Rakhudu is besig met voorbereiding om sy rekord-eksamens vir die matriek-eindeksamens te skryf, maar die senuwees pla nie te veel nie.

Sy wentoespraak, “Afrikaans, my geheime wapen in die bokskryt van die lewe,” is nou vir eers effe op die agtergrond gestoot.

“Ek bly egter altyd in Afrikaans se hoek,” sê Rakhudu wat in die video dit uitspel dat Afrikaans hom bevry en bemagtig.

As seun van ’n graad 2-onderwyseres by die Laerskool Generaal Nicolaas Smit in Pretoria-Wes, het Rakhudu reeds vroeg in sy skoolloopbaan geleer hoe om sy gedagtes te organiseer en te formuleer.

Hy woon saam met sy suster, ouma en ma. “’n Mens moet jou sê kan sê as jy deur soveel vrouens omring is,” lag Rakhudu.

Sy keurige Afrikaans, uitgedruk in ’n sterk stem vol selfvertroue met sy eie menings maar ’n stewige skeutjie humor, beïndruk dadelik.

Dit is juis sy ma se kollegas wat haar oorreed het om hom aan te moedig om in Afrikaans sy skoolopleiding te ontvang en hy het die skool bygewoon waar sy onderrig gegee het.

Toe die geleentheid hom voordoen om na die seunskool te gaan, het Rakhudu dit aangegryp.

“Ek het met my eerste aanraking met die ander leerders en die skool se tradisies, versot geraak op die kultuur van broederskap en respek,” vertel ’n glimlaggende Rakhudu. “Ek het besef hier kan ek beslis net vorder en het tuis gevoel.”

Hy het in graad 10 met redenaarskompetisies weggespring. ’n Onderwyser, Marius Lubbe, het hom met sy eerste toespraak gehelp en aangemoedig.

Mpumi Rakhudu se video op die skool se sosiale media is reeds meer as 1.4 miljoen keer gekyk.

Rakhudu onthou laggend die onderwerp van sy eerste redenaarskompetisie: “Is jy man of muis?”

“Ek het skielik besef redenaarskompetisies is iets wat ek goed kan doen en met oefening, nog beter mee kan word. Dit het gevoel of ek my plek in die skool kry.”

In 2022 het hy met die algehele ATKV-redenaarskompetisie tweede gekom. Die saadjie is geplant dat hy met genoeg toewyding dalk die eerste plek kan verwerf.

In 2023 het hy ook ’n wenplek behaal met sy toespraak oor hoe Afrikaans kan bemagtig.

“Ek was nog nie tevrede met my optrede nie en wou op die prestasie verbeter,” verduidelik hy.

Hy het noukeurig na sy toespraakleier, Christene Neser, geluister en haar leiding met die skryf en opvoer van sy toespraak noukeurig en met oortuiging gevolg.

Andriëtte Jacobs, die skool se redenaarsorganiseerder, het hom ook met voorbereiding gehelp en al ’n paar jaar gehelp om sy potensiaal as redenaar te ontwikkel.

“Hulle het my gehelp deur die regte vrae te vra en seker te maak ons kry die boodskap reg oorgedra. Met redenaars is dit die proses tot by die toespraakdag wat ook tel. Hoe jy die toespraak ontwikkel en jou eie maak is belangrik. Ek was vanjaar ver meer tevrede met my optrede,” vertel hy.

Hy is ’n veelsydige kultuurpresteerder, sing reeds vyf jaar in die koor en is ook die onder-koorbestuurder.

“Ek hou van kultuurbedrywighede,” sê hy, maar verswyg hoe goed sy knap administratiewe hoedanighede ook by die koor ingespan word.

Die koordirigent, AJ Maree, skat sy organisatoriese bydrae hoog na waarde.

Hy is ook een van die skool se sporthuise, Koedoes, se rasieleiers.

Rakhudu stel belang om na matriek politieke wetenskap en regte by Tukkies te gaan studeer.

“Ek wil ’n politikus word,” sê hy vasberade.

Mpumi Rakhudu by Afrikaans Hoër Seunskool’n Leerder uit Mamelodi aan ‘n Pretoria-oos skool se liefde vir Afrikaans en sy prestasies in die taal, steel wêreldwyd harte op die internet.

Hy bely ruiterlik hy is nie ’n oggendpersoon nie, maar as hy eers aan die gang kom kan hy “baie energiek” sy dag benader.

“Ek is optimisties en trots Suid-Afrikaans. Ek kyk graag vorentoe en wanneer ek eendag kinders het, is dit wat ek hulle wil leer. Om trots te wees op hoe hulle ontwikkel en om geleenthede aan te gryp,” vertel hy met ’n breë glimlag.

Sy liefde vir Afrikaans sluit ook in om Afrikaanse skrywers soos Deon Meyer en Fanie Viljoen te lees.

Sy mond loop maklik oor waarvan sy hart vol is.

“Afrikaans is ’n ongelooflike taal. Ek voel so ’n passie en liefde vir Afrikaans dat ek almal wil oorreed om die mooi taal te praat.”

– Kliek om na Mpumi Rakhudu se kort video oor sy liefde vir Afrikaans te luister
@rekordpretoria

Internetsensasie Mpumi Rakhudu glo in Suid-Afrika en in Afrikaans ’n Matriekleerling aan die Afrikaanse Hoër Seunskool (AHS) in Pretoria-oos het sy slag in die onlangse ATKV-redenaarskompetisie met soveel styl en woord-elegansie bewys dat die video van sy optrede die volgende week by die skool ’n internetsensasie geword het. RekordNewspaper

♬ original sound – rekordpretoria – rekordpretoria

 

– Kliek hier om na wentoespraak te luister: https://www.instagram.com/affies_1920_/reel/C-uX8FmC_o_/

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button