Local newsNews

Toneelstuk daag gehoor uit om vooroordele te bevraagteken

Die toneelstuk 'Ballroom Boys' daag gehore op verskeie terreine uit om selfondersoek oor stigmas te doen.

Die bekende akteur en TV-ster, Christo Davids, se meesleurende toneelstuk, Ballroom Boys, het teatergangers op 21 September in die Atterbury-teater uitgedaag om opnuut te dink oor hul vooroordele teenoor diegene wat om ’n tweede kans vra na tronkstraf uitgedien is.

Met hierdie produksie wys akteur en regisseur Anthony “Speedo” Wilson sy veelsydigheid as regisseur wat verskeie temas uit ’n teks kan ontgin en sy gehoor hul eie vooroordele sowel as stigmas in ’n gemeenskap, kan laat bevraagteken.

Die toneelstuk sentreer rondom die oudste broer van ’n gesin, Niekie, wat na sy tronkstraf vrygelaat word en huis toe keer na sy ma en broer.

Niekie, knap vertolk deur akteur Quillon Lawrence, dra swaar aan die stigma van sy tyd in die gevangenis, maar nog swaarder aan die emosionele skade van sy afwesige pa wat die gesin verlaat het.

Lawrence onderspeel sy rol op ’n fyn, maar dramatiese manier en is veral in beheer van sy emosies wanneer hy na sy tyd in die tronk verwys en sy begeerte uitdruk om ’n “ballroom dancer” te kon wees soos sy pa eens was.

Sy moedelose ma word vaardig en behendig gespeel deur die aantreklike Theodora Morris. Sy vertolk haar rol met ’n sjarmante elegansie as sy weer en weer ’n sjaal om haar skouers vou en ’n netjiese dans of twee, asook veel moeiliker dansbewegings rondom die verhoog saam met Lawrence uitvoer.

Serrano Lawrence en Quillon Lawrence rig vuurwapens opmekaar terwyl hul ma in die toneelstuk Ballroom Boys bid dat hulle mekaar nie moet doodskiet nie.

Haar hartsbegeerte is dat hulle tog net weer ’n familie moet wees. Sy voel die mense om haar in die gemeenskap sowel as die polisie, het haar gefaal om haar seuns van mekaar en die misdaad wat hul al hoe dieper intrek, te red.

Morris is ’n oortuigende bekommerde ma wat nie haar jongste seun, Carlo, se foute, of die opofferinge wat haar oudste seun maak, wil raaksien nie. Sy glo daarin om te “smile and apologise” wanneer die lewe druk en verkeerde keuses gemaak word.

Carlo, met ’n jong maar vaardige akteur Serrano Lawrence in die rol, beeld ’n nukkerige en onversetlike karakter uit wat ’n verkeerde pad stap en die vermanings verontagsaam van sy ouer broer om nie by die gangster-kultuur betrokke te raak nie. Hy delf diep in homself om die bendegeweld en die emosionele gevolge daarop op ’n jong gemoed, geloofwaardig uit te beeld.

Die toneelstuk werk op tot ’n klimaks waar die konfrontasie tussen broers tot gewigtige besluite lei.

Ballroom Boys is ’n dramatiese verkenning van verhoudings tussen broers, ma’s en seuns asook hoe die gemeenskap geregtigheid en tweede kanse ervaar.

Wilson sê die stuk moet as opvoedkundige teater gesien word waarin daar ’n boodskap oor gangsters, die misbruik van dwelms maar ook verbrokkelende verhoudings is.

Die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans, die Atterbury Trust en die Eersterust Taal en Ontwikkelingsforum het hande gevat om hierdie opvoering moontlik te maak.

Die stuk is voorafgegaan deur die lees van gedigte deur digters soos Peter Daniels, digter en musikant, Robert Pearce, Audy Hendricks en Evelyn de Vries.

Pearce het ook ’n huldeblyk gebring aan die onlangs ontslape akademikus, skrywer en joernalis, wyle Anastasia de Vries, asook wyle Abraham de Vries.

’n Voormalige bendelid, Mitchell Plaatjies, het na die afloop van die toneelstuk sy ware lewensverhaal as voormalige gangster en lid van die berugte 28’s tronkbende, vertel en aangedaan aan die gehoor uitgewys waar sy pad eers verkeerd maar ook reg geloop het nadat hy sy lewe aan Jesus toegewy het.

“Hoe die gemeenskap jou verwelkom en weer opneem na ’n tyd in die gevangenis, gaan veel te make hê met nuwe, beter keuses wat jy oor jou lewe gaan maak,” verduidelik Plaatjies.

– Luister na Plaatjies se lewensverhaal:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button