Local newsNews

Verskeie Pretoria-skole pluk eersdaags vrugte van skenkings

Meer as 30 skole sal baat vind deur die skenking van vrugtebome, bemesting en tuinprodukte tydens 'n projek om skole te bemagtig om by wyse van skoolgroentetuine volhoubaar selfonderhoudend te word.

Sodra die brande in Cullinan en Pretoria-oos se skade aangespreek is, beoog die nie-winsgewende gemeenskapsorganisasie Kamcare om meer as 70 sitrusbome aan 31 kleuterskole te skenk.

Woordvoerder Alwine Strauss sê veldbrande in die laaste week van September het groot skade aangerig.

Nege huise in die organisasie se bedieningsomgewing het ook afgebrand en verhoed hulle tans om met die groentetuinprojekte momentum te kry, aangesien daar onmiddellike nood is wat aangespreek moet word.

Pieter de La Rey en Sonet Stofberg met spinasie uit die tuin wat Kamcare-tuinboukundige Karabo Mahlangu onderhou.

Strauss sê die skenking vorm deel van hul ontwikkelingsprogramme.

Kamcare is ’n organisasie sonder winsbejag wat gemik is daarop om gemeenskappe met voldoende opleiding, opvoeding en ontwikkeling te ondersteun.

Strauss en haar kollega, Kamcare-bestuurder Liezel Landman, se oogmerk is dat ’n gesamentelike werkswinkel vir die skole aangebied word waar die bome uitgedeel sal word.

Kamcare se tuinboukundige, Karabo Mahlangu, sal dan ’n demonstrasie gee van hoe en waar die plante geplant moet word.

“Ons is opgewonde oor die bome want dit kan ’n volhoubare verskil in ons gemeenskappe maak waar vars vrugte dikwels te duur is om te bekom,” verduidelik Strauss.

Met behulp van ’n finansiële bydrae van SPAR, het die radiostasie GROOTFm 90.5 die wiel aan die rol gesit om 71 gemengde sitrusbome by Plantland/Malanseuns aan te koop.

Die tuin by Kamcare waarvandaan kos aan meer as 31 kleuterskole voorsien word.

Die bome sal saam met ’n geskenkpak bemestingsstowwe en beenmeel by Kamcare en Laerskool Hermanstad in Pretoria-Wes afgelaai word.

Laerskool Hermanstad het die afgelope jaar met ’n baie suksesvolle groentetonnel en -verbouiing weggespring waarvan hulle nou die groente en vrugte letterlik en figuurlik pluk en leerders leer hoe om vir volhoubare voedselvoorsiening te sorg.

Landman sê dat kinders in Cullinan baie sukkel met skoolwerk. Hierdeur het hulle bewus geraak van die behoefte om op ’n vroeë ouderdom met die kinders te begin werk ten einde hulle optimaal te ontwikkel om sodoende gereed te wees vir skool.

Kamcare doen hoofsaaklik werk in Refilwe en Pretoria-oos, waar hulle 136 onderwysers bemagtig vanuit die gemeenskap om nagenoeg 1 060 kleuters op te voed.

Die Kamcare-span fokus op die opleiding van kleuterskool-onderwysers, groentetuin-opleiding vir volhoubare voedselsekerheid, voorsiening van opvoedkundige kratte met opvoedkundige speelgoed en skryfbehoeftes, sowel as die gereelde opknapping van hierdie 31 kleuterskole.

Drie ander skole – Uitsig Primêr in Centurion, Die Heuwel Primêr in Pretoria-Wes, en Emasangweni Primary School in Mamelodi – het ook by die projek van die radiostasie en ’n organisasie wat burgerskapprojekte aanpak, Empowervate, gebaat.

Elke skool het ’n groot geskenkpak tuinprodukte, spesifiek op groentetuine gerig, ontvang.

Sonet Stofberg, projekkoördineerder van GROOTfm 90.5, sê dit gaan oor soveel meer as die skenking van ’n boom.

“Dit gaan oor die herstel van ’n omgewing wat saam met sy gemeenskap gebuk gaan onder konstante uitdagings.”

Skenkings aan Kamcare om die nood van brandslagoffers in Cullinan-omgewing en Pretoria-oos in die omgewing van Cullinan en Kameeldrift te verlig, kan gereël word deur Liezel Landman by Kamcare te skakel: 072 150 3994.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button