Local newsNews

Beandri sterk nou tuis aan na kitskosbederf op pad huis toe

'n Progerie-lyer van Doornpoort se merkwaardige herstel na 'n opehartoperasie het daartoe bygedra dat sy sewe dae na die operasie ontslaan kon word. Op pad huis toe, moes haar ouers eers stop vir kitskos en 'n roomys.

Die geliefde Beandri Booysen, progerielyer van Doornpoort se ouers, Pieter en Bea, het haar gister tuis verwelkom nadat sy verlede week in Johannesburg op 10 Oktober ’n opehartoperasie ondergaan het.

Bea vertel Beandri het gisteroggend by die hospitaal “bietjie emosioneel geraak toe ons gewag het vir die dokter want hulle was nog bietjie bekommerd oor haar een long wat vog om het en daar moes eers x-strale geneem word”.

Sy moes ook eers die kardioloog en chirurg sien.

“Die kardioloog en chirurg is baie gelukkig en baie verbaas met hoe goed sy herstel van só ’n groot operasie. Hulle verwagtinge was dat sy na teater op ’n ventilator sou wees en tien dae in die hospitaal sou moes bly, maar sy is uit die teater sonder ’n ventilator en na net sewe dae ontslaan.”

Pieter, Beandri en Bea Booysen

Sy vertel dat “ons glo dit is omdat daar soveel mense wêreldwyd vir haar gebid het en sy self het ’n baie sterk geloof. Sy het net gevra ons moet asb by McDonalds stop vir skyfies en roomys op pad huis toe. Sy het bietjie in die kar geëet en toe lekker geslaap op pad huis toe.”

By die huis aangekom was Beandri baie bly om al haar diere te sien, veral haar marmoset-apie met die naam Angel, vertel Bea.

Beandri en Bea Booysen Foto: Albert Bredenhann

“Ons hele gesin het die aand lekker saam gekuier en almal is baie bly sy is terug by die huis. Sy het ’n goeie nag gehad en ons glo dit gaan elke dag net beter word. Sy moet volgende week gaan vir x-strale van haar longe by Sunninghill-hospitaal en dan ook die pediatriese pulmonoloog gaan sien. Sy het nog baie pyn, maar sy doen haar long-oefeninge en moet nog weer oefen om te kan loop.”

Die Booysens beplan ook om haar na ’n spesialis te neem om haar regterskoene te laat opbou.

Beandri saam met haar broers: Herman, Ruben en Jaco Foto: Albert Bredenhann

“Na haar heupoperasies is haar een been korter as die ander een en sukkel sy om gemaklik te stap. Haar beroerte in 2012 het ook haar regterkant affekteer wat dit ook moeiliker maak, maar sy is ’n yster en bly positief ten spyte van enige struikelblokke wat oor haar pad gegooi word. Ons is baie trots op ons ‘Angel’,” sê Bea.

Beandri het sedert die operasie merkwaardig verbeter, en het op 14 Oktober reeds begin stap en is van die suurstofmasjien afgehaal.

Sy moes die opehartoperasie ondergaan nadat aortastenose by haar gediagnoseer is.

Aortastenose is ’n harttoestand wat voorkom wanneer die aortaklep vernou, wat dit moeilik maak vir bloed om van die hart na die res van die liggaam te vloei.

Sy is as baba met Hutchinson-Gilford-progerie gediagnoseer, ’n siekte waar ’n lyer en haar organe vier tot agt keer vinniger verouder as die normale persoon van haar ouderdom.

Haar herstel het sé goed verloop, dat sy op 16 Oktober uit die intensiewe eenheid na ’n gewone kindersaal oorgeplaas is.

Bea was verheug daaroor dat Beandri weer in haar eie bed sou kon slaap asook bes moontlik vir haar 19de verjaarsdag op 20 November tuis sou wees.

“Ons wil ons dankbaarheid uitspreek teenoor die Here vir die leiding wat dokters, chirurge, verpleegsters, fisioterapeute, sosiale werkers en administratiewe personeel ontvang het om na ons ‘Angel’ te kyk,” sê sy.

Beandri en Pieter Booysen Foto: Albert Bredenhann

Beandri het verkalking in haar aorta en ander are in haar liggaam, het reeds drie beroertes en het nou reeds tien operasies ondergaan.

Die geliefde TikTokker wat meer as 270 000 volgelinge het, se geneesheer het reeds op 11 Oktober aan haar ouers, bevestig dat sy beter as normaal vorder.

Die operasie was ongeveer drie en half ure en daarna is sy na intensiewe eenheid vir hartpasiënte geneem. Sy het voor die operasie 13.1kg geweeg.

Bea het net lof vir die personeel en dokters van Maboneng Heart and Lung Institute by die Sunninghill-hospitaal.

 

“Hulle is puik en het mooi na haar gekyk,” vertel sy.

Alhoewel die gesin oor ’n mediese fonds beskik, is daar talle ander kostes waarvoor die skarebefondsing mee sal kan help soos bykomende ondersoeke. Teen Vrydag 18 Oktober het talle individue reeds bygedra op Back-n-Buddy om die totaal op bykans R73 000 te laat staan.

“Ons het ’n BackaBuddy vir haar gestig om te help met onvoorsiene onkostes, want ons weet nie wat die toekoms inhou nie,” vertel haar ouers.

– Kliek hier om na die skarebefondsingsblad te gaan.

TikTok Star Beandri Booysen Prepares for Life-saving Open-Heart Surgery

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button