Local newsNews

Pretoria-leeskringe versterk weer bande met gesamentelike byeenkoms

Reeds in die veertigerjare van die vorige eeu het leeskringlede gedink dit sal 'n goeie idee wees indien daar 'n gesamentelike byeenkoms van geesdriftige leeskringlede wees. Die trotse tradisie word vandag steeds in Pretoria voortgesit.

Die koördineerder van leeskringe in en om Pretoria, Johan Talma, glo dat soos tye verander, moet daar by aangepas word en dit geld ook vir leeskringe.

“Leeskringe kan nie maar net op die ou patroon aangaan nie. Ons moet ook aanpas en besef ons moet dinge anders doen,” glo Talma.

Vanjaar se gesamentelike byeenkoms vind dus plaas in ’n saal waar die gaste aan tafel bymekaar kan sit, gesellig aan vars plaasprodukte kan smul terwyl die spreker, prof. Willie Burger, gaan gesels oor hoekom maak skrywers soms hul boeke so ingewikkeld?

In die verlede het skrywers gewoonlik by soortgelyke byeenkomste ’n boek bekend gestel.

“Na Covid-19 is daar skielik ’n ryke verskeidenheid van boeke wat tydens die pandemie geskryf is, en nou gepubliseer is. Pretoria se boekgeesdriftiges kan tot in een maand deesdae meer as vyf boekbekendstellings bywoon sou hulle wou. Ons het gedink om dus iets anders aan te bied deur prof. Burger te nooi en iets aan te spreek waaroor ons almal lankal wonder,” vertel Talma.

Die geleentheid word ook nie net deur een leeskring georganiseer nie, maar talle leeskringe vat hande om van die dag ’n sukses te maak.

“Vir leeskringlede is dit ’n groot gebeurtenis. Hulle sien ou vriende en maak nuwe vriende van ander leeskringe en so versprei die goeie nuus van liefde vir goeie boeke en ’n passie vir lees,” sê sy.

Die gesamentelike byeenkoms het ’n trotse geskiedenis.

“’n Jaarlikse samekoms om die ‘familieband’ tussen leeskringe wat van mekaar afgestig het, lewend te hou is reeds in 1940 in die vooruitsig gestel. Dit was die begin van die jaarlikse gesamentlike byeenkoms van Pretoria se leeskringe. Die eerste byeenkoms het plaasgevind in November 1941 en was gewy aan die skryfwerk van NP Van Wyk Louw.

Anna Neethling-Pohl wat ’n lid was van die Mabel Malherbe Leeskring het voorgedra uit Die dieper reg, Die halwe kring en Alleenspraak.”

Sy weet van 21 leeskringe in Pretoria. “Daar is waarskynlik meer, asook boekklubs. Sowat 200 van dié waarvan ek weet, deel die belangstelling om van mekaar se byeenkomste en boekbesprekings te wete te kom, en jaarliks saam ’n byeenkoms te hou,” verduidelik Talma.

Met haar koördinering sorg sy dat leeskringe weet watter boeke en wanneer by ander kringe bespreek word.

Sy wys op een van Pretoria se oudste leeskringlede, Fenna Klooster, wat eersdaags 95 word en elke jaar nog ’n boek by haar leeskring bespreek.

Soos Monica Hammes, ’n jare lange lid van verskeie leeskringe, ken Talma die geskiedenis van Afrikaanse leeskringe in Pretoria op die punte van haar vingers.

Sy verduidelik in Pretoria was daar reeds aan die begin van die vorige eeu ’n Engelse boekklub waaraan onder andere Annie Botha, vrou van Generaal Louis Botha, behoort het.

“In 1912 stig Mabel Malherbe die Afrikaans-Hollandse Leesunie hier. Sy was ’n woelgees op vele terreine en was diep bekommerd oor die feit dat Afrikaanse vroue min onderwys gekry het, nie gelees het nie en feitlik glad nie in Nederlands of Afrikaans kon skryf nie. Op versoek van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie dat sy ’n tak in Brooklyn stig, het sy voorgestel dat ’n leesunie ’n beter plan is,” vertel Talma.

Omdat die ledetal beperk was tot 50, was daar mettertyd ’n lang lys van mense wat wou aansluit en is daar in 1940 besluit om ’n dogtertak te stig onder voorsitterskap van Esther Kritzinger.

Hierdie leeskring is na Mabel Malherbe vernoem. Hierdie leeskring is tans in sy 85ste jaar met meer as 50 lede. Mettertyd het Waterkloof Leeskring hiervan afgestig.

Toe een van die Mabel Malherbe-leeskringlede Kaap toe verhuis het, is sy aangemoedig om ’n tak in Durbanville te begin en so het dit ook daar posgevat.

Mettertyd sou in die vyftigerjare kringe soos Menlopark Leeskring, Waterkloof Leeskring volg en in die sestiger- en sewentigerjare kringe soos Bettie se Leeskring, Prisma Leeskring en Waverley Leeskring.

Van die ander kringe wat vandag nog saamlees en vergader is die Centurion Leeskring, Rustenburg Leeskring, Hartbeespoort Leeskring, Jakaranda Leeskring en Moreleta Leeskring.

In die negentigerjare is die Glenstantia Leeskring, Tygerpoort Leeskring gestig, en soos lede ouer geword en verhuis het, Wilgers Aftree-oord, Pretoria Oos Aftree-oord en Sunrise View Aftree-oord leeskringe.

Ander leeskringe het ook bygekom soos die Elize Botha Leeskring en ’n leeskring in Bela-Bela.

Vandag is daar 19 leeskringe wat beplan om vanjaar weer byeen te kom vir ’n gesamentelike byeenkoms.

Enigeen wat belangstel is welkom. Belangstellendes wat die gesamentelike byeenkoms van leeskringe wil bywoon op 19 Oktober vanaf 09:30 vir 10:00 te Magalieskruin NG Kerk, 150 Joycelaan, Magalieskruin in Pretoria Noord, kan ’n WhatsApp stuur aan Johan Talma by 083 556 8711.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button